Skip to content

Bruidegom

October 20, 2010

Bruidegom – deur Rhona Kieswetter

Die bruidegom se grootste begeerte is om saam met die bruid te wees.

Vir die afgelope maande was ek tot oor my ore toe in troureëlings. En tussen die heerlike chaos van al die  geskarrel, rondryery, goeters maak en rok-passings, was daar een feit wat gedurig na vore gekom het. Die parallel tussen wat hier gebeur en wat vir ons as bruid van Christus voorlê. So dikwels was ek oorweldig deur die wete dat my Hemelse Bruidegom besig is om dinge in plek te kry om daardie fees van alle feeste absoluut perfek te kry – vir my!
Ons nuwe seun is beroep na ʼn gemeente in Kuruman en moes reeds ʼn paar maande gelede daar begin. Dit het beteken dat hy en my dogter se verlowingstyd langafstand was en kon hulle slegs kort tydjies by mekaar kuier.

Sy het terug huis toe getrek en ons was eerstehands deel van die opwinding, afwagting, verlange, die voortdurende ‘gushing’ oor die bruidegom. Ek hoef nie eers die stywe telefoonrekening te noem nie!

Dit het my geseën om te sien hoeveel moeite die bruidegom doen om sommer ʼn hele dag te ry om net ʼn paar kosbare ure saam met sy toekomstige bruid te spandeer. Die bruidegom se grootste begeerte is om saam met die bruid te wees en andersom. Here, sien U ook só daarna uit om ewig saam met my te wees?

Ek word oorweldig met die besef dat Jesus, God in die vlees, my Sý bruid noem!  Om met God self te mag trou? Praat van ʼn perfect husband! Ek vra myself gedurig: Is ek ʼn waardige bruid vir die Koning van alle konings en tree ek op soos ʼn bruid in afwagting? Is ek passievol oor Hom?
So ek bid: Asseblief Jesus, herstel my eerste liefde! Ek wil U passievol liefhê en ʼn konstante begeerte hê om altyd by U te wees. Ek wil U behaag in alles wat ek doen en maniere soek om U te eer en gelukkig te maak.

Soms fokus ons so op die koninkryk dat ons skoon van die Koning self vergeet!   Kom ons gesels net weer met Hom, vertel Hom van alles in ons lewens. God het gekies om alles te doen binne die verband van verhoudings. Hy is Vader, Seun, Trooster, Broer, Vriend en Bruidegom! Bou net weer ʼn slag jou verhouding met Hom en vergeet vir eers van al die fieterjasies wat godsdiens van ons verwag. Praat, luister en lag – is dit nie wat ʼn verhouding laat slaag nie? Betrek Hom nie net by elke krisis nie, maar ook by die alledaagse vreugdes en vervelige takies. Hy wil vir ewig Sy lewe met ons deel! Natuurlik stel Hy belang in elke gedagte, hartseer, oorwinning of teleurstelling wat ons beleef – Hy is dan ons Bruidegom! Hy wil een met ons wees. Hy is daar om ons lief te hê!  Hy het dan as bewys van daardie liefde Sy eie lewe vir ons neergelê.

Hoe meer ons Sy aangesig aanskou, hoe meer word ons soos Hy. Hoe meer word ons ʼn waardige bruid, ʼn pasmaat en ʼn sielsgenoot vir die Koning van konings.  In 2 Korintiërs 3:18 leer ons: En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ʼn spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid… Volgens 1 Korintiërs 2:8 is Jesus die heerlikheid van God. Deur Hom te aanskou, word ons soos Hy!

In ʼn goeie verhouding is die fokus dikwels op die behoeftes van die ander persoon en nie jouself nie. 1 Kronieke 16:11 sê: Soek sy aangesig altyddeur. Moenie Sy hand soek vir dit wat Hy vir ons kan gee nie, of Sy krag om ons uit ʼn gemors te red of Sy guns sodat ons ʼn gemaklike lewe kan lei nie. Soek Sy aangesig! Dit spreek van verhouding. Wanneer ons Sy teenwoordigheid najaag begin ons  agterkom wat Hom bly en hartseer maak. Ons kom ook agter hoe Hy oor ons en ander voel.  Deur Sy heerlikheid te aanskou begin ons om soos Hy te lyk en op te tree.

Toe die groot dag wel aanbreek was die vreugde absoluut oorweldigend! Dit was onbeskryfbaar lekker en al die moeilike tye van wag val weg asof dit nooit gebeur het nie. Al wat saak gemaak het was dat hulle dit gemaak het en dat hulle nooit weer apart hoef te wees nie.
Jesus, so wil ek vir U my hemelse Bruidegom wag. Vol verlange, totaal uitverkoop, oorborrelend van liefde vir U. Ek wil gedurig maniere praktiseer om U beter te leer ken en altyd U aangesig te soek. Om uit te vind wat U sal bederf, wat U aanbidding en bewondering sal bring van almal wat ek mee te doen kry. Om te spog met U majesteit sodat ander U ook sal begeer. Om vervuld te wees in U teenwoordigheid, sekuur in U liefde, vertroos in U arms en oorvloeiend met U liefde. Sodat tot U kom, ek soos U kan wees vir ander mense wat U so nodig het! Tot ons vir altyd saam kan wees.

No comments yet

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: