Skip to content

Moenie dat jou tong met jou weghardloop nie

October 26, 2010

Moenie dat jou tong met jou weghardloop nie – deur Timothy Kieswetter

Daar is nie ‘n mens op aarde wat nog nooit sy mond verbygepraat het nie. Ek praat nie nou van mense wat in die “Guinness Book of Records” wil probeer kom nie; ek praat van mense wat iets gesê het en dadelik gewens het hulle kon die woorde insluk. Oor die jare het die tong in feitlik elke kontinent, land en kultuur bekend geword as een van die dodelikste wapens waaroor die mens beskik. In bykans elke kultuur vind mens ‘n gesegde wat verwys na die gevaarlike tong. Die Amerikaners sê “Jy praat so hard, ek kan jou nie hoor nie,” terwyl die Grieke sê, “The boneless tongue, so small and weak, can crush and kill”. Die Sjinese sê, “A lengthy tongue, an early death”.

Die mens laat toe dat sy tong met hom op loop sit, maar die tyd het aangebreek dat elke Christen die tong op sy plek moet sit! Hoekom is dit so belangrik om jou tong in toom te hou? Omdat jou gebedslewe soveel kragtiger sal wees as jy dit wel doen. Wanneer jy in gebed na God toe gaan en Hy sien dat jy konsekwent is in jou manier van praat, sal Hy weet dat jy nie probeer voorgee om te wees wie jy nie werklik is nie. As God na ons lewens kyk en sien dat ons dieselfde met die mense rondom ons praat as wat ons met Hom praat, sal Hy weet dat ons harte opreg is. Maar, vra jy, moet ons nie juis mooier met God praat as wat ons met mense praat nie? Nee! Is dit nie waar dat alle mense in God se ewebeeld geskape is nie en is dit ook nie waar dat Hy lewe in diegene wat hul harte aan Hom oorgegee het nie?

Hoe sit ‘n mens se tong op loop? Die antwoord lê in Jakobus 3:2-12 (Ou vertaling):“Want ons almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ‘n volmaakte man, in staat om ook die hele liggaam in toom te hou. Kyk, ons sit stange in die perde se bekke, sodat hulle ons gehoorsaam kan wees, en ons stuur hulle hele liggaam daarmee. Kyk, ook die skepe, alhoewel hulle so groot is en deur hewige winde voortgedryf word, word gestuur deur ‘n baie klein roer net waarheen die stuurman wil. Net so is die tong ook ‘n klein lid en beroem hom op groot dinge – kyk hoe ‘n groot hoop hout steek ‘n klein vuurtjie aan die brand. Die tong is ook ‘n vuur, die wêreld van ongeregtigheid. Net so ‘n plek neem die tong onder ons lede in; dit besmet die hele liggaam en steek die hele lewensloop aan die brand en word uit die hel aangesteek. Want elke soort natuur van wilde diere en voëls en kruipende diere sowel as seediere word getem en is getem deur die menslike natuur. Maar die tong kan geen mens tem nie; dit is ‘n onbedwingbare kwaad, vol dodelike gif. Daarmee loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie.”

Hieruit kan ons sien dat dit baie maklik is om ‘n volmaakte mens te wees. Al wat ons moet doen, is om ons tong te beheer. Makliker gesê as gedaan! Die Bybel sê hier dat geen mens die tong kan tem nie. Ons almal het op een of ander tyd al gesê dat ons voortaan minder gaan skinder, of minder gaan vloek, maar dan doen ons dit net weer. Hoekom? Omdat dit onmoontlik is vir die mens om die tong te tem. Dis juis daarom dat God wil hê dat ons ons tong aan Hom moet oorgee. Die Bybel sê jy moet ‘n wag voor jou mond plaas. Dit beteken dat ons dit aan God moet oorgee, want ons kan nie ons eie wagte wees nie.

Daar is twee maniere waarop God met ons kan praat; die maklike manier en die moeilike manier. Dit hang van ons af watter manier Hy gebruik, maar praat gaan Hy definitief met ons praat. Ons is soos perde met stange in ons monde en God is die ruiter. Gaan die perd aan die ligte rigtingwysing van sy Ruiter gehoorsaam wees, of gaan God aan die leisels moet trek om die perd in ‘n sekere rigting te dwing?

Saulus het die harde manier gekies en God het hom van sy perd afgeslaan. God het hom so hard met lig getref dat hy vir drie dae blind was. God wil nie net hê dat ons ons harte vir Hom moet gee nie, maar ook ons lewenspaaie. Wanneer Hy vir ons wys wat sy wil vir ons is, het ons dus twee keuses: ons kan daarteen veg met alles wat in ons is, ons eie pad inslaan en in die proses die Ruiter van ons rûe afgooi, of ons kan Hom vertrou aan wie ons ons lewens oorgegee het en die besluit neem wat Jesus ook geneem het: “Here nie my wil nie, maar U wil alleen.”God wil hê dat ons aan Hom gehooorsaam moet wees, want, al dink ons nie altyd so nie, weet Hy beter.

Jakobus praat ook van geweldige winde wat skepe in sekere rigtings dwing. Dit is waar dat daar in ‘n mens se lewe ‘n hele paar storms sal kom wat jou in sekere rigtings sal dwing. Krisis-situasies wat jou anders sal laat optree as wat jy andersins sou. Gebeure wat jou sal oortuig dat gebed nie werk nie. Storms so sterk dat dit selfs jou lewe in gevaar stel. Selfmoord het tevore nooit eens by jou opgekom nie, en nou het jy alreeds ‘n afskeidsbrief geskryf!

Maar in dieselfde teksvers beloof God ook uitkoms. Al is die storm ook hoé sterk en jou lewe vol ongewenste bagasie en sonde, is daar steeds ‘n uitkomkans as ons maar net die stuurstang aan God oorgee en toelaat dat Hy ons lewe weer op koers bring. Hy sal ons heelhuids deur die lewenstorms lei. Al het jy net ‘n bietjie van jou lewe aan die Here oorgelaat, sal Hy dit gebruik om jou te help. Hoe meer van jou lewe jy aan Hom oorgee, hoe groter is die roer waarmee Hy jou lewe kan stuur.

Wie is jou stuurman? Wie is in beheer van jou lewe? God, die duiwel of jyself?Jou tong is ‘n dodelike wapen. As jy in beheer van jou tong is, gaan jy mense rondom jou met woorde “doodmaak”. As die duiwel in beheer van jou tong, gaan jy jouself met woorde “doodmaak”. Maar as God in beheer van jou tong is, gaan jy die duiwel en al sy planne wegjaag en “doodmaak”.

Toe Jesus vir veertig dae in die woestyn was en die duiwel Hom versoek het, het Jesus hom weggejaag met sy tong, met woorde. Jesus was suksesvol omdat God in beheer van Jesus se tong was. Hoe kan ek dit sê? Jesus het niks anders as Skrif gespreek nie; dieselfde Skrif wat deur God geïnspireer is (2 Tim 3:16).

Wanneer iemand sy tong aan God oorgegee het, is gebed een van die dinge wat vanself sal volg. Wanneer die tong nie meer vervloeking en dodelike gif spu nie, maar lof vir God en seën oor ons naaste, dan staan jy in ‘n volmaakte gebedslewe voor God.

‘n Volmaakte gebedslewe kos nie ure van gebed of selfs dae van vas nie. Al wat nodig is, is om jou tong aan God oor te gee sodat dit sy woorde is wat uit jou mond gaan en nie meer jou eie nie. Dit is wanneer jy God kan loof en aanbid in jou stiltetyd en ook in jou werksplek. Volmaakte gebed spruit uit ‘n lewe van gebed en ‘n lewe van gebed is die gevolg van ‘n 100% oorgawe van jou tong aan God.

Jeremia 2:27(b) “Want hulle het My die rug toegedraai en nie die aangesig nie. Maar in die tyd van hulle onheil sê hulle: “Staan op en verlos ons!”

God is heeltemal bewus daarvan dat sekere mense niks met Hom te doen wil hê wanneer dit goed gaan nie, maar wanneer die paw-paw die fan tref, dan soek hulle Hom met alle erns op. God wil eerder hê dat ons ons aangesig na Hom toe sal draai, sodat ons Hom nie net hoor nie, maar ook sy goedheid en liefde kan sien.

God wil met iemand praat wat Hom in die oë kan kyk, nie iemand met die rug na Hom gekeer nie. Kom ons maak dit gemaklik en lekker vir die Here om met ons te praat en ons gebede te beantwoord, deur met ons aangesig na Hom te staan.Hoe begin ‘n mens se tong die loop neem? Die antwoord lê in Efesiërs 4:29: “Laat geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.”

Hoe weet ek of ek met my rug na God toe staan of met my aangesig? Deur dit wat ek toelaat om uit my mond te kom. Die Bybel sê “Wat die hart van vol is, loop die mond van oor”. As jou hart na God gedraai is, sal jou mond in dieselfde rigting gerig wees, maar as jy ‘n mond het wat slegs vuil woorde voortbring, sal jou hart ook van God weggedraai wees. Wat in jou hart aangaan, is wat uit jou mond sal kom, en wat uit jou mond kom, is presies dit wat in jou hart aangaan.

Spreuke 18:21 “Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.”Hier kan ons sien dat daar slegs twee keuses is: Ons praat óf lewe óf dood. Ons het alreeds gesê dat een van die maniere om dood te praat is deur toe te laat dat daar vuil woorde uit ons mond kom. Daar is ‘n klomp ander maniere om ook dood te spreek, soos om God se beloftes te betwyfel of ongeloof te beoefen. Enigiets wat nie lewe is nie, is dood!

Een van die maklikste maniere hoe ons in ons eie en ook in ander se lewens kan inpraat, is deur te bid. Die Bybel sê as ons lewe praat, gaan ons die vrug daarvan eet. Dit wil sê as ons kies om vir onsself en ander mense te bid, sal ons antwoorde en resultate op daardie gebede kry, omdat ons die vrug sal eet waarvan ons lewe praat.

Kom ons laat toe dat dié vers ons aanmoedig om te bid. God smag daarna om vir ons antwoorde te gee. Hy wil met ons terugpraat, Hy wil ons gebede beantwoord, maar Hy wag ook dat ons lewe sal begin praat. Hy wag dat ons moet begin bid met ‘n verwagting dat iets sal gebeur.

Kom ons spreek nie meer dood – deur nie te bid nie – maar kom ons maak tyd om deur middel van gebed lewe te spreek. As ons in Genesis gaan kyk hoe God alles gemaak het wat bestaan, sal ons een ding opmerk: Op elke dag wat God iets gemaak het, lees ons die woorde “Laat daar wees”. Alles wat God gemaak het, het Hy nie met sy hande nie, maar slegs met sy Woord tot stand gebring. “Laat daar lig wees” en daar was.

Op dag ses het God egter een stap verder gegaan as om net dinge in bestaan te praat; Hy het ook “handjie bygesit”. Hy het gesê, “Kom ons maak mens in Ons ewebeeld” en grond geneem, die mens gevorm en lewe in hom ingeblaas.

Hier sien ons dat God twee goed gebruik het om ons as mense te skape: God het gepraat en Hy het iets gedoen. Die mens is ook die enigste wese wat uniek deur woorde EN dade geskape is. As ons uit ‘n gebedsoogpunt daarna kyk, kan ons twee geweldige goeie lesse leer:

EEN: Dat ons ook dinge in bestaan kan bid. Ons kan gebed gebruik om God se koninkryk op aarde en in ons lewens te laat geskied. Ons kan sy wil vir ons lewe, land en geliefdes deur gebed tot stand bring.
TWEE: Soms is gebed nie goed genoeg nie. Wat? Ja, soms verwag God meer van ons as om net te bid.

Ek het ‘n verhaal gehoor van ‘n vrou wat op pad was na haar troue, maar daar was in haar geen vreugde daaroor nie. Sy bid toe tot God en sê, “Here, as dit nie U wil is dat ek trou nie, stop dan die motor sodat ek nie by my troue kan uitkom nie. Amen.” Die motor het toe nooit gestop nie en sy is getroud, net om later weer te skei, want hulle was nie vir mekaar bedoel nie. Wat het sy verkeerd gedoen? Sy het dan vir God om hulp gevra.

God het nie van haar verwag om net te bid nie, maar om gebed die fondasie van haar dade te maak. Sy het geweet wat God se antwoord sou wees op haar vraag of sy met hierdie man moes trou, maar sy wou hê dat God dit vir haar maklik moes maak deur die motor te stop en so die besluit namens haar te neem.

Gebed is daar om duidelike antwoorde van God te kry, maar wat ons met die antwoorde gaan maak, hang net van onsself af. Net soos God nie net woorde nie, maar ook dade, gebruik het om ons te maak, wil Hy ook hê dat ons gebede ons dade so moet beïnvloed dat ons elke dag meer en meer soos Jesus word.

Daar is ‘n groot debat onder Christene oor hoe om te bid. Hardop en voor ander gelowiges, of stil in jou binnekamer waar net God jou kan hoor. Wel, albei is Bybels. Om die balans tussen die twee te vind moet ons gaan kyk na die verhaal in Joshua 6.

Daar lees ons dat God vir die Israeliete opdrag gegee het om dertien maal om die mure van Jerigo te loop. Vir ses dae moes hulle net een keer per dag stilletjies om die muur loop. Die sewende dag moes hulle sewe keer om loop, eers ses keer stilletjies, maar die laaste keer met ‘n geraas en geblaas op die ramshorings. Dit was God se opdrag aan hulle. Wat het veroorsaak dat die mure toe inmekaar getuimel het? Die stilte of die geraas?

Albei het die mure laat kantel. Die geraas het die uiterlike mure omgestoot, maar die stilte het die innerlike mure omgestoot.

Watter gebed is die beste? Die stil, in-jou-kamer gebed, of die hardop, God-lowende gebed?Het die Israeliete innerlike mure gehad? Definitief! Hulle het meer as veertig jaar gereis om in die beloofde land te kom en nou was daar stede wat groter was as wat hulle nog ooit gesien het! Hulle geloof was daarmee heen, hulle hoop teleurgesteld. Hulle het mure van vrees, angs en benoudheid gehad. Maar God het aan al hul innerlike probleme gewerk terwyl hulle in stilte om die uiterlike probleem moes loop. Hoekom? Want die Bybel sê: “Wees stil en weet dat Ek God is.”

Wanneer daar moeilike of selfs onmoontlike omstandighede en probleme in jou pad staan, moenie angstig of bekommerd raak nie, want God is daar by jou. Wees stil in gebed en laat God toe om al jou innerlike pyn en seer weg te neem, sodat wanneer die dag van jou deurbraak kom, jy kan deurgaan en waarlik vry wees in die land van vryheid.

Stil gebed is daar om die mure in jou eie lewe om te stoot, terwyl hardop gebed saam met ander gelowiges daar is om die mure in ander mense se lewens om te stoot.

WEES STIL EN WEET DAT GOD GOD IS, IN STAAT OM JOU EN ANDER TE HELP. VRA NET!

No comments yet

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: