Skip to content

Die geheim van ewige skoonheid

October 20, 2010

Die geheim van ewige skoonheid – deur Rhona Kieswetter

Ons moet nie net op ons uiterlike fokus nie, maar op die kosbare skat wat binne in ons is, naamlik Jesus.

Ons vrouens hou daarvan om mooi te lyk en ons hou van mooi goed. Vra maar vir menige mans wat al ure voor ? aantrekhokkie moes spandeer! Maar, waar kom hierdie begeerte om mooi te lyk vandaan? Kom ons gaan kyk na die begin van die skepping:

Genesis 2:9 – En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.

God het die bome mooi gemaak om na te kyk en lekker om van te eet. Kan jy sien dat God ook van mooi goed hou?! Jy hoef net om jou te kyk na die skepping, elke woud, strand of sonsondergang. So, ons kry dit van Hom! Een van die lekkerste dinge is om iets te skep, en as dit klaar is, terug te staan en dit te bewonder. Dit maak nie saak of dit ? blommerangskikking, ? skildery of naaldwerk is nie. Net so het God met groot genot, glo ek, alles gemaak wat bestaan en Hy het teruggestaan en dit bewonder. Hy het gesê dat dit goed was. God het rede om trots te wees op Sy skepping! Dit is werklik mooi om na te kyk.

Ek moet darem bysê dat toe God Adam alleen sien, het Hy gesê: “Dit is nie goed nie! Ek sal vir hom ? hulp maak wat by hom pas.” Nadat God vir Eva gemaak het, het Hy gesê: “Alles is baie goed!” God het die mens as die kroon van Sy skepping gemaak. Ons is die kroon van Sy skepping omdat Hy ons na Sy beeld geskape het. Ons is gemaak om die heerlikheid van God te reflekteer. Maar, die bome in die paradys was net te mooi, en Eva het, soos die spreekwoord lui, ons almal letterlik uit die paradys uit geëet! Nou, in plaas daarvan dat ons die heerlikheid van God uitstraal, word ons in sonde ontvang en gebore. In plaas daarvan dat ons in absolute vervulling, vrede, vreugde en skoonheid leef, leef ons in presies die teenoorgestelde omstandighede. Ons sit met gedagtes van verwerping en ons dink dat ons nooit mooi of maer genoeg sal wees om aanvaarbaar te wees nie.

Hoekom voel ons só as ons die kroon van God se skepping is? Diep binne elkeen van ons is die begeerte om weer so mooi te wees soos wat ons oorspronklik was. Ons hunker daarna om weer soos God te wees, om weer Sy heerlikheid uit te straal. Maar, die probleem is dat ons dit op die verkeerde plekke soek. Ons kyk na die wêreld en dink as ons net mooi van buite is, dan sal ons gelukkig wees. Natuurlik is dit belangrik om jou uiterlike ook te versorg en die beste moontlik te doen met wat jy ontvang het, maar daarin alleen sal jy nooit genoeg vervulling vind nie. Dan is dit ook so dat die uiterlike, maak nie saak hoe goed nie, so kort van duur is. Ek is jammer om dit vir jou te sê, maar as jy môre oggend wakker word, gaan jy meer soos jou ouma lyk as wat jy gister gelyk het! As ons regtig vreugde en vervulling kon vind in ons uiterlike, hoekom vind ons aanhoudend fout met onsself, maak nie saak hoe mooi ons is nie? Ons maak die fout om te dink dat die bron van ons vreugde in dinge soos ons uiterlike, ons lewensmaats, kinders, materiële dinge, ensovoorts lê. Sekerlik is hierdie dinge ook belangrik en dit verskaf vir ons groot vreugde, maar niks in hierdie lewe gaan jou meer vreugde gee as om meer en meer aan God gelyk te word nie, want dit is waarvoor Hy jou oorspronklik geskep het. Om Hom te reflekteer. Die Bybel sê dat ons gedurig van gedaante verander om meer soos God te lyk.

Vind God so gou as moontlik! Jy gaan die lewe baie meer geniet en soveel meer vreugde in jouself en in ander vind. ? Vrou wat vrede in haarself vind, is soveel mooier as ? vrou wat in vyandskap met haarself leef. Kom ek gee in elk geval vir jou goeie nuus oor jou uiterlike sodat jy net eens en vir altyd vrede kan maak met hoe jy lyk! Kyk wat sê Filippense 3:20 – Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.

Ons is burgers van die hemel en daarom sal ons nooit heeltemal op aarde tuis voel nie. As daar iets omtrent jou voorkoms is wat jou pla, moenie jou kwel nie, jy bly net in ? tydelike liggaam. Jy mag maar uitsien na jou verheerlikte liggaam! Dit wat jy nou sien, is net tydelik.

Wat is die geheim van ewige skoonheid dan? As ons sê dat iemand beeldskoon is, bedoel ons dat hulle ? mooi gesig of lyf het. Hulle beeld is skoon! Sien jy dat die woord “skoonheid” eintlik reinheid beteken? As jy beeldskoon wil wees, moet jy eintlik skoon wees. Die enigste manier om skoon te wees, is om vir die Here te sê wat jy nog verkeerd doen en Hom te vra om jou te vergewe en jou met Sy bloed te was. Dan sal jy witter as sneeu wees. Dit is wanneer ons begin om meer te lyk soos wat ons veronderstel is om te lyk, dis wanneer ons begin om al hoe meer te skyn.

Die tweede stap om beeldskoon te word, is om ontslae te raak van al die pakkies wat ons met ons saamdra. Pakkies van selfverwyt, haat, bitterheid en onvergewensgesindheid. Dink vir ? oomblik aan iemand se gesig wat permanent ? klomp swaar tasse, rugsakke en nog bagasie moet rondsleep. Verseker kan jy nie op jy beste lyk as jy heeldag dit moet doen nie! Jesus sê vir ons: “Kom na My toe almal wat moeg en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee, want My juk is sag en My las is lig.” Hy nooi ons uit om ons sorge op Hom te werp. Die woord “werp” beteken dat ons ons sorge op Hom moet gooi met mening, met die doel om permanent daarvan ontslae te raak. God kan al jou sorge vir jou dra, jy hoef dit nie te dra nie – gee dit vir Hom.

Nog ? ding wat ons kan doen as ons regtig mooi wil wees, is om die regte model voor te hou. Ons word so oorval deur die wêreld se standaard vir mooiwees. Die akteurs in Hollywood en die modelle op Parys en Milan se loopplanke is nie ons rolmodelle nie. Om die waarheid te sê, baie van hulle het ons gebede nodig want hulle lewens is dikwels so ongelukkig. Al wat ons dink, is dat ons soos hulle wil lyk en hulle wens dat hulle net ? normale lewe kon gehad het! Ons het net Een rolmodel en dit is Jesus – Hy is beeldskoon! Sy beeld is skoon. Dis hoekom alles wat Hy gemaak het goed is. Jy kan net gee wat jy het, en die Bybel sê dat God goed is en dat alles wat Hy doen goed is. God is lig, en in Hom is geen duisternis nie. Jesus word genoem die begeerte van die nasies! As al die nasies Hom begeer, moet Hy darem indrukwekkend wees! Hy is die Lelie van die velde, Hy is die blink m ôre ster, Hy is die skoonste van tienduisend.

Psalm 84:1 sê: Hoe lieflik is u woninge, o HERE van die leërskare! Nie net is God beeldskoon nie, maar die plekke waar Hy woon is ook lieflik! Waar woon God? God woon in die hemel, ja, maar dis nie al waar Hy woon nie, die Bybel sê dat Hy in ons woon: 1 Korintiërs 6:19 – Of weet julle nie dat julle liggaam ? tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.

God het in die Ou Testament in ? gewone tempel gewoon wat ? gebou was. Aangesien ons nou die nuwe tempel is, kom ons kyk ? bietjie na hoe daardie vorige tempel waarin God gewoon het, lyk. Die Ou Testamentiese tempel het bestaan uit die Buitehof, die Heilige en die Allerheiligste. Die lig in die Heilige het van die kandelaar gekom, wat die Heilige Gees verteenwoordig en dan was daar ook die tafel met toonbrode wat die Woord van God uitbeeld. Saam daarmee was die wierookaltaar, wat spreek van lof en aanbidding. Maar die lig in die Allerheiligste was die heerlikheid van God. Omdat ons die nuwe tempel is, wil ek dit vergelyk met die ou tempel. Ons fisiese liggame is soos die Buitehof wat verlig word deur natuurlike sonlig. Die Heilige wil ek vergelyk met ons siel, met ander woorde ons gedagtes en ons emosies wat deur die Woord van God verlig word. Ons gedagtes word verlig deur die Heilige Gees toe te laat om die lig op God se Woord te werp sodat ons gedagtes vernuwe kan word. Lof en aanbidding is ook ? manier om te verseker dat ons siel verlig word. Ons gees is dan soos die Allerheiligste waar God se heerlikheid skyn. Ons is dan op elke vlak van ons menswees verlig. Lig is goed, lig is mooi!

Jy mag dalk wonder hoe jy in jou gebroke toestand dit gaan regkry dat God se lig deur jou skyn. Jesaja 57:15 sê – Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.

God kies om al die heerlikheid van die hemel opsy te sit en in ons te kom woon. Hy wil by die verbryseldes en die nederiges van gees leef omdat hy hulle gees en hul hart weer wil laat herleef. God se plan vir ons is om weer te herleef. Ons kan dit nie self doen nie, Hy moet in ons kom woon.

Sê ons nie van ? bruid, sy lyk “stralend” nie? So dit is nog ? woord vir mooi. Nou sê 2 Korintiërs 4:6 – Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn — dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.

In die begin in Genesis het God gesê: “Laat daar lig wees!” Hy het uit die duisternis lig laat skyn. Dieselfde wat Hy in Genesis gedoen het, doen Hy nou met ons, maar op ? geestelike vlak. Hy het ons uit die koninkryk van duisternis in die koninkryk van lig ingeroep. Hy het die lig in ons gees laat skyn. Hy het ons kom verlig met die kennis van die heerlikheid van God wat van Jesus Christus uitstraal. Jesus is die Lig van God, Hy is die heerlikheid.

2 Korintiërs 4:7 – Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.Ons het ? kosbare skat binne in ons, al is ons slegs kleipotte wat hierdie skat huisves. As jy nie Jesus het nie, kan jy nie straal nie, dis nie moontlik nie. Ek het nog nooit ? kleipot gesien wat uit sy eie skyn nie. ? Kleipot is net van so ? aard dat dit nie self kan straal nie. Jy het ? skat binne in jou nodig voordat jy stralend kan word. Ons het ? waarborg dat ons hierdie heerlikheid binne in ons het, want Jesus het self gesê in Johannes 17 dat Hy vir ons die heerlikheid gegee het wat Hy van die Vader ontvang het. Jesus het Sy heerlikheid in ons gees geplaas.

Miskien is dit tyd dat ons ophou soek na iets wat ons reeds het. Ons moet ons fokus verander en nie net op ons uiterlike fokus nie, maar op die kosbare skat wat binne in ons is – Jesus. Toe Jesus na die berg van verheerliking gegaan het saam met Sy dissipels, het Hy so gestraal dat selfs Sy klere begin skyn het. As ons dan klaar die heerlikheid van God in ons het, hoe moet ons maak sodat die skat wat binne in ons is, gesien kan word?

Die Here het vir ons fisiese voorbeelde in die Bybel gegee, sodat ons dit op ? geestelike vlak kan toepas en sodat ons dit ook prakties in ons lewens kan toepas. In Rigters 7 is die verhaal van Gideon wat moes veg teen die vyand met net 300 manskappe. Die Bybel sê dat die vyand in die laagte gelê het soos sprinkane en dat hul kamele so baie soos die sand van die see was. Gideon het vir elkeen van sy manne ? ramshoring en ? kleipot met ? fakkel binne-in gegee. Dis nie juis die tipe wapens waarmee jy ? oorlog wen nie! Gideon het sy manskappe opdrag gegee om op sy bevel die ramshorings te blaas en die kleipotte te breek.

God het ? bonatuurlike oorwinning vir die Israeliete gegee. Die vyand het met mekaar begin veg en mekaar doodgemaak. Dit voel dalk vir jou asof jy ? vyand het wat oorweldigend is en daar nie ? manier is wat jy kan oorwin nie. Ek het vir jou ? wenresep…jy hoef net stil te staan, en op jou ramshoring te blaas. Dis simbolies van lofprysing! Jy hoef net God te loof en te prys! Dit wys Hom ook dat jy Hom vertrou om jou geveg oor te neem. Die feit is dat dit gewoonlik die laaste ding is waarvoor ons lus is wanneer ons in die middel van ? geveg is. Die Bybel praat van ? lofoffer – dis wanneer jy vir jou vlees wys dat jou gees baas is. As jy God begin loof en prys ten spyte van jou omstandighede en ten spyte van waarvoor jy lus het, kom God en veg namens jou die oorlog, en voor jy weet waar jy is, is jy vry van dit wat jou aangeval het.

Breek jou erdekruik – laat toe dat God se lig deur jou skyn! ? Erdekruik is simbolies van jou vlees en jou trots. Miskien het jy nodig om iemand te vergewe, iemand wat jou regtig seergemaak het. Dis nie lekker nie, en dis vir seker nie maklik nie, maar dit is moontlik. Jou vlees gaan nie lus wees om dit te doen nie, maar dis hoe ons ons erdekruike stukkend breek. Jy het dalk nodig om die minste te wees in ? situasie, en na ? persoon toe te gaan en om vergifnis te vra. Die Bybel sê dat hy wat homself verneder, sal deur God verhoog word. Miskien moet ons almal vandag tot ? punt kom waar ons vir die Here sê: “Ek is bereid om my hele lewe vir U te gee. Ek gaan ophou staatmaak op my kleipot, en gaan begin om op U staat te maak. Ek gaan U met my hele hart vertrou.”

Onthou dat jou vlees nie daarvan gaan hou as jy jouself voor God verneder nie, want jou vlees wil in beheer bly. Maar, hoe meer ons ons vlees kruisig, hoe meer sal God se lig in ons sigbaar word. Daar is so baie stukkende mense om ons, wat regtig hulp soek. Moenie net vaskyk in jou eie gebrokenheid nie, maar sien ander ook raak. Ons is nie hier vir onsself nie, ons is hier vir mekaar.

Ek het eenkeer ? boek gelees van ? vrou wat ? na-doodse ervaring gehad het. Die Here het vir haar haar hele lewe gewys en sy het nooit besef hoeveel impak sy op haar medemens gehad het nie. Sy het gedink sy is maar net ? gewone vrou wat nie eers ? belangrike werk gehad het nie. Toe wys God haar dat wanneer sy bloot vir iemand geglimlag het, dit daardie persoon en almal wat die res van die dag met hom te doen gekry het, beïnvloed het. Net so ook toe sy lelik was met iemand, hoe ver dit uitgekring het. Ons besef nie altyd die invloed wat ons op ander het nie. Miskien wil die Here jou gebruik om iemand anders aan te raak. Maar, dis dalk nodig dat jy eers jou trots moet neerlê.

In Psalm 34:6 staan daar – Hulle het Hom aangesien en gestraal van vreugde, en hulle aangesig hoef nie rooi van skaamte te word nie.Kom ons hou op om na onsself te kyk, en kyk eerder na Hom sodat ons sal straal van vreugde. Kom ons begin om weer die heerlikheid van God te reflekteer. Ware skoonheid kom net van binne af, en dis die enigste skoonheid wat vir altyd en vir ewig hou. So wees stralend, wees beeldskoon, wees soos wat God oorspronklik vir jou bedoel het om te wees. Jy is die kroon van Sy skepping! Laat toe dat sy lig deur jou skyn!

No comments yet

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: