Skip to content

Benut die guns van God

October 20, 2010

Benut die guns van God – deur Timothy Kieswetter

God se guns is nie ‘n sekere bedrag in jou rekening nie, want dan beteken dit dat God se guns gemeet kan word en dat dit ‘n limiet het. God se guns is wanneer Hy aan jou ‘n belofte maak. Dit is wanneer Hy jou belowe dat Hy vir jou meer het as wat jy op die oomblik het.

‘n Mens kry twee tipe beloftes. Die eerste tipe belofte is ‘n algemene belofte wat Hy aan almal maak en word gevind inDeutoronomium 30:19 – Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag. God gee aan Israel twee keuses, óf die lewe en seëninge, óf die dood en die vloek.

Wanneer jy tot bekering kom is jy klaar ‘n beter lewe gewaarborg. Dit beteken nie jou lewe gaan makliker wees nie. ‘n Christen se lewe is nie makliker nie, om die waarheid te sê die duiwel val ons meer aan. God gaan ons ook nie elkekeer uit ‘n moeilike situasie uithaal nie want dan gaan Hy sit met ‘n klomp rugraatlose Christene. Die enigste manier hoe jy ‘n rugraat gaan kry is wanneer die popo die fan tref. Nêrens in die Bybel staan dit dat Hy jou uit die dal van doodskaduwee sal haal nie. Die Bybel sê wel dat God saam met jou deur die dal van doodskaduwee sal gaan, dat Hy ‘n lig op jou pad sal wees.

Daar is baie Christene wat dink dit is arrogant om die lewe, seën en oorvloed te kies. As jy weet wat God van jou dink sal jy dalk arrogant voorkom. God sê dat jy die appel van Sy oog is, nie die katterak nie. God praat goed van jou, nie sleg nie. Ons moet vrymoedigheid voor God hê. Jy hoef nie die dood te kies nie, jy hoef nie die vloek te kies nie. Jy kan lewe en oorvloed hê, dit is God se belofte aan jou.

Ons moet die heersers van hierdie aarde wees, nie die duiwel se kinders nie. Die duiwel se kinders sit huidiglik met al die geld, nie die Christene nie. Dit is tyd dat die Christene die rykdomme van die aarde sal kry sodat ons hierdie wêreld vir God kan vat! God is op ‘n punt om die geld van die wêreld af weg te vat en dit vir Sy kinders te gee. Maar, Hy kan dit nie doen voordat ons nie geleer het hoe om met geld te werk nie. As ons nie weet hoe om geld reg te hanteer nie, gaan dit ons vernietig.

Die tweede tipe belofte is ‘n persoonlike belofte wat God spesifiek aan jou maak. Hierdie belofte kan gekoppel word aan jou doel, jou visie en jou purpose in life. God het ‘n plan met jou geboorte gehad. God het jou beplan al het jou ouers jou dalk nie beplan nie! Jy het nie in hierdie wêreld in gekom sonder talente of sonder dat God vir jou iets groter beplan het nie. Jy weet dalk nog nie wat jou doel in die lewe is nie. As dit die geval is, is dit baie belangrik dat jy met God sal praat en by Hom sal uitvind wat Hy wil hê jy moet doen want Sy guns lê daarin dat jy in Sy wil sal wandel.

Toe die Here vir my my eerste persoonlike belofte gegee het, het ek geskrik. Hy het vir my gesê: “Timothy, ek gee vir jou jou doktersgraad”. Ek was toe nog op skool en het gedink: “Cool Here!” Die Here antwoord my toe: “Kry eers jou matriek”. Ek was toe baie disappointed want die Here het my dit mos belowe.

God het bedoel dat ek daarvoor moet werk. Voordat God my doktersgraad vir my gaan gee moet ek eers vir drie jaar gaan swot, dan my honeursgraad doen, dan my meestersgraad en dan kan ek eers my doktersgraad kry.

Wanneer God jou iets belowe beteken dit nie dat Hy dit dadelik vir jou gaan gee nie. Wanneer God jou iets belowe het hy jou klaar toegerus met die nodig grysstof om dit te bereik. Toe God vir my gesê het dat Hy vir my my doktersgraad gee het Hy bedoel dat ek genoeg breins het om dit te behaal. Wanneer God jou iets belowe moet jy jouself ontwikkel sodat jy kan bereik wat Hy jou beloof het.

Dit is waar die meeste Christene die pot mis sit. Party mense bid vir ‘n kar en wag dan dat dit net skielik uit die hemel gaan val. Niks val uit die hemel nie, veral nie karre nie. Ons soek almal easy money en quick cash by God. Wanneer jy vir iets bid, gaan God vir jou ‘n plan gee hoe om dit te kry. Dit is verseker waar dat God jou bonatuurlik kan seën met ‘n huis of ‘n kar of sò. Maar, oor die algemeen sal God vir jou ‘n deur oop maak om te kry waarvoor jy gevra het en dan is dit jou plig om die geleentheid aan te gryp.
God het ‘n persoonlike belofte aan Israel gemaak. Hy het hulle hul eie land belowe, dit was God se guns aan Israel. God se guns beteken dat Hy vir jou ‘n pad sal maak sodat jy by dìt kan uitkom wat Hy aan jou belowe het.
Dit is baie belangrik dat wanneer God aan jou ‘n belofte gee, jy Sy tydsberekening in ag sal neem. Baiekeer gee God vir ons ‘n belofte en dan hardloop ons te vinnig vooruit of te stadig agterna omdat ons nie Sy tydsberekening in ag neem nie. Wanneer jy tè vinnig of tè stadig hardloop gaan jy moedeloos raak en jou visie prysgee. Wie het dan gewen as nog ‘n kind van God nie sy doel op aarde bereik nie? Ons moet ophou dat die duiwel wen. Al hoe ons dit gaan regkry is om te begin wandel in ons roeping sodat ons ons doel op aarde kan bereik. Daarin lê die guns van God.

Partykeer is God se guns meer sigbaar in sommige Christene se lewens as in ander s’n. Ons dink dan baiekeer dat God witbroodjies het. Romeine 2:11- Want daar is geen aanneming van die persoon by God nie. In ‘n ander vertaling sê dit dat God geen witbroodjies het nie. Dit beteken dat as God vir my kan seën kan Hy jou ook seën. Die sleutel tot God se seëninge lê nie in jou as persoon nie, maar in jou gehoorsaamheid aan Sy wette. God se guns, seëninge en oorvloed is nie in jou lewe omdat jy nice is of omdat jy dit verdien nie. Dit is daar omdat jy gehoorsaam aan God is.

God se seëning lê in die gehoorsaamheid van Sy wette. Veronderstel jy maak die verkeerde besluit in besigheid en jy speel bankrot. God het jou gewaarsku en vir jou gesê om dit nie te doen nie, maar jy het gekies om nogsteeds jou eie kop te volg. Nou sê jy ‘jammer’ en God vergewe jou jou ongehoorsaamheid. Gaan jou bankrekening nou ewe skielik weer vol geld wees? Dit is nie hoe dit werk nie. God sal jou sondes vergewe maar jy moet nogsteeds die gevolge van jou ongehoorsaamheid dra. Daarom is dit belangrik dat voordat jy ‘n besluit maak, jy by die Woord van God sal uitkom en wyse raad sal kry.

Wanneer jy nie God se guns in jou lewe ervaar nie, kan dit dalk wees omdat jy in ‘n Job-seisoen is. Jy mag dalk vir my sê: “Ek hou by al God se wette, ek gee my tiendes, ek saai, ek gee geld vir die armes, weduwees en kinderhuise. Ek raadpleeg die Here in elke besluit wat ek maak, maar ek sukkel nogsteeds. “Wat is fout?” Jy is heel moontlik in ‘n Job-seisoen. Die wonderlike ding van ‘n Job-seisoen is dat dit net ‘n seisoen is. Dit is nie permanent nie. God is net besig om jou karakter te bou sodat jou kapasiteit kan vermeerder en jy jou doel in die lewe kan bereik.

God se guns werk nie noodwendig volgens die you name it, claim it and frame it teorie nie. God se guns werk soos die outomatiese deure by ‘n winkelsentrum. Die deure is toe, en sodra jy nader stap, gaan die deure outomaties oop. Hoeveel effort moet jy insit om daardie deure te laat oopgaan? Jy het nie eers nodig om aan die deure te raak nie, jy het nie eers nodig om te weet wie die deure gemaak het nie, jy vertrou net dat die deure sal oopgaan. Al wat jy hoef te doen is om in die rigting van die deure te stap en naby genoeg daaraan te kom sodat dit kan oop gaan. Jy moet geloof hê sodat ‘n spesifieke deur in jou lewe sal oopgaan, en die deur sal oopgaan as jy in God se wil is. Hou op om by die huis te sit en te wag dat jou skip moet inkom.

Dit is soos die storie van die boer wat sy mooi plaas vir sy vriend gewys het. Die boer was baie trots op hoe sy plaas gelyk het en wat hy als reggekry het met die plek. Hy gaan wys toe die een dag sy hele boerdery vir sy vriend en sê: “kyk al hierdie landerye, is dit nie mooi nie?!” Sy vriend sê toe vir hom: “prys die Here, is Hy nie goed nie!” Die boer stap toe verder en wys sy vriend sy varke en sê: “kyk net hoe vet en gesond is my varke”, sy vriend haak af en sê: “wow, God is goed!” Na ‘n ruk raak die boer geïriteerd met sy vriend wat al die krediet vir God gee. Hy gaan wys hom toe laaste sy vyf-verdieping plaashuis wat hy self gebou het en sy vriend sê weer: “God is fantasties!” Die boer strip hom toe vir sy vriend en sê vir hom: “Weet jy wat? Jy moes gesien het hoe hierdie plaas gelyk het toe God alleen hier geboer het!”

God doen niks sonder ons nie. Hy kan vir jou al die beloftes in die wêreld gee, maar jy sal doodgaan sonder om een belofte in vervulling te sien kom as jy nie daaraan gaan werk nie. Daar is nie kortpaaie nie, jy moet daarvoor werk.

Ek kan geloof hê wat berge versit, maar ek gaan nogsteeds nie ‘n doktersgraad hê as ek nie daarvoor gaan werk nie. Geloof sonder werke is dood. Dit is nie dat jy geen geloof nodig het nie. Ek het geloof nodig om te glo dat God gesê het ek kan my doktersgraad kry. Nou moet ek daaraan werk en wanneer ek wil moed verloor, herhinner God my aan my doel, en dan werk ek weer. Na ‘n rukkie as ek weer discouraged raak, herinner God my weer aan my doel en word my geloof weer gebou en kan ek weer aangaan.

Dit is baie belangrik om nie die guns van God en jou roeping met mekaar te verwar nie. Nie almal is geroep om ‘n miljoenêr te wees nie, want nie almal het ‘n miljoen rand se visie gekry nie. God sal vir jou die begeertes van jou hart gee, maar nie ten spyte van die koninkryk nie. As God vir jou ‘n miljoen rand gee, moet jy by hom uitvind wat jy daarmee moet doen.

HOE OM JOUSELF IN ‘N POSISIE TE PLAAS OM DIE GUNS VAN GOD TE BENUT

Lukas 5:1 – En toe die skare by Hom aandring om die woord van God te hoor, gaan Hy by die meer Gennesaret staan en sien twee skuite aan die kant van die meer lê; maar die vissers het van hulle af weggegaan en was besig om die nette uit te spoel.

Ons almal se nommer een doel op aarde is om dissipels te maak. Die vraag is nou hoe gaan jy dissipels maak? Die Here kan jou dalk roep as ‘n dokter, want in daardie profesie sal jy die meeste dissipels maak. Sommige mense sal meer dissipels maak as hulle ‘n predikant word of miskien ‘n besigheidsman.

Toe Jesus by Simon Petrus kom was hulle besig om hulle nette uit te spoel en reg te maak. Jesus het nie in iemand se skip geklim met stukkende nette nie. As die nette stukkend is, is die boot ook heel waarskynlik stukkend. Omdat Simon Petrus besig was om te werk was hy in ‘n gunstige posisie en het dit daartoe gelei dat Jesus in sy besigheid ingeklim het. Petrus was besig om te doen wat sy hand gevind het om te doen. God klim nie in ‘n besigheid in waar daar niemand werk nie.
Lukas 5:3 – Toe klim Hy in een van die skuite wat aan Simon behoort het, en vra hom om ‘n entjie van die land af weg te vaar, en Hy het gaan sit en die skare van die skuit uit geleer. En toe Hy ophou met spreek, sê Hy vir Simon: Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak om te vang.En Simon antwoord en sê vir Hom: Meester, ons het die hele nag deur hard gewerk en niks gevang nie; maar op u woord sal ek die net laat sak.
Nadat Jesus in Petrus se besigheid ingeklim het, het Hy die orders begin gee. Jesus wou sien of Petrus bereid was om sy besigheid aan God oor te gee. Die eerste ding wat Jesus vir jou gaan sê wanneer Hy in jou lewe in stap is: “volg my”. Hy wil sien of jy eerder Sy wil as jou eie wil sal volg. Dit is ‘n toets, en jy beter dit slaag.

Lukas 5:5 – En toe hulle dit gedoen het, het hulle ‘n groot menigte visse ingesluit; en hulle net wou skeur. Petrus kon in daardie skip gesit het en gedink het: “ek is besig om my tyd te mors”. Jesus het dissipels gemaak uit Petrus se besigheid. Jou besigheid is veronderstel om jou bediening te ondersteun. Al is jy nie ‘n predikant nie, het jy ‘n bediening en moet jou besigheid jou bediening ondersteun. Nadat die koninkryk iets gekry het, sê Jesus vir hom om uit te vaar en sy nette te laat sak. Nou eers kom Petrus se beloning. Belê eers in die koninkryk voordat jy finansiële vergoeding vir jouself verwag.

As Jesus in jou besigheid gaan inklim, mag Hy dalk vir jou opdragte gee wat nie logies gaan sin maak nie. Die opdrag wat Jesus vir Petrus gegee het, het ook nie logies sin gemaak nie, maar Petrus het vir Jesus gesê: “op u woord sal ek die net laat sak.” Dit is geloof. Hy het geglo wat Jesus gesê het waar is, en toe spring hy aan die werk en gooi die net uit. Geloof en werke gaan die heeltyd saam in besigheid.

Die Bybel sê dat hulle net wou skeur. Petrus het die tweede skuit nader geroep om te kom help, en altwee skepe wou sink van die baie vis. Wanneer God jou seën sal daar genoeg wees vir almal. As jy God se seëninge vir jouself gaan probeer hou, gaan jou nette skeur en jy gaan sink. Jy gaan tien-teen-een bitter teenoor God, die Kerk en jou medemens eindig. Jy kan nie die guns van God vir jouself hou nie, dit is te veel, jou nette gaan skeur. Deel God se seëninge met mense. As jou hand toe is om te gee, is jou hand ook toe om te ontvang. As jou hand oop is om te gee, is jou hand ook oop om te ontvang.

Petrus moes gedink het dat hulle nou ‘n groot genoeg investment capital het om I&J te begin. Petrus was ‘n Jood, hy het dadelik die besigheids geleentheid raak gesien.

Lukas 5:5 – En toe Simon Petrus dit sien, val hy neer aan die knieë van Jesus en sê: Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige man! Want verbaasheid het hom aangegryp en almal wat by hom was, oor die vangs van visse wat hulle gemaak het; en net so ook vir Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeüs, wat Simon se maats was.

Jy sal verbaas wees wat God alles met jou wil doen. Jy sal verbaas wees wat jy saam met God kan doen. Petrus het voor Jesus se voete geval omdat hy nederig was. Hy het nie gespog en gesê: “Hey pappie! Check watse vis het ek gevang” nie. Hy het die vorige nag heelnag vis gevang en niks reggekry nie. Maar toe Jesus in sy besigheid in stap toe behaal hy ewe skielik sukses. Petrus het geweet dit was nie sy goeie visvang vermoëns wat hom in staat gestel het om al daardie visse te vang nie. As jy wil hê dat God jou moet seën moet jy nederig bly. Die oomblik wat jy hoogmoedig raak en dink dit is jy wat so grand en smart is, gaan jy baie vinnig af aarde toe kom, en dit gaan seer wees.

Lukas 5:10 – En Jesus sê vir Simon: Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense vang. En nadat hulle die skuite aan land gebring het, het hulle alles verlaat en Hom gevolg. Petrus het toe nie I&J begin nie. Hulle het hulle skuite net so gelos met die miljoen rand se investment capital. Hulle wou eerder vir Jesus volg. Petrus kon ‘n goeie besigheid met al daardie visse begin het. Hy kon die maklike pad gevat het. Maar, Petrus het besef dat daardie vangs te danke was aan die Man wat in sy besigheid ingeklim het. Hy het geweet dat as Jesus dit een keer vir hom kan doen, kan Hy dit weer doen. Geld het geen houvas op Petrus gehad nie.

God se guns is daar. Jy moet net gaan uitvind wat God se doel vir jou lewe is en daarin begin wandel. Moenie jaloers raak op ander mense se roepings nie. Jakobus sê dat ons nie moet begeer om baie leermeesters te wees nie, want daar word baie van hulle verwag. Moenie dink dat iemand met tien miljoen rand minder probleme as jy het nie, om die waarheid te sê, hy het meer probleme. Moenie dink dat jou probleme gaan weggaan as jy geld kry nie. Met elke rand wat jy kry, kry jy ‘n rand se probleme en stress saam met dit. Geld is nie die antwoord nie!

God wil jou seën sodat jy jou roeping op die aarde kan uitleef!

No comments yet

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: