Skip to content

Jy kan ook ‘n entrepreneur wees

October 21, 2010

Jy kan ook ‘n entrepreneur wees – deur Timothy Kieswetter

Jy het nie nodig om jou eie besigheid te hê om ‘n entrepreneur te wees nie.

Ek wil jou vandag die beginsels van geldmaak leer. Ek het al baie geld gemaak, en ek het al baie geld verloor. Ek het al nege besighede gehad en ek het al amper net so veel verloor ook! So as ek vir jou kan leer hoe om nie baie geld te verloor nie, dan weet jy darem al die helfte! Dis eintlik maklik om baie geld te maak, dis wel baie moeiliker om dit te behou.

Het jy al probeer om ? besigheid te begin? Baie van ons het al, maar dit het nie noodwendig ? sukses uitgedraai nie. Ek het my eerste besigheid begin toe ek vyftien was. Ek het rekenaars aan onderwysers verkoop, goed geld gemaak, en na ? paar maande was my besigheid bankrot. Na skool het ek teologie geswot en was daarna ? jeugpastoor vir ? jaar lank. Dis toe dat ek besef het dat ek nie net wil preek nie, maar dat ek iewers in besigheid betrokke wil wees.

Statistiek sê vir ons dat 50% van nuwe besighede na ‘n jaar vou. Daarna vou 70% van alle nuwe besighede binne twee jaar. Slegs 10% van alle nuwe besighede bestaan na 12 jaar nog. Ken jy iemand wie se besigheid net vir ? jaar of so op die been was, en toe platgeval het? Ek is seker daarvan jy doen. Hoeveel mense ken jy wie se besighede nou al vir ? paar jaar aan die gang is?

Daar is baie mense daar buite wat belangstel om ‘n entrepreneur te wees en hulle eie besigheid te begin. As jy vandag ? sukses van jou lewe wil maak is dit baie belangrik om soos ? entrepreneur te dink. Die dae is verby dat jy net universiteit toe kan gaan en dan is jy van ‘n werk verseker. Moet ook nie negatief wees en dink dat jou enigste opsie is maar om te gaan swot en te immigreer nie. Bly asseblief in Suid-Afrika! Hier is meer geleenthede vir jou om jou eie besighede te begin. Moenie dat statistieke jou drome in die wiele ry nie. Jy kan die 10% wees wat na 12 jaar nog bestaan. . . jy kan die besigheid hê wat suksesvol is en werksgeleenthede skep.

Ek wil jou graag help om ? sukses van jou besigheid te maak deur vir jou te vertel wat ek al geleer het in my ondervinding. Die eerste belangrike ding wat ek geleer het, is wat ek die vang-en-gryp beginsel noem. Veronderstel ek gooi vir jou drie tennisballe gelyk. . . dit gaan nogal moeilik wees om al drie gelyk te probeer gryp. In die lewe werk dit dieselfde, daar sal altyd meer as een geleentheid op dieselfde tyd na jou toe aankom. As jy alles gelyk gaan probeer gryp, is die kanse goed dat jy gaan mis vang. Dis beter om te fokus op een geleentheid en dit dan met albei hande te vang. Dis waar dat ? geleentheid net een keer verbykom, maar daar gaan nie net een geleentheid verby kom nie. Die lewe is vol verskillende geleenthede. Jy moet ? goeie belegging op die regte tyd kan raaksien. Voor jy begin met iets, probeer vasstel of jy besig is om na iets te gryp met die hoop dat jy iets daarvoor sal kan wys, en of jy besig is om die geleentheid te vang.

Die tweede belangrike aspek van entrepreneurskap is om ? realistiese doen-lysie op te stel. Baie entrepreneurs hou daarvan om te droom omdat hulle maklik vooruit kan sien. Maar partykeer is dit moeilik vir hulle om daardie visie in ? realistiese dag-tot-dag taak te omskep.

Derdens is dit belangrik om klein treetjies te neem. Die meeste entrepreneurs probeer in die eerste maand al ? derduisende rande se kontrak te sluit. Dit werk nie so nie. Bou jou besigheid stadig maar seker. My dogter is nou agt maande oud. Wat gaan gebeur as ek haar op hierdie ouderdom inskryf vir ? honderd meter resies teen graad-eentjies? Sy kan nog nie loop of hardloop nie! Dieselfde met ? maatskappy. As jy jou besigheid te vinnig, te ver, te veel forseer gaan dit nie werk nie. Maak jou besigheid “groot” soos wat jy jou kind sal grootmaak.

Vierdens moet jy weet hoe om geld te maak binne 30 dae. Dis nie altyd so eenvoudig nie. Jy gaan weer moet terug gaan na die gryp-en-vang teorie. Dis nie ? slim plan om iets te probeer vang of gryp wat ? slegte belegging is nie. Maar dis ook nie ? slim plan om op die verkeerde tyd ? regte geleentheid te probeer vang nie. Dis belangrik dat jy geduldig sal wees en nie sal toelaat dat geldgierigheid maak dat jy iets najaag net omdat jy so vinnig en so veel as moontlik geld wil probeer maak nie.

? Tyd gelede wou ek ? petrolstasie gekoop het. Die prys was reg en ek was reg om te teken. Op die oog af het dit na ? baie goeie belegging gelyk omdat die wins op ? petrolstasie baie groot is. Maar, ek sou ? derde huisverband moes uitneem om dit te koop. Dit sou my in ? redelik benoude finansiële situasie geplaas het. Die tyd was nie reg vir my om daardie vulstasie te koop nie, al sou dit ? goeie koop gewees het. As ek die vulstasie sou gekoop het sou ek eerder gegryp as gevang het.

Dis dalk ? goeie idee om bietjie te brainstorm en aan idees te dink hoe om iets te begin waarvoor die tyd reg is. Maar die kanse is goed dat jy vir ? hele maand gaan brainstorm en nie met ? enkele waterdigte idee vorendag gaan kom nie. Kom ek sê vir jou hoekom ek so sê. Voordat ek getroud was, was ek opsoek na ? vrou. Elke meisie wat ek ontmoet het en wat effens na ? goeie vangs gelyk het, wou ek mee trou. Binne drie maande het ek vinnig van plan verander en wou ek beslis nie meer met haar trou nie. Ek het by ? punt gekom wat ek nie meer wou soek nie, ek het moed opgegee en maar vir die Here gesê dat Hy net die regte persoon op die regte tyd moet stuur. Nie lank daarna nie het iemand my na ? partytjie genooi en ek het my vrou daardie aand ontmoet. Die oomblik toe ek ophou soek, toe kry ek haar. Hoekom is ek na vyf jaar nog gelukkig getroud? Want ek het nie gegryp nie, ek het gevang!

Dit gaan dieselfde werk met brainstorming. ? Goeie idee gaan tien teen een na jou toe kom wanneer jy ontspanne is en glad nie aktief besig is om aan nuwe idees te dink nie. Daardie idees wat na jou toe kom wanneer jy nie opsoek is na nuwe idees nie, is die idees waaraan jy moet aandag gee en verder moet ondersoek om vas te stel of dit ? goeie idee op ? goeie tyd is.

Het jy al iets begin, maar dit nooit klaar gemaak nie? Die goed wat jy gewoonlik gegryp het, is goed wat jy nie klaargemaak het nie. Maar dit wat jy gevang het, is tien teen een iets wat jy klaar gemaak het. Iemand wat geleenthede vang, is iemand wat klaarmaak waarmee hy begin het. Jou tydsberekening gaan ook bepaal of jy die geleentheid gryp of vang. Indien die tyd nie reg is nie, gaan jy dit heel moontlik ook nie kan klaarmaak nie. Om ? geleentheid te vang verg geduld. ? Baba wat te vroeg gebore word sal moet veg vir sy lewe omdat hy fisies nog nie gereed was om gebore te word nie. Dit werk presies dieselfde met ? besigheid. As jy te vinnig geboorte gee aan daardie besigheid, gaan jy sukkel om dit aan die lewe te hou. Jy moet besef dat al jou talente ? geskenk van die Here is. Dis nie iets wat jy ontvang het omdat jy dit verdien het nie, maar omdat God jou genadig was. God het vir almal van ons talente gegee, en Hy verwag dat ons eendag rekenskap sal gee vir die talente wat ons ontvang het. Jy kan daardie talente in die grond begrawe of jy kan daarmee woeker.

Entrepreneurs is gewoonlik ook visioenêre en daarom sukkel hulle gewoonlik om oor te gaan tot aksie. Hulle sukkel nie om te droom van wat hulle als met hul talente gaan doen nie, maar hulle sukkel om dit uit te voer. Ons almal ken die wet van aantrekking wat in die boek, The Secret , verkondig word. Dit is waar in die sin dat die Bybel sê dat lewe en dood in die mag van die tong is, en die een wat dit graag gebruik sal die vrug daarvan eet. Maar ek glo dat die wet van rentmeesterskap verhewe bo die wet van aantrekking is. As God sien dat jy tevrede en dankbaar is vir wat jy het, en dat jy dit wat Hy vir jou gegee het goed bestuur, sal Hy meer aan jou toevertrou.

Jou fokus moet eerder wees om nuwe idees te ontvang as om nuwe idees te soek. Die meeste goeie idees is nie noodwendig die mees deurdinkte idees nie. Neem vir Isaac Newton as voorbeeld. Hy was besig om onder ? appelboom te slaap toe daar ? appel op sy kop val en vandaar het hy die idee ontvang om swaartekrag te begin ondersoek. Maar, wanneer jy die idee ontvang het, moet jy eerstens bepaal wanneer dit die regte tyd is om dit uit te voer, en dan aan die werk te spring. Dit is eintlik waaroor brainstorming moet gaan. Dit gaan nie soveel daaroor om te soek na idees nie, maar om werk te maak van idees wat jy ontvang het. Ek het ? paar jaar gelede ? entrepreneurskap kursus by ? skool gaan aanbied. Na die tyd was daar kans om vrae te vra en ? graad 12 kind het my gevra: “In een woord, wat het ek nodig om ? uitvinder te wees?” My antwoord was: “Woordwakker.” Ons as Christene het nodig om die Woord te ken en ? persoonlike verhouding met die Here te hê. In besigheidsterme sou ek sê dat dit belangrik is om op hoogte te bly van wat in die w êreld aangaan.

Dis belangrik om wakker te wees sodat jy die geleentheid kan raak vang. In besigheid is dit belangrik om te hou by die een ding wat jy goed kan doen. Onthou jy wat gaan gebeur as jy drie goed gelyk probeer doen? Jy gaan al drie gelyk verloor. In besigheid is dit belangrik om op een ding te fokus. Daar is ? gesegde wat sê dat een voël in jou besit baie meer werd is as ? honderd wat oor jou kop vlieg.

Gedurende jou brainstorming sessie moet jy ook jou visie en missie definieer en daarby hou so ver as moontlik. Moenie elke nou en dan besluit om jou visie te verander sodat jy meer kan doen met die hoop dat jy vinniger ryk sal word nie. Fokus op een tennisbal.

Begin klein. Dis iets wat jy definitief sal moet bemeester. Veronderstel jy is ? skaapboer op Ogies en jou droom is om in elke provinsie in die land ? skool oop te maak met ? ten volle toegeruste vigs-kliniek. Jy trek ? besigheidsplan op, maak ? afspraak by die Departement van Onderwys en verwag dat hulle vir jou die “ja” woord sal gee. Meeste entrepreneurs maak die fout om te dink dat hulle hul drome in een stap moet waarmaak. Dis nie hoe dit werk nie. Dit is ook hoekom meeste entrepreneurs nooit hul drome kan bewaarheid nie. Dis goed om groot te droom, maar dit is ook nodig om realisties na jouself te kyk. Jy moet na jouself kan kyk en jou huidige situasie analiseer. Kan jy insien hoe groot die sprong moet wees as jy vanaf jou huidige situasie na jou droom wil spring? Breek jou droom op in kleiner stappe. Begin klein.

Dit is die padkaart na sukses. As jy my sou bel en vir my vra hoe om by Kaapstad uit te kom is die eerste vraag wat ek jou gaan vra: “Waar is jy nou?” Dis waar meeste entrepreneurs die fout maak. Hulle is so gefokus om in Kaapstad uit te kom dat hulle vergeet om in ag te neem waar hulle huidiglik is. Die antwoord is om jou drome sowel as jou huidiglike situasie in gedagte te hou. Jy moet weet waarheen jy oppad is en jy moet weet waar jy nou is. Moenie net in jou toekoms vaskyk nie, maar moet ook nie heeltyd in jou huidige situasie vaskyk nie.

? Ander belangrike sleutel tot entrepreneurskap is die exodus of the mind . Die definisie van ? entrepreneur is iemand wat ? nuwe manier uitdink om iets te doen. ? Entrepreneur is nie noodwendig iemand wat sy eie besigheid het nie. ? Entrepreneur is iemand wat sy ou manier van dink vir ? nuwe manier van dink verruil. Jy kan ? entrepreneur wees en steeds vir ? baas werk. Entrepreneurskap is ? manier van dink eerder as ? posisie wat jy beklee.

Kom ons gebruik die Israeliete se uittog uit Egipte om die uittog vanuit ? ou denkpatroon te beskryf. Die Israeliete was vir 430 jaar in slawerny. Hulle was in slawerny gebore en het nie veel van ? keuse gehad nie. Hulle het dag in en dag uit bakstene gemaak om die piramiedes te bou. Dink jy dat die Israeliete ooit enige krediet gekry het vir die bou van die piramiedes? Geensins. Hulle het al die harde werk gedoen maar Farao het al die krediet gekry. Hy het in sy paleis gesit terwyl hulle hom met ? palmblaar koud waai. Die Israeliete het aan Farao se drome gebou. En dit is in ? sin dieselfde wat met jou gebeur as jy net werk met die doel om kos op die tafel te sit – jy is besig om iemand anders ryk te maak.

Die voordeel wat jy het wanneer jy vir die Farao werk is dat jy van kos en blyplek verseker is. Die nadeel is dat almal jou altyd sal kan hou waar hulle jou wil hê. Die Israeliete het na ? tyd van ? beter lewe begin droom. Jy is dalk in ? beroep omdat jou ouers jou gedwing het om in daardie professie te werk, maar jy het van kleins-af ? droom om iets anders te word. Maar dis ook waar dit gestop het – jy het nie veel verder as droom gekom nie.

Die Israeliete kon nie in hul eie krag uit Egipte uit kom nie, hulle het iemand nodig gehad wat hulle uit Egipte kon lei. Terwyl die Israeliete onder dwangarbeid was, was Moses besig om skape in die woestyn op te pas. God was besig om Moses op te lei hoe om in die woestyn te oorleef. Dink jy die Israeliete sou dit tot by die beloofde land gemaak het as hulle ? leier gevolg het wat geen praktiese kennis van die woestyn gehad het nie? Dink jy dat die Israeliete dit tot by Kanaän sou maak as hulle gemeen het dat hulle sonder Moses se hulp daar kan uitkom? Ek dink nie so nie. Hulle het ? leier met die regte ervaring nodig gehad. Net so het ons ook ? leier nodig om ons te help om by ons droom uit te kom. Jy het iemand nodig wat die pad al gestap het.

Al die idees waarin ek geld gesit het, het geflop. Die enigste twee idees waarin ek geld gesit het en wat gewerk het, is idees wat iemand anders vir my gegee het. Dit was iemand wat geweet het waarvan hy praat. Ek het na hulle geluister en hulle raad gevolg, en vandag is dit besighede wat suksesvol is. Om ? mentor te hê of ? leier wat al ondervinding in die veld het, is van kardinale belang.

Ek wil net weereens die belangrikheid van die regte tydsberekening beklemtoon. As die tyd reg is, sal jy opgaan. As die tyd verkeerd is, sal jy platval. Wees versigtig om nie vir die Farao in jou lewe te luister nie. Hy het geweier om die Israeliete te laat gaan. Hy het alles gedoen om te verhoed dat hulle hul drome bewaarheid. Luister eerder na die Moses in jou lewe. Wanneer die tyd reg is en jy het die regte persoon om jou uit te lei, dan sal jy dit tot in die beloofde land maak.

Weet jy dat die Israeliete uit Egipte weg is met al Egipte se goud en silwer? Egipte was die rykste en magtigste koninkryk in daardie tyd. Na die Israeliete se uittog, lees jy nie meer veel van hulle in die geskiedenis boeke nie. Binne ? kort tydjie het hulle al hulle goud en silwer en miljoene slawe verloor – dis genoeg om enige land se ekonomie te laat sneuwel. Net so kan jy uit Egipte trek met al hulle goud en silwer. In vandag se terme beteken dit dat jy jou drome kan navolg en wegloop met al die kennis, idees en know-how wat jy in jou persoonlike Egipte versamel het.

Die Israeliete was ? week in die woestyn toe hulle erg na Egpite begin terug verlang het. Hulle was oortuig daarvan dat hulle baie naby aan doodgaan was. Hulle het die gratis kos en verblyf begin mis. As entrepreneur gaan jy heel moontlik die gratis kos en verblyf vir ? tydperk moet opgee. Om in geloof uit te stap is moeilik. Om alles te belê in iets waarin jy glo is partykeer baie naby aan dobbel. Maar as jy na God en na Moses luister en ? gesindheid van dankbaarheid handhaaf, dan sal God voorsien.

Onthou jy wat het die Israeliete met al hulle goud en silwer gedoen? Hulle het ? goue kalf daarvan gemaak en dit aanbid as die god wat hulle uit Egipte gelei het. Daar is ? vers in die Bybel wat sê dat as jy afgode aanbid, dan sal jy net soos hulle word. Dis nie ? slim ding om te doen nie. Die goeie nuus is dat wanneer jy God aanbid dan word jy soos Hy. Is dit Bybels? Ja, want ons moet soos Christus word, Hy is ons voorbeeld in alles.

Die Israeliete het in die arme-ek-mentaliteit verstrengel geraak. Hulle het om elke hoek en draai gekla en vir hulself ? selfbejammeringspartytjie gehou. Your attitude will determine your altitude . Dis weereens die wet van rentmeesterskap. God sal jou nie met meer vertrou as jy ? vrot gesindheid het nie. God het ? welbehae in diegene wat nederig van hart is.

Entrepreneurskap gaan nie net oor jou en jou persoonlike glorie nie. Joshua en Kaleb was die twee leiers wat aangestel was om die Israeliete in die beloofde land in te lei. Om in die beloofde land in te gaan het te doen met hoeveel mense jy saam met jou kan vat. Vir hoeveel mense kan jy glimlag en sê: “Die Here is goed vir my en Hy kan ook goed wees vir jou.” Dis hoekom God vir ons in die eerste plek talente gegee het. Elke generasie het die verantwoordelikheid om ? beter toekoms te skep en te bewerkstellig vir die volgende.

Net ? handjievol van die Israeliete wat uit Egipte uit is, het die beloofde land binne gegaan, die res het almal in die woestyn gesterf. Hulle was ? klein groepie mense wat ? baie groot land in besit moes neem. Daarom het God nie vir hulle die hele Kanaän op een slag gegee nie. Hy het eers net vir hulle Jerigo gegee, en soos wat hulle vermeerder het, het Hy vir hulle meer en meer dele van Kanaän in besit laat neem. Die Israeliete het stad vir stad ingeneem en volk vir volk verslaan.

Ter opsomming: Neem in ag wie jy is, waar jy is en waarheen jy oppad is. Begin klein. Die Bybel sê dat jy nie ? klein begin moet minag nie. Moenie die stappe wat jy moet neem om by jou droom uit te kom so groot maak dat dit amper onmoontlik is om dit te bereik nie. As jy hierdie riglyne volg, gaan jy jou drome in die werklikheid omskep!

 

No comments yet

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: