Skip to content

‘n Lewe saam met gelowiges

October 26, 2010

‘n Lewe saam met gelowiges – deur Ds Jimi le Roux

Die normale Christelike lewe behels dat ons saam met ander gelowegis op reis is.

As christene kan ons nie net op ons eie bestaan nie – ons het ander Christene om ons nodig. Toe jy die Here aangeneem het, het jy Sy familie en ander kinders ook aangeneem! Ons is onlosmaaklik deel van die Kerk van Jesus Christus en die gemeenskap van gelowiges.

Lees hieroor in Paulus se gebed in Efesiërs 3:14-21 – Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus, van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang, dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.

En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen.

Paulus het hierdie brief nie aan een spesifieke persoon geskryf nie, maar aan die hele gemeenskap. Hierdie “julle” waarna hy verwys is nie ‘n enkeling nie, maar die hele gemeente. Ons is saam één Kerk.

Die normale Christelike lewe behels dat ons saam met ander gelowiges op reis is. In die praktyk beteken dit dat ons aan ‘n gemeente behoort en dat ons ons lewens met mekaar deel. In die eerste plek, behoort ons ‘n gemeente en woon ons aktief eredienste by. Ons skakel ook by ander sosiale aktiwiteite in. Ons is daar vir mekaar en ons deel mekaar se lewens. Ons bid vir mekaar, sing saam, eet saam en lag saam!

Die Here gebied Sy seën waar mense in Sy Naam vergader, soos wat ons sien in Matteus 18:20 – Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.

As Christen, behoort ons ook heel moontlik aan ‘n kleingroep of selgroep waar ons die geleentheid het om ons lewens met ander te deel. Die doel daarmee is om deursigtig te leef en verantwoordbaar te wees teenoor ander Christene. Dis belangrik om inspraak te kry van ander Christene en na hulle raad te luister. Hulle het ook jóú inspraak in hul lewens nodig om hulle te bemoedig en te bedien. Sulke vriende raak vir ons mentors wat ons kan lei en ondersteun.
Die normale Christelike lewe beteken dat ons, soos ons groei, meer na buite leef en minder vir onsself leef. Ons is hier op aarde met ‘n doel, die Here wil ons gebruik! Die doel en bewys van Christenskap is liefde. Ons leef vandag in ‘n modernistiese en humanistiese wêreld wat die klem op die individu plaas. Maar die Bybelse, antieke verwysingsraamwerk is meer gefokus op die groep gelowiges en op gemeentes.

Binne in die groep vind die individu sy plek. Die uitgangspunt is gewoonlik “ons” en nie “ek” nie. Ons het ook ‘n sterk versoeking om ons geloof individualisties te beoefen, maar dan mis ons baie van die hele doel van Christenskap, naamlik, om vir ander te leef. Christenskap gaan nie daaroor om vir jouself te leef nie, maar om vir ander te leef.

1 Korintiërs 13:1 is ‘n goeie bewyse hiervan – Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simbaal geword. En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie.

En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie.
As ons mekaar nie liefhet nie, of ten minste nie probeer nie, dra ons nie die tekens van Christenskap nie. Liefde is om te gee en nie om te ontvang nie; om lief te hê ten spyte van en nie as gevolg van nie; om ander se belange te soek, en nie jou eie nie. Dit is goddelike liefde, nie menslike liefde nie.

Prakties is liefde eerstens ‘n houding. Liefde is om bedagsaam, respekvol, nederig en geduldig te wees teenoor alle mense te alle tye. Dit is ook om begrip te hê vir iemand anders se situasie, om iemand aan te moedig of te ondersteun, om mense op te bou, te seën en te vergewe. Liefde is ook om te doen. Christene leef anders as ander mense. Ons leef vir ander mense en ons leef ‘n lewe van diensbaarheid.

Ons bedien medegelowiges, maar ook enige iemand wat die Here oor ons pad stuur. Wanneer jy ‘n lewe van liefde lei, offer jy jou tyd, moeite en geld op om ander te help, om genade te bewys en sodoende lewens te verander. Liefde is om te strewe om soos Jesus te lewe!

Ons leef nie net alleen en vir onsself nie. Ons lewe sáám met ander en vír ander. Ons maak ‘n verskil in mekaar se lewens en voeg so waarde toe tot ons eie lewe!

 

No comments yet

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: