Skip to content

Geloof in lyding

October 20, 2010

Geloof in lyding – deur Rhona Kieswetter

Elke oorlog wat teen jou opstaan het net een doel voor oë – om jou geloof in God te vernietig. Om jou te laat glo dat God jou nie gaan help nie, dat Hy jou nie lief het nie.

Elkeen van ons het al deur lyding gegaan of ken iemand wat daar deur is. Ek praat nie net van fisiese lyding nie maar ook van finansiële, emosionele en geestelike lyding. Almal gaan van tyd tot tyd deur ‘n lydingstydperk en ‘n mens het nodig om aan te hou glo ten spyte van wat jy sien en voel.

Ek wil graag getuig oor wat die afgelope twee jaar in my lewe gebeur het. Ek is vyf jaar gelede met p…algie gediagnoseer. Waar op dit neerkom is dat jy nie kan slaap nie, jy het spysverteringsprobleme en chroniese spierpyn. Die eerste twee jaar was vir my verskriklik erg, maar die Here het my daardeur gehelp en dinge het begin beter word. Maar, dit was nie lank nie of die simptome het weer begin opvlam. Ek het die Here gevra wat aangaan, want volgens my het ek hierdie siekte oorwin. Hy het my die volgende skrif gegee:

Spreuke 22:17 – Gee gehoor en luister na die woorde van die wyse manne, en let op my kennis. Want dit is lieflik as jy dit in jou binneste bewaar; mag hulle tesame gereed lê op jou lippe. Dat jou vertroue op die Here mag wees, daarom onderwys ek jou vandag, ja, vir jou.

Ek het besef dat God wil hê dat ek Sy woorde in my binneste moet bewaar en dit op my lippe moet hou, sodat my vertroue in Hom sal wees. Hy het geweet wat vir my voorlê. Vir my om te oorleef het ek nodig om van Hom te hoor, die Woord wat Hy my gee in my hart te bere, en die Woord op my mond te hou sodat Ek hom kan vertrou, maak nie saak wat nie.

Verlede jaar Februarie het ek aanhoudende pyn in my kop, nek en skouers gehad. Ek kon nie slaap nie en het aanhoudende diarree gehad. As jy vir jare lank met iets sukkel wil jy nie meer na ‘n dokter toe gaan of nog ‘n kuur probeer nie. Jy wil net hê almal moet jou uitlos. Ek het geweet geen dokter kan vir my iets doen nie en ek wou net by die Here se voete sit.

Gedurende hierdie tyd het my nek in ‘n spasma ingegaan, en my oor het letterlik teen my skouer vasgedruk. Ek kon geen pynstillers of spierverslappers drink nie omdat my liggaam ongelooflik sensitief geraak het vir medikasie. Enige pynstillers het net die pyn laat vererger. Ek het geweet die Here het my al vantevore gehelp en Hy sal my weer help.

Ek loop al ‘n lang pad saam met die siekte en die vrees en wanhoop wat saam met die siekte kom, is daar. Voor jy jou oë kan uitvee is die vyand daar. Die eerste ding wat die vyand vir my gesê het is: ‘Daar is nog ‘n pakkie slaappille in die kas. Jy hoef nie weer hier deur te gaan nie. Vat net die pille dan is als oor en verby.’ Ek het so kwaad in my gees geword dat ek kliphard geskree het: ‘Ek sal nie selfmoord pleeg nie. Ek sal God se beloftes vir my genesing glo.’

Ons wil gewoonlik hê dat God ons onmiddellik uit ons omstandighede moet red. Maar God doen nie altyd dit nie, partykeer stap Hy ‘n pad met ons. En ons raak ongeduldig en sê: ‘Here, hoekom haal U my nie hier uit nie? U is my Vader, U het my lief!’ Baie keer help God ons deur ons omstandighede en nie uit nie. Daar is ‘n gesegde wat sê dat wanneer jy deur hel gaan moet jy net aangaan sodat jy aan die anderkant kan uitkom.

Vir ‘n week lank, terwyl ek die spasma gehad het, het ek Filippense 4:13 bepeins wat sê – Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee . Ek het net aan die Woord vasgehou en besluit dat ek daardeur sal kom. Verder het die Here vir my die volgende skrif gegee:

Psalm 27:3 – Al word ‘n laer teen my opgeslaan, my hart sal nie vrees nie; al staan ‘n oorlog teen my op, nogtans vertrou ek.

Daar is slae en dan is daar oorloë. ‘n Slag of ‘n stryd is partykeer net vir ‘n maand of so, maar ‘n oorlog kan partykeer vir jare aanhou. Elkeen van ons weet wat ons oorlog is, ons elkeen word van tyd tot tyd in ‘n stryd betrek.

Ek het onlangs besef dat ek vir baie lank teen die verkeerde vyand geveg het. Ek het gedink die duiwel is my grootste vyand. Maar, my grootste vyand is ongeloof, twyfel en teleurstelling. As jy teen ongeloof, twyfel en teleurstelling kan opstaan dan oorwin jy, want enigiets is moontlik vir dié wat glo. Elke oorlog wat teen jou opstaan het net een doel voor oë – om jou geloof in God te vernietig. Om jou te laat glo dat God jou nie gaan help nie, dat Hy jou nie lief het nie. Dis hoe die duiwel oorlog maak. Sy grootste wapen is leuens. Hy kom vertel jou heeltyd leuens, en jy moet oppas om dit nie te glo nie.

Die duiwel het ongeloof by my gesaai. Hy wou die heeltyd gehad het ek moes twyfel of God wel gesê het dat Hy my sal genees. Of ek nie dalk toevallig op die skrifte afgekom het omdat ek so graag wou hê dat God my moet genees nie. Die gedagtes wat hy by my laat opkom het was: ‘Is jy seker God het dit vir jou gesê? Want dit lyk of Hy nie vir jou lief is nie. Dit lyk of Hy nie omgee nie. Kyk waardeur moet jy gaan, en die pyn wat jy elke dag het.’ Die vyand se gunsteling was: ‘Jy kan nie meer nie.’ ‘n Mens begin dan saam praat en voor jy jou kan kry sê jy vir jouself: ‘Ek kan nie meer nie.’ Dis alles leuens. God het ons in staat gestel om enigiets te kan hanteer wat ons moet hanteer. Die Skrif sê dat ons nie bo ons vermoëns versoek sal word nie. Ons is sterker as wat ons dink, Sy vermoë in ons is sterker as ons vermoë. En partykeer het ons nodig om aan die einde van onsself te kom.

Ek moes kies. Óf ek glo wat die vyand die heeltyd in my oor fluister en die pyn wat elke dag op my skree. Óf ek glo wat God gesê het en ek glo dat dít die waarheid is en dit is wat gaan gebeur. Dis makliker om die natuurlike te glo. Maar, daar is een ding wat God my geleer het. Al huil ‘n mens en al is jy af, beteken dit nie dat jy nie terselfdertyd jou geloof kan beoefen nie. Die duiwel wil hê ons moet dink dat as ons bid, en daar gebeur nie dadelik iets nie, ons nie geloof het nie.

Ek kan nie myself genees nie. Ek kan net glo. Jy het dalk ‘n heeltemal ander probleem as ek. Jy het dalk ‘n ongelowige man of ‘n rebelse tiener of finansiële probleme. Dit was vir my bevrydend die dag toe ek besef het dat ek nie myself hoef te genees nie. Jy hoef nie jou rebelse tiener reg te kry nie. Jy hoef nie jou man te verander nie. Jy hoef nie jou huwelik te red nie. Dit beteken nie jy hoef nie alles te doen om dit te bevorder nie. Jy hoef net te glo dat God dit kan doen. Ons hoef net te glo wat Hy vir ons sê. Hy is die God van die onmoontlike!

Gedurende my oorlog teen die siekte, het ek geweldige teleurstelling beleef. Ek het hoeveel profetiese woorde van mense ontvang wat vir my gesê het dat as hierdie persoon vir my bid gaan ek genees word, as ek so oud word gaan ek genees word. En ek het die Here gevra om my net tot daar te kry, en as ek daar kom, dan gebeur daar niks. Dan is ek platgeslaan en teleurgesteld!

Dis goed om woord van ander mense te kry. En die Here gebruik mense kragtig. Maar, dis belangriker om self Woord by God te kry. Jy moet self ‘n rhema Woord by God kry aangaande jou situasie, en hou aan daardie Woord vas. God sal nooit leë beloftes maak nie, Hy sal jou nooit teleurstel nie.

Een dag terwyl ek weer so verskriklik gevoel het, het ek vir die Here gevra wat Sy wil is. En God het my geantwoord: ‘Dis My wil om jou gesond te maak’. Die woorde het deur my hele gemoed weergalm, en ek het geweet dis God wat gepraat het. Ek het verwag Hy gaan my binne die volgende dag of twee genees. Maar, die pyn het net erger geword en ek kon nie verstaan hoekom nie. Hy gee toe vir MyHebreërs 6:15 – En so het hy die belofte verkry nadat hy geduldig gewag het.

Geduld is die voertuig wat jou geloof dra tot by die manifestasie van die belofte. Net omdat dinge nie dadelik gebeur nie, beteken dit nie dat jy nie geloof het nie. Moenie die vyand glo as hy vir jou sê dat jy nie geloof het nie omdat jou gebede nie dadelik beantwoord is nie. Abraham was die vader van geloof en kyk hoe lank moes hy wag voordat hy die vervulling van die belofte gesien het.

Geloof is nie geloof as dit nie aanhoudend en voortdurend is nie. Partykeer val ‘n mens en gee op. Maar, jy staan weer op en sê: ‘Here, ek glo U.’ Ek wag al vyf jaar vir my genesing. Dit het vir my gevoel asof ek dood gegaan het, en iemand het net vergeet om die liggies af te sit. Hy het my vertroos uit Esegiël 37:12 – Kyk, Ek sal julle grafte oopmaak en julle uit jul grafte laat opkom, o my volk!God weet hoe ons voel. Hanna het op ‘n stadium gebid: ‘U is die God wat weet.’ God weet presies waardeur jy gaan. Hy weet van elke liewe dingetjie. Hy ken jou.

Op ‘n stadium het ek vir God gevra om my óf iets te gee vir die pyn, óf om my te genees. Ek kon nie meer die pyn verduur nie. Dit was net ondraaglik. Twee dae later het ek ‘n droom gehad van hoe God vloeibare goud bo by my kop in my gees ingooi. En soos wat die goud my gees vul, begin my liggaam dit absorbeer. Ek het gedroom hoe God konstant my gees vul met hierdie vloeibare goud. Die goudvlak sal styg en soos wat my liggaam dit absorbeer, sal die goudvlak weer daal. So sak en styg dit die hele tyd.

In Job 23:10 staan daar – Want Hy weet hoe my wandel is; as Hy my toets, sal ek soos goud te voorskyn kom. Die ‘iets’ wat die Here my gegee het om aan te hou en uit te hou is die feit dat my geloof reeds besig is om in goud te verander. God is besig met ‘n proses in my, en ek moet geduldig wees en wag. Maar, my emosies en my gees was net op. Daar is die heeltyd die trauma om vir oorlewing te veg. Dis ‘n stryd om net elke dag deur te maak en aan die lewe te bly.

God is daar. Hy het altyd ‘n antwoord. En Sy Woord is wonderlik. In 2 Korintiërs 4:8 staan daar dat ons in alles verdruk word, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg maar nie verlate nie; neergewerp maar nie vernietig nie. Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word.

As jy doodsheid ervaar en jy deel in die dood van Christus, is dit sodat jy die opstandings-krag kan ervaar. Die volgende vers sê dat ons glo en daarom spreek ons. Dis nie goed genoeg om net te glo nie, ek moes sê wat ek geglo het. Jy mag sê: ‘Ek is siek’, maar moenie daar stop nie; sê: ‘maar, deur Sy wonde is ek genees.’

Ek wil vandag vir jou sê om ‘n ‘maar’ by jou probleem te sit. Jou situasie is dalk onmoontlik, maar jy dien die God van die onmoontlike. Die oomblik wat jy dit sê is dit ‘n deklarasie in die gees wat vir almal in die geesteswêreld laat verstaan dat jy nog steeds glo ten spyte van wat jy sien of voel. Sit die hoop terug in jou situasie. Sit ‘n ‘maar’ by jou probleem! Onthou dat God sê dat dit vir Hom lieflik is wanneer ons Sy Woord in ons harte bewaar en dit gereed op ons lippe lê sodat ons Hom kan vertrou.

2 Korintiërs 4:18 – Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare ding is tydelik, maar die onsigbare ewig.

Ons moenie fokus op wat ons kan sien en voel nie. Ons moet fokus op dit wat ons nie kan sien nie. Op die belofte. Ons glo en daarom spreek ons. Daar is net een manier hoe geloof kom en dis om die Woord van God te hoor. Die beste manier om die Woord te hoor is om dit vir jouself te sê.

Ek het toe later gedroom dat ek in ‘n diens is, en skielik word my arms, wat voorheen baie styf was, los en ek steek dit in die lug op en ek roep uit: ‘Kyk wat ek kan doen!’ Ek kon ses maande laas my arms bo my kop oplug omdat dit so ongelooflik styf en seer was. Gary was weg gewees vir ‘n reeks dienste, en hy het my gebel. Ek het vir hom gesê dat my arms nog baie seer is. Hy het vir my gebid en vir die Here gevra om asseblief iets vir my te doen. Later daardie middag het ek ‘n klein beweging met my arm gemaak, en toe slaan my skouer vas. Dis toe dat ek eers pyn het. Ek moes bly lê en kon nie opstaan nie.

Ek is toe dokter toe, en hy het vir my gesê dat ek ‘n ‘gevriesde’ skouer het en as hy nie opereer nie, gaan ek die gebruik van my arm verloor. Ek het die Here vertrou vir genesing en in plaas daarvan dat ek beter word het ek net al hoe erger begin voel. My geestelike ouers stuur toe vir my die vers: Openbaring 3:8 – Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie.

God kyk anders na ons. Hy het gesien dat ek aan Sy Woord vashou, dat ek Hom nie verloën het nie. Die oggend voor die operasie was ek baie bang. Ek het geweet ek kan nie pynpille gebruik nie, en was bang vir die pyn. Ek het ‘n preek van Gary op die tafel gesien met die titel: Moenie dink wanneer jy moet vertrou nie. Elke keer as ek gedink het: ‘Wat gaan ek doen?’ het die Here my geantwoord, ‘Moenie dink nie, vertrou net.’

Ek het deur daardie hele operasie gegaan sonder om te dink. En ek kon dit doen. Dit was hel, maar die Here het my gehelp. Moenie die bobbejaan agter die berg gaan haal nie. Moenie bekommer wat oor vyf dae of oor ‘n maand of volgende jaar gaan gebeur nie. Dis ‘n mors van tyd. Gebruik eerder daardie energie om op God te vertrou.

Na die operasie het dit vir my gevoel asof iemand my met ‘n tien-pond-hammer op die skouer geslaan het. Hulle het vir my ‘n epiduraal in my nek ingespuit wat die senuwees in my arm moes doodmaak. Vir een of ander rede het die epiduraal glad nie gewerk nie. Ek het elke bietjie pyn gevoel. Ek moes elke twee ure vir fisioterapie gaan waartydens my arm bo my kop gelig moes word. So, die gevolg was dat ek met elke fisio-sessie die hospitaal se dak afgeskree het.

Na twee dae kon ek nie meer uithou nie. Ek was in ‘n gat van depressie, en was so moedeloos. Ek het die oggend in my bed gelê en ek het gevoel hoe iemand buk om my te soen. Ek het gevoel hoe val die hare op my gesig. Ek het gedink dis my dogter wat ingekom het en my gesoen het. Toe ek my kop draai, sien ek dat daar niemand is nie. Dit was net ek in die kamer. Daardie oomblik het ek besef dat die Here by my was. Hy het afgebuk en my gesoen, en Sy hare het op my gesig geval.

Al was ek fisies nog nie beter nie, het dit my gees so gelig dat ek weer kon aangaan. Die Here is so getrou. Hy sal jou nooit alleen los nie, maak nie saak waardeur jy gaan nie!

Na die operasie is ek toe huistoe. Ek moes my arm elke twee, drie ure oefen, en ek het behoorlik geskree van die pyn. Ek het vir die Here gevra om my asseblief te help. Hy sê toe vir my, Psalm 46:2 – God is vir ons ‘n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef. Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see. Hy wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde.

God laat die oorloë ophou. En skielik onthou ek die skrif wat sê dat al staan oorloë teen my op sal ek nie vrees nie, want ek vertrou op God. Ek het net aanhou sleg voel en ek het vir die Here gevra wat help dit om Hom te dien, want ek sien nie die resultate nie. Hy voed my gees en Hy hou my staande, maar verder gebeur daar niks. En ek het vir Hom gesê dat dit nie meer die moeite werd is om Hom te dien nie.

Hy vat my toe na Maleagi 3:14 – Julle het gesê: Dit is tevergeefs om God te dien, en wat baat dit ons om sy verordening te onderhou en in rouklere voor die aangesig van die Here van die leërskare te wandel?’ Ek het geskrik en het om vergifnis gepleit.

Dinge het beter begin word, en ek het weer soos ‘n normale mens begin voel. Omdat ek okey gevoel het, is ek toe saam met Gary Barberton toe vir die naweek. Daar het ‘n pyn my beetgepak en ek het dinge begin sê wat ek nie normaalweg sou sê nie. Ek het gesê dat God my nie gaan help nie, dat niemand my kan help nie. Ek wil nie meer die Here vertrou nie. Die Here vat my toe na ‘n skrif in 2 Konings 18:30 – En Hiskia moet julle nie op die Here laat vertrou nie deur te sê: Die Here sal ons sekerlik red, en hierdie stad sal nie in die hand van die koning van Assirië oorgegee word nie.

Ek het besef dat alles wat hierdie mense gesê het, is wat ek daardie week gesê het. Dit was die aakligste week van my lewe. Ek het basies my rug op God gedraai en vir Hom gesê dat ek Hom nie meer gaan vertrou nie, want Hy gaan my nie help nie. Hy het vir my gesê: ‘Nou goed. Nou onttrek Ek sodat jy kan sien hoe lyk jy sonder My.’ As ek gedink het ek was sleg af voor dit, was ek verkeerd. Dit was verskriklik. As jy God in jou situasie het, het jy niks anders nodig nie. Dan kan jy dit maak, al gaan jy deur hel. As Hy jou los, dan is jy in die hel, jy gaan nie net daardeur nie.

Hiskia het vir die Here gesê dat hy ‘n verskriklike tyd van smart, straf en spot deurmaak. En God het Hom geantwoord en gesê dat hy nie hoef bang te wees vir die dinge wat die koning van Assirië gesê het nie. Die dinge wat hy gesê het was teen God gemik. Die koning het God verag. Ek het besef dat die duiwel die hele week my tong gebruik het om God te verag.

Ek het die Here onvergifnis gevra en ek het besef dat jy nie geloof kan beoefen as jy God beskuldig nie. Jy kan jou geloof beoefen terwyl jy huil of depressief is, maar jy kan nie geloof beoefen terwyl jy God aanval en beskuldig nie. God is in beheer of dit nou vir jou so voel of nie. Geloof is om te wyer om paniekbevange te raak.

My lewensmissie is om Hom te vertrou en die geloof te behou. As ek aan die einde van die dag kan kom, en ek vertrou steeds op Hom en ek het steeds die geloof, dan was dit ‘n suksesvolle dag!

Jesaja 49:23 – En jy sal weet dat Ek die here is, dat hulle nie beskaamd staan wat My verwag nie.

God wil ‘n einde aan jou leiding maak. En jy sal deur tye gaan wanneer jou geloof getoets gaan word. Of dit nou lank vat, en of dit nie lank vat nie, wat daarvan? As God gepraat het, sal dit gebeur. Ons verantwoordelikheid is om net aan te hou glo, vas te hou aan Sy Woord, in Sy aangesig te bly en aan te hou om Hom te vertrou.

Hoe om geloof te behou te midde van swaarkry:

•  Neem teleurstellings na God toe en los dit daar.

•  Hou God se Woord in jou hart en op jou lippe.

•  Vertrou Hom, maak nie saak hoe jy voel of waardeur jy gaan nie.

•  Wees geduldig. Geduld gaan jou kry by die vervulling van jou beloftes. As God dit gesê het, sal dit gebeur.

•  As jy daagliks hulp nodig het, weet die volgende: He is our ever present help in times of need (Psalm 46:2).

•  Kyk na die onsigbare, nie die sigbare nie.

•  Geloof is net geloof as jy daarmee aanhou. So hou aan en aan en aan. Jy het die vermoë om uit te hou tot die dag van die vervulling van jou belofte.

•  Wyer om jou geloof op te gee. Kies om jou geloof te behou te midde van jou omstandighede.

Die pad van geloof gaan nie ophou voor die dag wat ons in die hemel kom nie. Daar gaan altyd iets wees waarvoor ons God moet vertrou. Kom ons kry dit van die begin af reg. Kom ons sit al ons energie in om God te vertrou!

 

No comments yet

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: