Skip to content

Minder van my, meer van Hom

January 20, 2012

Die doel van jou geestelike lewe is totale oorgawe aan God. Dis wanneer Hy alles word en jy niks.

Here, ek moet minder word, U moet meer word! Dit is die hoofdoel waarna ons as Christene elke dag streef. Aan die einde van elke dag moet daar minder van onsself oorbly en meer van Christus in ons lewens sigbaar wees. Ons moet elke dag al hoe meer afhanklik van God raak. Matteus 5:3-9 sê – Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

Verstaan jy dit? Die doel van jou geestelike lewe is totale oorgawe aan God. Dis wanneer Hy alles geword het, en ek niks. Nou ‘n belangrike deel van hierdie afsterwe van die eie-ek is ook die neerlê van hoogmoed. Hoogmoed was die eerste sonde waarvan ons in die Bybel lees – Lucifer wou net soos God wees, om die waarheid te sê het hy homself hoër as God geag.

Sedert die sondeval is die mens ook van nature hoogmoedig, met ander woorde sy lewe draai rondom homself en sy eie gewin. Die probleem met hoogmoed is dat dit lei tot baie ander sonde, byvoorbeeld liefdeloosheid, jaloesie, afguns, skinder, twis en die lys gaan aan. Dis alles sondes wat daaroor gaan om die eie-ek tevrede en gelukkig te hou. Dis alles dinge wat oor my eie belange gaan. Ek,ek,ek!

Nou hoe voel God oor hoogmoed?
1 Petrus 5:5 sê dat God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. God weerstaan hoogmoed! Die teenoorgestelde van hoogmoed is nederigheid. Jesus self het ons kom wys hoe nederigheid lyk toe Hy gekom het om mense te dien en Sy lewe vir hulle af te lê. God het ‘n behae in nederigheid en afhanklikheid. Net soos wat hoogmoed lei tot allerhande sonde, lei nederigheid tot ‘n lewe wat God eer. Dit lei tot afhanklikheid van God, liefde, geduld, vergifnis, genade, meegevoel en diensbaarheid. Andrew Murray het altyd gesê dat God se seën loop afwaarts soos water en versamel by dié wat die laagste is en die hoogmoediges ontvang dit nie.
Nederige mense bly afhanklik van God, bly gehoorsaam, bly in verhouding, bly dankbaar. Nederigheid weet wat genade is en bewys ook genade aan ander. Prakties beteken nederigheid om ander met respek te behandel, om ander mense eerste te stel en ook om ander te dien. Nederigheid is om soos Jesus te wil wees. Moet nooit vergeet dat die pad op, is die pad af nie!

Nederigheid het ook alles te doen met die kruis wat ons almal moet opneem. Dis vir ons almal ‘n stryd want ons moet by die einde van onsself kom. Jesus sê in Lukas 9:23 – As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg, want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou.

As jy nie jou kruis opneem nie, kan jy nie ‘n dissipel wees nie. Voordat ons hierdie besluit kan neem, is dit belangrik om eers die koste te bereken om waarlik ons lewe neer te lê. Die kruis in Jesus se tyd was ‘n simbool van teregstelling soos wat ons vandag die galg of die elektriese-stoel het. Die kruis dui dus altyd op die dood – dink aan die skrikbeeld van iemand wat in die Romeinse-tyd ‘n kruis op sy rug gedra het: verlam deur pyn en vrees, omring deur soldate en ‘n skreeuend menigte. Iemand met ‘n kruis op sy rug is op pad na sy dood. Iemand met ‘n kruis is so goed soos dood!
Jesus se kruis beteken Jesus se dood en my en jou kruis dui ook op ‘n dood wat ons moet sterf. Maar die kruis beteken ook ‘n lewe van sterwe! Dit beteken dat jy elke dag moet sterf, jy moet elke dag besluit om nee te sê vir jou eie wil en jou eie ek en ja te sê vir God.

Maar wat beteken dit nou eintlik om te sterf? Dit beteken dat jou ou lewe verby is, maar jy lééf nuut vir God! Aan die kruis hang jou ou lewe wat vir altyd verby is. Jy is dood vir jou ou natuur, die vlees en die self. Aan die kruis hang jou ou sondige natuur saam met jou belange en regte. Jy leef nie meer nie, maar Jesus leef in jou! Dit beteken ook dat jy reken jouself dood vir die sonde. Sonde het nie meer ’n houvas op jou nie. Jy kan ook nie meer sondig nie en jy is ook nie meer ‘n sondaar nie!

Jesus se kruis word nou jou kruis en soos wat Hy sy lewe vir jou aflê, so lê jy jou lewe vir Hom af! Dit is die koste wat jy moet bereken voordat jy besluit om Jesus se dissipel te word. Is jy bereid om jouself te verloën? Om in jouself te sterf is die eerste stap wat jy neem om waarlik te leef soos wat God bedoel het vir jou om te leef. Gee Hom die kans en Hy sal jou wys hoe om te lééf!

My lewensbeker loop oor!

November 3, 2011

deur Johan Beukes

Kan jy doen met ekstra vreugde in jou lewe?

Om uit te mis op vreugde, is om uit te mis op ‘n rede vir jou bestaan. Is daar iets binne in jou wat sê, maar dit kan nie wees nie? Het jy geweet dat God die vreugdevolste wese in die heelal is? Regtig? Wees vreugdevol want dit is God se wil vir jou!

Ek het hierdie dinge spesifiek genoem omdat ek wil hê dat jy dadelik na jou eie lewe moet kyk en wonder of jy nie dalk kan doen met ekstra vreugde nie. .Wat is vreugde en waar kan jy nog van dit kry?

As jy ‘n foto van vreugde kon neem, hoe sou dit gelyk het? Watter foto sal jy gebruik om dit voor te stel? As jy die Bybel lees dan kom jy agter dat dit vol sketse van blydskap is. Neem Galasiërs 5:22 byvoorbeeld wat praat van die vrug van die gees en hoe blydskap deel is van hierdie pakket. Die belangrikste ding wat jy moet weet van blydskap is dat dit nie gekoppel is aan ‘n spesifieke gebeurtenis nie. Met ander woorde, die blydskap is aanhoudend en selfgenererend. Jy ervaar hierdie blydskap in elke oomblik van die dag en dit gaan nooit weg nie.

Die ander prentjie wat die Bybel vir ons skets is in Habakuk waar die boer sê dat al sou sy vyebome nie bot nie, daar geen druiwe aan die wingerde wees nie en sy oes misluk en die krale sonder beeste wees – sal hy hom steeds in die Here verbly.

So ‘n foto van vreugde is ‘n foto van ten spyte van. Daardie vreugde kan nie gekoppel word aan ‘n fisiese kondisie nie. Hierdie skrif sê dat as jy jou vreugde in die Here vind, kan moeilike omstandighede nie daardie vreugde steel nie. Dan die derde skets van vreugde is te vinde in Filippense 4:4 waar Paulus ons aanmoedig om ons altyd in die Here te verbly, maak nie saak wat nie.
Ons moet bly wees oor die feit dat ons Christene is! Partykeer lyk ons Christene alles behalwe bly juis omdat ons Christene is. Ek wonder of dit nie te doen het met die manier hoe ons na God kyk nie? Jy kan na God kyk as hierdie somber God wat vreugdeloos is en die heeltyd kwaad is. Aan die anderkant kan jy na God kyk as iemand wat vreugdevol is en die bron van alle blydskap is. Is God vir jou die mees vreugdevolste persoon in die heelal of is dit vir jou moeilik om in te dink?

Kan jy dink dat God ‘n vreugdevolle, dansende God is? Sefanja sê dat Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in Sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel! Een Engelse vertaling sê dat Hy in die rondte draai en in die lug opspring! As jy die rede kan vind hoekom God so bly is oor jou, dan kan jy ook soveel blyskap daarin vind. God is bly oor hoe Hy jou geskep het. Hy staan in verwondering oor jou en daar is ‘n vreugde wat in Hom opkom wanneer Hy na jou kyk want jy is Syne!

Ek sien God as hierdie borrelende vreugdevolle wese wat die bron van alle blydskap is. Ek dink God staan in vewondering oor Sy eie skepping elke dag. Ek dink elke dag as die son of die maan opkom, kyk Hy met diep vreugde na Sy skepping wat Hy so wonderlik gemaak het.

Ons Christene moet eintlik die mees vreugdevolste mense op aarde wees juis omdat die bron van vreugde binne in ons leef! Ongelukkig is ons geneig om ons eie vreugde uit te stel omdat ons dit koppel aan ‘n gebeurtenis of aan iets fisies. Ons dink dat as ons meer geld kry, gaan ons gelukkiger wees. Ons dink dat ons net getroud kan wees sal ons gelukkiger wees. Maar dis alles dinge wat net tydelike geluk bring. Dis nie ware geluk wat van binne in plaas van buite af kom nie. Dit sal jou dalk beter laat voel, maar dit sal jou nie noodwendig gelukkiger maak nie.
Navorsing het getoon dat daar drie goed is wat jou kan gelukkiger maak en as jy daarop fokus, kan dit jou geluk bevorder. Die eerste is jou verhouding met God, tweedens is vriende en derde is wanneer jy vir ander mense begin lewe.

Ek is oortuig daarvan dat vreugde net gebore word uit stilte. My lewe is opgedeel in twee dele – die een deel leef ek en die ander deel wag ek om te leef. Ek wag om klaar te maak met my graad, ek wag vir die vergadering om klaar te maak, ek wag vir die week om verby te gaan. . . Dis gewoonlik gedurende hierdie wag periode wat ons nie plek maak vir blydskap nie. Ons leef nie in die oomblik nie en ons mis uit op blydskap. Vir jou om weer bewus te raak van die lewe en die blydskap wat daarmee gepaardgaan, moet jy weer stil word. Jy moet weer stil raak voor die Here en tyd in Sy teenwoordigheid spandeer en net weer in kontak met jou bron kom.

Tweedens moet jy net weer tyd spandeer saam met die regte mense in jou lewe. Kom uit by die mense wat jou bou en jou weer energie en lus vir die lewe gee. Kom uit by die mense wat vir jou omgee en wat wil sien dat jy ‘n sukses van jou lewe maak. Ken jy sulke tipe mense? Dis net lekker om saam met hulle te wees! Hulle is vol vreugde en energie en as jy net ‘n rukkie in hul teenwoordigheid was, dan voel jy sommer ook beter.

Miskien moet jy ‘n vreugde-mentor kry – iemand by wie jy kan leer om meer vreugdevol te wees. Het jy al agtergekom dat mense wat vreugdevol is, is altyd dankbaar oor iets? Daar is altyd iets waaroor hulle dankbaar is wat meer gewig tel as die dinge waaroor hulle eerder ongelukkig oor is. Vreugde is ’n baie aansteeklike ding!

Laastens wil ek jou aanmoedig om die dissipline van feesvier aan te leer. Dis tyd wat jy neem om die lewe en die mense wat in jou lewe is te vier! In hierdie tyd maak jy weer kontak met die mense in jou lewe wat vir jou baie beteken en bou jy aan die verhoudings wat vreugde tot gevolg het. Dit laat jou besef dat elke goeie gawe wat jy ontvang het – of dit nou mense of dinge is – het jy van God ontvang. Vind die dinge wat jou weer laat besef watse groot gawe die lewe is! Miskien is dit kuier by vriende, miskien is dit om ‘n goeie boek te lees en miskien is dit om na jou gunsteling musiek te luister.

Wat daarmee saamgaan is die dissipline om iets van jouself te gee. Moeder Theresa het gesê dat as jy gevul is met vreugde, dan preek jy sonder om te preek. Is dit nie maar waaroor die hele Christelike wandel gaan nie? Om meer vreugdevol te wees om sodoende meer vreugde vir ander mense te bring? As dit jou fokus in die lewe is, dan loop my en jou beker oor van vreugde!
Mag jy iets ervaar van die vreugde wat net van God afkom. Mag jou lewensbeker oorstroom met Sy vreugde!

Om soos Jesus te wees

October 4, 2011

deur Dirkie van der Spuy

Om soos Jesus te wees beteken in die eerste plek om soos Hy te wíl wees. Dit beteken dat jy doen wat God wil en nie wat jý wil nie. Dit beteken dat jy van Hom leer, en doen wat Hy doen. Dit beteken dat jy bereid is om meer soos Hy te word en minder soos jouself.

Om ‘n volgeling van Jesus te wees beteken ook om Jesus te vra hoe om in elke situasie op te tree. Hoe moet jy optree wanneer jy ervaar dat mense jou aanval? Hoe moet jy optree in ‘n situasie by die werk waar jou baas jou ingeroep het en jou gevra het om jou gedrag te verander? Om ‘n dissipel van Jesus te wees beteken dat jy die vrymoedigheid het om vir Jesus te vra hoe Hy wil hê jy in elke situasie moet optree. Wanneer jy tyd in die Woord spandeer, begin jy beter verstaan hoe Jesus in elke situasie opgetree het en het jy ‘n beter begrip van wat dit beteken om soos Hy te wees.
Toe ek nog ‘n tiener was en met my ma stry gekry het, sou sy vir my gesê het: “Ek het nou klaar gestry. Gaan bid jy nou en vra vir Jesus wat sou Hy in jou situasie gedoen het.” Nou-ja dit was die einde van die storie gewees! My ma het geweet dat as sy niks met my kon uitrig nie, moes sy begin bid dat ek tog die stem van die Here reg sou hoor! En dit is presies wat ‘n dissipel van Jesus doen – dis om al hoe meer soos Hy te word en Hom te vra hoe Hy in ‘n sekere situasie sal reageer.

Voordat jy ‘n volwaardige dissipel van Jesus kan word, is daar een ding wat jy van Hom moet wéét. Hy het ‘n spesiale plek vir sondaars in Sy hart. Toe Hy op aarde was, het Hy hulle nie veroordeel soos die Fariseërs nie en hulle het maklik hulle sondige lewens agtergelaat en Hom gevolg.

Die kern van Jesus se menswees was Sy liefde vir sondaars. Daarom kan jy nie soos Jesus wil wees maar niks met sondaars te doen wil hê nie. Daarom kan jy nie ‘n dissipel van Jesus wees en nie ander mense met die liefde van God aanraak nie. Jesus het die mense wat Hom gevolg het saam met Hom op reis geneem. Hy het nie maar net aan ‘n sosiale netwerk behoort en ‘n wonderlike vriendekring opgebou nie. Jesus het mense aangeraak met God se liefde en vergifnis; Hy het hulle lewens handomkeer verander!

Jesus was gereeld saam met sondaars gesien en dit het die Fariseërs baie ontstel. Hulle kon nie verstaan hoe kon Jesus soveel tyd spandeer saam met mense met wie die Christene veronderstel is om eintlik niks mee te doen wil hê nie. Jesus het hulle dan geantwoord: “Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is.” Jesus het ook gekom vir mense wat siek is. Mense wie se verhouding met God en ander mense siek is. Mense wat fisies siek is en mense wat geestelik en emosioneel siek is. Jesus het ook vir hulle omgegee en na hulle toe uitgereik.

Sy absolute passie was om mense vry te maak van sonde. Dis hoekom Hy in die eerste plek aarde toe gekom het, dis hoekom Hy aan die kruis gesterf het! Jesus sê dat Hy gekom het om sondaars te vind en hulle vry te maak om die lewe te leef wat God wil hê hulle moet leef. Jesus self was sonder sonde gewees; Hy was die vlekkelose Lam sonder enige gebrek. Daarom was die dissipels se slagspreuk gewees, wees heilig want God is heilig. Wanneer ons Sy volgelinge is, dan beteken dit dat ons ook nie meer sondig nie. Dit beteken ook dat ons moet omgee vir mense wat nog steeds sondaars is en hulle nie soos die Fariseërs verwerp en veroordeel nie.

Matteus die tollenaar was een so ‘n sondaar wie Jesus gaan besoek het en by hom gaan eet het. Dis iets wat die kerk-mense van daardie tyd glad nie sou gedoen het nie. Die tollenaars het vir die Romeinse-regering gewerk en die Jode het hulle met ‘n passie gehaat. ‘n Tollenaar was as ‘n onrein mens gesien omdat hy besigheid met Romeine gedoen het en hulle gehelp het om die Jode vir geld uit te buit. Kan jy nou sien hoekom was hulle so ongewild gewees?

Op ‘n dag stap Jesus na Matteus toe en sê vir hom: “Volg My.” Hoekom doen Jesus dit? Want Jesus het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering. Matteus het heel moontlik geglo dat God nie vir hom omgee nie en dat hy te veel gesondig het vir God om hom te vergewe.

Vandaar af het Jesus na Matteus se huis gegaan en saam met hom aan tafel geëet. Al Matteus se vriende was ook by sy huis gewees. Al sy vriende was ook tollenaars en sondaars gewees. Jesus se dissipels was omring gewees met mense wie hulle eintlik nie mee wou meng nie. Ek kan net dink watse ongemaklike situasie dit moes gewees het! Hier kom ‘n klomp kerk-mense en kom eet saam met hulle aan tafel. Hulle, mense wat eintlik deur die kerk verban word, word nou skielik soos vriende behandel.

Elke keer wanneer Jesus saam met sondaars geëet, gedrink en gelag het, het hulle lewens verander. Jesus het die begeerte gehad om mense se harte aan te raak. Hy wou hulle gesond maak en vir hulle God se liefde, genade en barmhartigheid wys. Orals waar Hy gegaan het, het Hy mense se lewens verander en daarom het al hoe meer mense Hom gevolg.

Die dissipels het egter baie swaargekry want hulle moes sosiale interaksie hê met mense wie hulle niks van gehou het nie. Maar dis waaroor dissipelskap gaan – jy moet uit jou gemaksone kan stap en volg waar ook al Hy lei. Verstaan jy iets van wat dit beteken om soos Jesus te leef? Kan jy sien hoe dit gesentreer is rondom liefde vir ander mense?
Nadat Matteus Jesus se volgeling geword het, moes hy leer om dinge op Jesus se manier te doen. Hy moes elke nou en dan vir Jesus vra, hoe nou?

Is jy ‘n volgeling van Jesus wat soos Hy wil leef? Sê jy elke dag vir Jesus dat jy presies sal doen wat Hy wil hê jy moet doen? Jy sien ‘n dissipel is iemand wat ook doen soos wat Jesus gedoen het en gaan waarheen Hy gegaan het. Waarheen het Jesus gewoonlik gegaan? Na die mense wat Hom die nodigste gehad het. Wat het Hy gedoen? Hy het hulle nie geoordeel nie, maar hulle liefgehad.

As jy Jesus wil volg, gaan jy jouself moet gereedmaak om uit jou gemaksone te beweeg en in kringe in te beweeg waar gebroke en sondige mense is. Hy gaan begin stap met jou . . . Hy gaan begin beweeg met jou. Hy gaan na jou buurman toe stap en Maandag saam met jou werk toe gaan. Daar is mense daar wie Hy liefhet en by wie Hy nie kan uitkom behalwe deur jou nie.

Het Jesus al in jou sigbaar geword? Het hulle Hom al in jou raakgesien? Het hulle al Sy liefde deur jou beleef? As jy Jesus volg, gaan Hy jou na mense toe lei want dit is die spoel waarom Sy liefde draai – mense! God is lief vir mense . . . want so lief het God die wêreld gehad!

Daar is iemand wat God wil aanraak met jou hande en voete, Hy wil jou gebruik om vir iemand te wys hoe Sy liefde lyk. Maak jou oë oop en kyk om jou rond na iemand wat nog nie God
se liefde in Sy lewe ervaar het nie en begin vir daardie persoon te bid en vra dat God jou gebruik om Sy liefde met hulle
te deel! || M

Vat ‘n kans en vertrou God

September 20, 2011

deur Gary Kieswetter
Baiekeer gee God vir ons ‘n venster van geleentheid, maar ons maak nie daarvan gebruik nie omdat ons gesindheid nie reg is nie.

God wil jou ‘n venster van geleentheid gee om iets met jou lewe te doen waarop jy trots kan wees. Jy dink dalk by jouself dat daar niks meer is om voor te lewe nie. Dalk sien jy nie kans vir die dag van môre nie. Dalk is jou huwelik vir jou ‘n verleentheid. Baie mense is vir hulleself ‘n verleentheid! Party mense se opvoeding is vir hulle ‘n verleentheid as hulle omring word deur hoogs geleerde mense. Vir party mense is hul werksituasie ‘n verleentheid omdat hulle eerder ‘n meer gesiene pos wou beklee het.

God wil graag jou verleentheid in ‘n geleentheid omskep . . .
Baiekeer gee God vir ons ‘n venster van geleentheid, maar ons maak nie daarvan gebruik nie en ons bereik nie daarmee wat God vir ons bedoel het nie. Een van die redes is ons gesindheid wanneer dit kom by die geleenthede wat daar vir ons gegee word.

Dawid se vrou, Mikal, was iemand wie se negatiewe houding gemaak het dat sy op baie van God se seëninge uitgemis het. Toe die verbondsark die stad van Dawid binnekom, was Dawid buite homself van vreugde gewees. Hy het letterlik rondom die ark gedans en God geloof en geprys op ‘n spontane, kinderlike wyse. Hy het hom min geskeel oor wat ander mense van hom dink. Hy was net homself gewees . . . Dawid het die geleentheid aangegryp om die teenwoordigheid van God met alles wat in hom is, te verwelkom!

‘n Koning is gewoonlik iemand wat op ‘n statige manier optree, veral voor die volk . . . Maar, toe Dawid die ark sien, het hy vergeet dat hy ‘n koning is en het homself meer soos ‘n opgewonde kind gedra.

Sy vrou, Mikal, het hom deur die venster dopgehou en was glad nie ingenome met sy gedrag nie. Die Bybel sê dat sy het hom in haar hart verag. Sy uitbundigheid en opgewondenheid was vir haar ‘n pure verleentheid gewees omdat sy self nooit só sou optree nie. Sy het Dawid verag oor die manier waarop hy God geloof en prys het.

Hoe op dees aarde is jy veronderstel om die lewende God vir jouself te hou?! Jy kan nie eens masels vir jouself hou nie! As jy masels het weet almal daarvan want dit slaan orals oor jou lyf uit! Nou dieselfde het met Dawid gebeur; hy was só opgewonde omdat die ark in die stad is, dat hy dit net nie vir homself kon hou nie.

As God nie sigbaar is in die manier hoe jy dink, doen en praat nie, dan is die kanse baie goed dat Hy nie aktief in jou lewe is nie. Jy is dan besig met ‘n vorm van godsdiens wat maar net ‘n masker is.

Jy kan nie sê dat jy God dien, maar jou lewe getuig nie daarvan nie.

Dawid se optrede het Mikal laat sleg lyk en sy het niks daarvan gehou nie. Sy het nie gehou van die manier waarop hy God geloof en prys het nie want dit was nie haar manier van dinge doen nie. Sy kon nie indink dat iemand van sy aansien homself so laf in God se teenwoordigheid kon gedra nie!

Toe Dawid klaar voor die ark gedans het, was dit tyd om die volk te seën. Hy het vir hulle rosynkoek uitgedeel om te eet en die seën van God oor hulle uitgespreek. Toe al die verrigtinge verby is, het Dawid na die paleis teruggekeer om ook sy gesin persoonlik te seën. Mikal het hom natuurlik ingewag en het hom dadelik met haar woorde bygedam en vir hom presies gesê hoe ontevrede sy met sy optrede is. Dawid was ook nie op sy bek geval nie, en het vir haar gesê dat hy sál vrolik wees in die teenwoordigheid van God of sy nou daarvan hou of nie!

Dis interessant om te weet dat Dawid nooit enige kinders by Mikal gehad het nie. Omdat sy die kans wat sy gehad het om deel te hê aan God se seëning deur haar slegte gesindheid verspeel het, het God nooit haar baarmoeder geseën nie. Haar vooropgestelde idees van hoe jy jou moet gedra in God se teenwoordigheid en haar veragting vir Dawid se manier van aanbidding, het gemaak dat sy uitmis op die grootste seëning wat daar is – kinders! Sy het haar eie baarmoeder gesluit met haar slegte gesindheid.

Jou gesindheid bepaal of jy God se seëninge wat tot jou beskikking is joune gaan maak of nie. Jy kan in ‘n kerk sit en niks ontvang nie; jy kan die Bybel lees en niks wys word nie; jy kan saad saai en niks oes nie omdat die gesindheid van jou hart nie reg is nie.

Ongelukkig is daar die tendens onder ons Suid-Afrikaners om op ander neer te sien oor die manier waarop hulle God dien. Jy ontneem jouself van soveel seëninge omdat jy ander oordeel oor iets wat hulle vir God met hulle hele hart en siel doen. God het nie een manier van aanbidding bo ‘n ander manier gestel nie. Alle lof en aanbidding kom God toe, maak nie saak hoe ‘n persoon kies om dit te doen nie.

God wil in verhouding met ons wees. Hy wil hê dat ons kinderlik na Hom toe sal kom, sonder maskers en sekere protokol van hoe ons onself mag en nie mag gedra nie. God wil hê dat jy net jouself in Sy teenwoordigheid sal wees. Hy het behae daarin as ons spontaan voor Hom is.

Ons moet ook oppas wat ons sê want so baiekeer ontneem ons onsself van seëninge deur negatief en afbrekend oor ‘n situasie te praat. Die Bybel sê in Spreuke 18:21 dat lewe en dood in die mag van die tong is en hy wat dit graag gebruik sal die vrug daarvan eet. Jou mond is gewoonlik wat bepaal of iets vir jou ‘n verleentheid of ‘n geleentheid gaan wees.

Die meeste mense in hierdie lewe is meer spyt oor die dinge wat hulle nie gedoen het nie as die dinge wat hulle wél gedoen het. Mens berou meer die geleenthede wat jy gemis het as die foute wat jy gemaak het. Moenie dat jou mond veroorsaak dat jy die unieke geleenthede wat oor jou pad kom mis nie. Die lewe is te kort om negatiewe goed die hele tyd uit jou mond te laat kom.

Wat dink jy is die gevolge as jy aanhoudend loop vertel dat God nie gebede beantwoord nie? Dink jy dat daar enige iets goeds daaruit gaan kom? Jou ervarings en jou belewenisse van God bepaal nie wie God is nie. God beantwoord gebed, al is joune dalk nog nie beantwoord nie . . .

Net goedheid en guns sal jou volg al die dae van jou lewe . . . vertel jy gereeld vir almal dat dit net ‘n klomp snert is? Daar is mense vir wie hierdie ‘n absolute waarheid in hul lewe is en dit kan jóú waarheid ook wees, maar dan moet jy begin reg praat. Natuurlik is daar ook moeilike tye en dae wat daar meer vrae as antwoorde is, maar God het gesê dat Hy jou nooit sal begewe óf verlaat nie. Dis die wonderlike ding van God se goedheid, dit gaan goed al gaan dit sleg! God sê dat elkeen wat op Hom hoop sal nie beskaam staan nie.

Ander kere loop ons ook die seëninge van God mis omdat ons nie geduld het nie. As jou geduld te gou opraak, gaan jy vinnig tou opgooi en dink dat God se seëninge nie vir jou bestem is nie. Jy gaan ophou bid, ophou Bybel lees, ophou om in God se Woord te glo omdat alles nie dadelik gebeur wanneer jy wou gehad het dit moes gebeur nie.
Jy is dalk halfpad deur jou omstandighede, halfpad deur jou egskeiding, halfpad deur jou kanker toe daar skielik iets gebeur het wat gemaak het dat jy val en nou is die bietjie geloof wat jy gehad het morsdood. God het die vermoë om jou op te tel daar waar jy is en jou te versterk met Sy Woord en Gees.

Moet nooit ophou bid nie, al is jou geduld op. Wanneer jy moeg en afgemat is, is God net ‘n gebed vêr. Die Here sê: “Keer terug na die Here jou God sodat tye van verkwikking en verfrissing oor jou sal kom.” Jou moedeloosheid is direk aan jou biddeloosheid gekoppel. As jy nie bid nie, het jy nie hoop nie. Maar as jy aanhou bid, gaan jy aanhou hoop. Omstandighede moet nooit bepaal wanneer jy ophou bid nie. Die Bybel sê dat ons moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.

Dis nie altyd maklik nie, maar dis altyd moontlik! Want as jy moeg is om te bid en jy weet nie meer wat om te bid nie, dan sê God dat Sy Gees jou sal help om verborgenhede volgens Sy wil te bid. Hou aan om te bid, hou aan om te glo dat God jou verleentheid in ‘n geleentheid sal omskep.

Lewe met ‘n roeping

September 8, 2011

Ds Jimi le Roux

Wat is jou skeppingsdoel en hoe kom jy daar?

Die mens is oorspronklik geskape om te heers. Ons is geroep tot heerskappy! Genesis sê dat God ons gemaak het as Sy verteenwoordigers en in Sy beeld geskape het sodat ons kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.

God se bedoeling was dat ons onder Sy gesag oor Sy wêreld sou heers. Heerskappy lei tot ‘n betekenisvolle en doelgerigte lewe. Ongelukkig wil die mens van die begin af op sondige wyses sonder God heers. Voordat ons kan heers, moet ons eers God se gesag aanvaar. Dit beteken ook dat ons in die regte verhouding met God, ons naaste en die wêreld moet wees.

Die drie verhoudings waarin ons staan is die ek-God-verhouding, die ek-jy-verhouding en die ek-wêreld-verhouding. Dit was ook die drie verhoudings in die Tuin van Eden gewees. Maar toe die sonde kom, het al drie hierdie verhoudings in die slag bly lê. Daarom wil die Here ons help om spesifiek hierdie drie verhoudings weer te herstel. Wanneer hierdie drie verhoudings weer herstel is, kan ons ons skeppingsdoel vind en uitleef.

Eerste op die lys is ek-God-verhouding. Ons verhouding met God is deel van ons skeppingsdoel. Elke liewe mens se lewensroeping is om God vir ewig te aanbid. Om God te aanbid beteken dat ons Hom as God erken en eer, ons lewe aan Hom wy en Hom gehoorsaam en dien. Aanbidding is ook meer as net sang of gebed – dit is om ‘n lewe te leef wat God eer en verheerlik. Daarom sluit ‘n lewe van aanbidding ook die volgende in:
· Liefde en genade
· Integriteit en verantwoordelikheid
· Kreatiwiteit en vreugde
· Diensbaarheid en omgee

Soos wat ons verhouding met God al hoe sterker word, word ons al hoe meer bewus van Sy grootheid en mag. Ons word ook meer vertroud met Sy liefde asook ons eie kleinheid, tekortkominge en afhanklikheid. Ons probeer ook om minder altyd alles te verstaan en uit te redeneer en aanvaar meer die misterie en paradokse van die lewe. Ons word ook minder veroordelend oor ander mense en meer verdraagsaam en genadig.

Ons leef in groter verwondering en met meer geduld. Ons verstaan nie altyd nie, maar ons vertrou. Ons waardeer meer, bewonder meer, aanvaar meer. Ons beleef meer. Ons word kleiner, laer en minder en Hy word groter, hoër en meer. Ja ons word meer soos ‘n kind by die Vader.

Volgende is die ek-jy-verhouding. Jy is ook geroep om met ander mense saam te leef en lief te hê. Om lief te hê is deel van jou geloof en jy mis hierdie doel as jy nie by liefde kan uitkom nie. Al jou godsdienstige oefening beteken absoluut niks as jy nie liefhet nie. As jy nog jonk in jou geloof is, dan leef jy baiekeer selfsugtig – jy dink jou geloof is daar om jouself op te bou met groter seëning en voorspoed. Hoe meer jy op die geestelike pad vorder, hoe meer vergeet jy van jouself en hoe meer leef jy vir ander.

Jy gaan nie die betekenis van die lewe ontdek deur vir jouself te leef nie, maar vir ander! Om ander lief te hê, is om ander te dien en eerste te stel. Galasiërs sê dra mekaar se laste en doen goed aan alle mense. Om ander lief te hê sluit ook in om saam met ander mense in vrede te leef en saam te bid, saam te eet, saam te droom, saam te sukkel en saam skouers te skuur. Dit beteken ook om jou tyd, geld en moeite in ander mense te belê.

Die laaste verhouding is die ek-wêreld-verhouding. Jy is geroep om in die wêreld te wees wat jy kan wees en te word wat die Here jou geskape het om te word. Daar is niks daarmee verkeerd om jou potensiaal te wil uitleef nie, inteendeel, dis jou goddelike roeping. Om daarby uit te kom moet jy iets van jouself ontdek: Wat is jou persoonlikheid? Is jy ‘n ekstrovert of ‘n introvert, emosioneel of minder só. Is jy mens- of taakgeoriënteerd? As jy hierdie dinge weet, weet jy al meer waar jy inpas in die lewe en wat jy kan doen en nie kan doen nie. Vind uit wie is jy.

Wat is jou passie? Jou passie is dit wat jy die graagste doen. Dit wat jy sal betaal om te doen. Dit wat jou energie gee en nie energie verg nie. As jy dit weet kan jy beter besluit wat om met jou lewe te doen.

Wat is jou gawes? Wat kan jy vir die Here doen? Jou gawes gekombineer met jou passie en jou persoonlikheid stel jou in staat om iets uniek vir God te doen. As jy jou gawes beoefen, is jy in die bediening en op die plek wat die Here vir jou beplan het.

Wanneer jy jouself is, word jy wat jy kan word, en doen jy wat jy kan doen. Dis wanneer jy waarlik gelukkig is! En meer, dan is jy die bruikbaarste vir die Here, vir ander en die wêreld. Die Here roep jou om jouself te wees. Moenie iemand anders probeer wees nie – wees meer jý!

Jy is geroep om te heers. Maar jou heerskappy is altyd onderworpe aan God se gesag. Dis onderwerping! Jou heerskappy beteken ook nie dat jy oor ander moet heers nie, want ons is geskape om sáám te heers. Daarom leef ons in liefde saam en help ons ander om ook te heers.

En dan mag jy en móét jy word wat jy kan word. Dis dan wanneer jy ‘n betekenisvolle lewe leef. Hiertoe is jy geroep!

God my eerste liefde!

July 11, 2011

deur Gary Kieswetter

Alles wat ek doen en sê vloei vanuit my gemeenskap met God. My liefde vir God maak dat ek tyd saam met Hom wil spandeer en dat ek elke dag Sy stem wil hoor.

Is gemeenskap met God nog op ons van toepassing vandag? Gemeenskap is hierdie baie formele woord wat mens amper ongemaklik laat voel. Maar wat dit eintlik beteken is om ‘n intieme en spontane verhouding met God te hê. Dit beteken om een te word met God deur Sy Woord en Sy Gees.

Die Bybel sê in 1 Korintiërs 1:9 dat God ons geroep het tot gemeenskap met Hom. Met ander woorde, God wil hê dat ons een met Hom moet word. Ek sê nooit vir mense dat ek vir God werk nie – om vir God te werk is om ‘n amp te beklee en sekere verantwoordelikheid na te kom. Om ‘n roeping op jou lewe te hê en om beroep te word is twee verskillende dinge. My verhouding met God is veel dieper en intiem om te kan sê dat ek vir Hom werk.

Alhoewel die Here my nie geroep het om vir Hom te werk nie, het Hy my wel geroep om sáám met Hom te werk en Sy Naam te verheerlik en Sy Woord te verkondig orals waar ek gaan. 1 Korintiërs 3:9 sê dat ons God se medewerkers is! Wanneer jy God se medewerker is, werk jy en God sáám. Markus 16:20 sê dat toe die dissipels uitgegaan het om orals te preek in die dorpies, het Jesus saamgewerk en die woord bevestig deur tekens en wonders daarop te laat volg. Kan jy sien dat Jesus aktief saam met die dissipels gewerk het? Hulle was een in die gees gewees en het dieselfde doel nagestreef – en dit was om die Goeie Nuus aan die wêreld te verkondig en om die siekes te genees!

Ons is ook nie eerstens geroep om mense te bedien nie. Ons is eerstens geroep tot gemeenskap met Jesus Christus onse Here. Jesus sê ook in Lukas dat Hy nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien. Is dit nie wonderlik dat ons Heiland nie iemand is wat net agteroorsit en wag om bedien te word nie? Nee Hy kom self af aarde toe om mense te bedien al is Hy die allerhoogste God! Dan kom ons mense met ons puntestelsel en probeer Sy guns wen deur goeie werke en onsself as onwaardig te beskou. Deur die verdienste van Jesus Christus het ons reeds guns by God gekry en ons kan met vrymoedigheid na Sy troon van genade gaan.

As jy nou eerlik vir jouself moet antwoord, hoeveel tyd spandeer jy alleen saam met God? Hierdie vraag is nie veronderstel om jou skuldig te laat voel nie, maar eerder om jou objektief te laat kyk na jou verhouding met die Here. Ons is só gewoond aan kitsoplossings en ‘n vinnige lewenstyl, dat ons werklik sukkel om kwaliteit tyd saam met God te spandeer.

Dis vir my hartseer om te sien dat predikers kan klaargemaakte preke koop wat hulle weer netsó aan hulle gemeentelede kan oordra. Jy het nie iemand anders se preek nodig as jy ‘n intieme verhouding met die Here het nie. Jy kan elke dag ‘n vars Woord uit die hart van God ontvang as jy bereid is om vir Hom tyd te maak!

Ek kan nie anders as om entoesiasties te raak as ek oor gemeenskap met God praat nie! Entoesiasties in die Grieks beteken, in God. Wanneer jy in God is en Hy is in jou, kan jy nie anders as om opgewonde en energievol te wees nie! Die Engelse woord vir gemeenskap is “fellowship” wat dalk ‘n beter beskrywing is van wat dit waarlik beteken. Ons grap altyd om te sê dat dit beteken “two fellows in a ship that rows together in harmony to reach the same destination.”

Kan jy sien hoe dit weer op eenheid neerkom? As jy God se seën in jou huwelik of in jou kerk soek, het jy net nodig om in eenheid met die mense om jou te leef, want waar eenheid is, gebied God Sy seën. Dan hoef jy amper nie eers vir seëninge te bid nie!

Alles wat ek doen en sê vloei vanuit my gemeenskap met God. My liefde vir God maak dat ek tyd saam met Hom wil spandeer en dat ek elke dag Sy stem wil hoor. Jy kan nie God se hande en voete wees as jy nie Hom as die eerste liefde in jou lewe toelaat nie. In Openbaring spreek God die gemeente aan en Hy sê vir hulle dat hulle hul eerste liefde verwaarloos het. Die nuwe vertaling sê dat hulle Hom nie meer só liefhet soos aan die begin nie.

Om God jou eerste liefde te maak, moet jy eerstens Sy Woord ten volle gló en nie sekere gedeeltes daarvan betwyfel nie. Dit is vir my baie hartseer wanneer ek sien hoe mense God se Woord minderwaardig ag en eerder luister na die opinies van geleerdes wat lankal God as hul eerste liefde verlaat het.

As jou liefde vir God verflou, dan veragter jy in die genade van God. Is dit nie só dat alles wat ons van God ontvang, uit genade is nie? Om te dink dat jy in genade kan veragter is skrikwekkend! Ons Suid-Afrikaners kan waaragtig nie bekostig om met minder genade klaar te kom nie! Onthou jy hoe entoesiasties jy was oor die Woord toe jy net tot bekering gekom het? Jy kon nie genoeg van die Woord kry nie; jy kon nie uitgepraat raak oor hoe goed die Here vir jou was nie. Die dankbaarheid vir alles wat Hy vir jou gedoen het, het spontaan uit jou uit geborrel. God hunker weer na daardie opgewondenheid in ons gees. Hy wil hê dat ons Hom weer moet liefhê soos aan die begin!

Ek het nog nooit God met my fisiese oë gesien nie, maar ek ken Hom redelik goed omdat Sy Woord my passie is!

Ek is één met God omdat ek in Sy Woord bly en Sy Woord in my bly. In Johannes 17 bid Jesus en vra Hy die Vader dat ons een met Hom sal wees soos wat Hy en die Vader een is. Ek is oortuig daarvan dat God ons Afrikanernasie gaan kom besoek op ‘n manier wat ons nog nooit van te vore gesien het nie! God wil hê dat ons moet besef wie Hy is en wie ons in Hom is.

Om alleen in God se teenwoordigheid te wees, is die wonderlikste plek om te wees! Jy is God se oogappel, hoe kan jy dan nou nie tyd met Hom wil spandeer nie? Wanneer jy een is met God kan jy Hom enige iets vra. God sal altyd vir jou strategie gee wanneer jy jouself in die pekel bevind. Kyk maar na die kere wat die Here vir Dawid strategie gegee het om sy vyande te oorwin. Dawid het met elke veldslag eers vir God gevra waar, wanneer en hoe hy die vyand moet aanval en hy het elke keer as oorwinnaar uit die stryd getree. Nie een keer het Dawid die vorige keer se strategie gebruik en gedink dit sal outomaties werk nie. Omdat Dawid so naby aan God geleef het, het hy die vrymoedigheid gehad om elke keer ‘n nuwe strategie te gebruik soos God dit aan hom geopenbaar het.

Johannes sê in 1 Johannes 1:3 dat hy alles wat hy en die dissipels gesien en gehoor het aan die mense verkondig het sodat hulle ook gemeenskap met hulle kan hê; en hulle gemeenskap is met die Vader en met Sy Seun, Jesus Christus. Die Bybel sê ook vir ons dat ons hele lewe moet daaraan gewy wees om die drie-eenheid van God te ken. Om God te “ken” in die Grieks beteken om één te word met Hom. Paulus se grootste begeerte was om God nog beter te ken as wat hy reeds het!

Johannes gaan verder aan om te sê dat as ons met God gemeenskap het,maar in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen ons nie die waarheid nie. Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Christus reinig ons van alle sonde. Die feit dat jy een is met God maak dat die bloed van Christus jou gedurigdeur reinig al het jy gefouteer en gesondig. Ek kan nie verstaan hoekom mense skrikkerig is om gemeenskap met God te hê nie – kyk net al die voordele!

God het jou ook geroep om gemeenskap met Hom te hê. Hy wil jou graag met Sy Woord bedien sodat jy die volheid van Sy godheid kan beleef. Al wat tussen jou en intimiteit met God kan staan, is jou eie minderwaardigheids-kompleks en inhibisies. Jy kan met vrymoedigheid na die troon van genade gaan – sonder enige skaamte of veroordeling. Sy deur staan vir jóú oop! Jy is Sy oogappel en Hy wil so graag Sy goedheid en guns aan jou bewys!

Bybelresensie – Die Evangelie van Johannes

July 11, 2011

deur Rochelle Goosen

Hierdie boek bevat die hart van ons geloof wanneer Johannes sê dat God die wêreld so lief gehad het, dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom gló die ewige lewe sal hê.

Die Evangelie van Johannes, die dissipel vir wie Jesus baie lief was, wys op Jesus as God die Vader se enigste Seun wat mens geword het (Joh. 13:23). Jesus het voortdurend die aandag van Homself na die Vader verskuif. Hy het gesê: “Ek het van die hemel af gekom nie om My wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het” (Joh. 6:38). Jesus het ook gesê: “Wat Ek die mense leer, kom nie van Myself af nie, maar van Hom wat My gestuur het” (Joh. 7:16).

Toe die kruisiging nader kom, het Jesus gebid: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik U Seun, sodat die Seun U kan verheerlik” (Joh. 17:1). Die Vader sou verheerlik word deur bekend gemaak te word. Jesus sou binnekort deur Sy dood as die Redder van die wêreld bekend word. Dus sou gelowiges God deur Jesus ken – As julle My ken, sal julle My Vader ook ken. Wie My sien, sien die Vader” (Joh. 14:7).

Soos die Vader en Seun een is, het Jesus gebid dat alle gelowiges ook eensgesind sal wees; “dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het” (Joh. 17:21). Eensgesindheid is dus ‘n getuienis van Christus. Jesus het die nodige krag en salwing vir hierdie bonatuurlike eensgesindheid voorsien in Johannes 17:22 – Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is. Gelowiges se eensgesindheid is gewortel in onvoorwaardelike liefde. In Johannes 13:34 gee Jesus die nuwe gebod – Julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.

Jesus het gekom, en “uit Sy volheid” het ons almal genade op genade ontvang (Joh.1:16) – volheid van genade, blydskap, lewe, die Heilige Gees, en Christus. In Johannes 10:10 sê Jesus – Ek het gekom sodat hulle [almal wat in Hom glo] die lewe kan hê, en dit in oorvloed. Dit is God se verbond met ons: lewe in oorvloed!

Johannes die Doper het getuig dat Jesus die volheid van die Heilige Gees ontvang het: “God het Hom immers gestuur, en Hy spreek die woorde van God, want God gee Hom Sy Gees sonder enige beperking” (Joh. 3:34). Johannes 20:21 stel voor dat dieselfde onbeperkte volheid van die Gees vir gehoorsame dissipels van Christus beskikbaar is – Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.

Jesus het die dissipels geleer van God se liefde en gebooie, sodat Sy blydskap in hulle kan wees en hulle blydskap volkome kan wees (Joh. 15:11). Ware blydskap is gewortel in verhouding met die Heilige Gees en nie in aardse dinge nie. Jesus het herhaaldelik gewaarsku dat die wêreld Sy volgelinge sou haat. Maar Hy bied ewige vreugde aan Sy volgeling wanneer Hy vir hulle in Johannes 16:22 sê – Net so is julle ook nou bedroef, maar as Ek julle weer sien, sal julle harte vol blydskap wees, en niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie.

Jesus se grootste vreugde was om die mens in verhouding met God die Vader te bring, selfs al was die Kruis die middel tot daardie doel. Blydskap is die gevolg van die besef dat om in onsself te sterf sal verseker dat ons uiteindelik deel hê aan Jesus se triomf!

Eie aan Johannes is die verwysing na die Heilige Gees as “Trooster”, “Helper” en “Voorspraak” (Joh.14:16). In Johannes 15:26 sê Jesus – Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig. Die oorspronklike woord vir “voorspraak” was ‘parakletos’, wat beteken ‘tot jou sy geroep’. Die woord dui op ‘n voorbidder, trooster, helper, verdediger en raadgewer. In onbybelse literatuur beteken ‘parakletos’ ‘n advokaat wat namens ‘n ander in die hof verskyn.

In Johannes 20:21 het Jesus gesê: – Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. Die oorspronklike Griekse woord vir “gestuur” is ‘apostello’, waarvandaan ons die woord ‘apostolies’ kry. Dit beteken om iets opsy te sit vir spesiale gebruik; om iemand toe te rus en te stuur met die volle ondersteuning en gesag van die een wat hom gestuur het. Toe blaas Jesus oor die dissipels en sê: “Ontvang die Heilige Gees!” (Joh. 20:22). Die bekragtiging vir die dissipels se roeping het van die Heilige Gees gekom.

Jesus se liefde vir mense wat deur die samelewing verwerp was, kom ook duidelik in Johannes voor.

Samaria was ‘n area wat deur die Jode verag is, maar ons lees in Johannes dat Jesus deur Samaria “moes” gaan. Daar het Jesus ‘n Samaritaanse vrou by ‘n fontein ontmoet en in haar lewe ingespreek. Toe die dissipels dit sien, was hulle verstom, want dit was eintlik onvanpas vir ‘n rabbi om in die publiek met ‘n vrou te praat. Jesus toon dus opsetlikheid in sy versoenende liefde vir die vrou.
Dit was ‘n deurlopende kenmerk van Jesus se bediening: die wegbreek van tradisionele ‘godsdienstige’ praktyke om met Sy goddelike liefde mense, wat nie waardig van enigiemand se aandag geag is nie, aan te raak.

Jesus het die Samaritaanse vrou geleer oor aanbidding en haar gewys wat werklik belangrik is naamlik die hart- en geestestoestand. Hy het vir haar gesê, Johannes 4:23 – Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom sò aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. Die bron van hierdie tipe aanbidding is ‘n intieme, opregte verhouding met God. Om in die gees te aanbid, is nie meganies of vleeslik nie, maar word deur die Heilige Gees geïnspireer.

In verwysing na Sy dood, het Jesus gesê: “Nou kom die oordeel van hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek” (Joh. 12:3). Die woorde “van die aarde af verhoog” verwys na Jesus se kruisdood. Kruisiging was die Romeine se aakligste vorm van doodstraf, en is deur die Jode verag. In Deuteronomium 21:23 staan geskryf – Wie opgehang word, is deur God vervloek. Galasiërs 3:13 sê Jesus Christus het in ons plek ‘n vervloekte geword.

Die Kruis het Satan se onbetwiste heerskappy op aarde onttroon, want as gevolg van Jesus se bloed wat ons verlos, het hy niks om ons meer van te beskuldig nie. In Johannes 14:30 het Jesus gesê dat van die owerste van die wêreld, satan, geen mag oor Hom het nie.

Toe Pilatus vir Jesus dreig met die sogenaamde outoriteit wat hy oor Sy lewe en dood gehad het, het Jesus geantwoord: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie” (Joh. 19:11 ). Dis ook belangrik om te weet dat niemand Jesus se lewe geneem het nie, maar Hy het dit self neergelê, Johannes 10:17 – Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het.
Terwyl Jesus aan die kruis gehang het, het Hy uitgeroep “Dit is volbring!” en toe gesterf. Die Griekse tydvorm wat Hy gebruik dui daarop dat die versoeningswerk vir eens en vir altyd voltooi is en dat die gevolge daarvan blywend is!

Johannes bevat die hart van ons geloof wanneer hy sê dat God die wêreld so lief gehad het, dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Joh.3:16). Die woord vir “lief” is ‘agapeo’. Dit beteken onvoorwaardelike liefde. Dit is liefde as ‘n wilsbesluit, ‘n keuse. ‘Agapeo’ het nie gevoel nodig nie; dit is onoorwinlike welwillendheid teenoor jou naaste. Die woord behoort eksklusief aan die Christen-gemeenskap, want dit is die uitdrukking van God die Vader.

Die boek sluit af met Petrus wat na Johannes verwys, en vir Jesus vra wat dié se uiteinde sou wees. Jesus het ‘n raaiselagtige antwoord gegee: “As Ek wil dat hy in die lewe moet bly tot Ek weer kom, is dit nie jou saak nie. Volg jy My!” (Joh. 21:22). Die fokus hier is op die individualisering van die roeping tot dissipelskap. Die spesifieke details sal van persoon tot persoon verskil, maar die roeping tot gehoorsaamheid bly dieselfde. Elke gelowige is geroep om in die volheid van die Gees die waarheid van die koninkryk van God te leef en te verkondig! || M

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 180 other followers