Skip to content

Die prys van verdeeldheid

November 12, 2010

DIE PRYS VAN VERDEELDHEID – deur Riaan Lombard

Verdeeldheid affekteer elke area van ons lewens, beide geestelik en natuurlik. Dit maak ons swak in ons geveg teen die bose.

ʼn Tyd gelede het die Here een aand aan my ʼn baie ontstellende droom gegee. Ek het menige slange gesien wat hulleself op slinkse wyses op allerdaagse plekke versteek het. Hulle het amper soos verkleurmannetjies by hulle omgewing aangepas. Hulle het ʼn baie gedetermineerde kyk in hulle oë gehad.

Die meerderheid mense kon hulle glad nie raaksien nie, en die slange het die mense een vir een gepik en hulle het gesterf.  ʼn Paar mense het agtergekom dat daar ʼn probleem was, en het die slange begin raaksien. Die slange het op hulle toegespits en daar was ʼn geveg. Die slange het die mense tog gepik, want hulle het geen wapen gehad om mee te veg nie. Ek het siek gevoel, want daar het soveel mense om my gesterf.

Die slange was bewus dat ek hulle kon sien en onderskei, en heelwat van hulle het my probeer byt. Ek het ʼn lang pyp in my hande gehad, en kon hulle maklik op ʼn afstand doodslaan. Daar het skielik ʼn pragtige jong swanger vrou op die toneel verskyn. Die slange het onmiddellik op haar gefokus, en sy was hulle hoof teiken. Toe sy sterf het daar ʼn geweldige droefheid oor my gekom. Skielik het daar ʼn stem met my gepraat. “Gaan lê hande op haar en bid vir haar, beveel haar om op te staan, spreek lewe!” Ek het onmiddellik by haar gaan kniel en my hande op haar geplaas. Nog steeds was daar ʼn geweldige hartseer in my gees, en ek het by God gepleit vir haar lewe. Die baba in haar het begin skop, en geleidelik het sy begin herstel. Die stem het weer met my gepraat. “Gaan bid vir die wat gesterf het en ek sal hulle weer oprig.” Ek het aanbeweeg na die dooies toe, en gesien hoe die Here hulle opwek.

My gees was ontsettend omgekrap oor die droom. Ek het gebid, en die Here gevra om my te wys wat die droom beteken. Hy het my gevra: “Riaan, hoe vernietig jy die magtigste leërmag op die aarde?” Die antwoord was kort en tot die punt. “Een vir een.” Alhoewel daar baie mense was, het niemand saamgewerk om teen die slange te staan nie. Niemand het ’n wapen gehad nie, en dit het dinge vir die slange baie makliker gemaak.

Die mooi, jong, swanger vrou het die kerk uitgebeeld. Sy was swanger met ’n uitstorting van die Heilige Gees waardeur God Sy kinders wou seën en met nuwe lewe bekragtig. Ons divisies en tweedrag het hierdie bose geeste toegelaat om al hoe kragtiger te word, en daarom is die kerk besig om te sterf. Waar daar nie eenheid is nie, is die Heilige Gees ook nie teenwoordig nie. Daar is ook geen lewe waar die Gees van God nie is nie! Verder het Hy my beveel om oor eenheid te praat waar ek ook al gaan, en die kerk moet waarsku teen die gevolge van verdeeldheid.

Die prys van verdeeldheid

Verdeeldheid affekteer elke area van ons lewens, beide geestelik en natuurlik. Dit maak ons swak in ons geveg teen die bose. Dit maak dit soms onmoontlik vir die Heilige Gees om in ons lewens te werk, want dit vernietig die salwing. Satan se planne word gouer en makliker uitgevoer want die liggaam van Christus kom nie bymekaar om dit te stop nie. Kyk ʼn bietjie om jou rond, daar is geweld, moord, misdaad en sommer baie ander dinge wat stelselmatig deel van ons samelewing word. Wie dink jy sit daaragter? Die wortel van die probleem lê nie by die mens wat dit doen nie, maar by die mag wat hom daartoe dryf. Ons polisie doen goeie werk, en die Here seën hulle, maar daar is een dief wat hulle nooit gaan kan vang nie! Net die kerk, die liggaam van Christus, kan “die dief” oorwin. Satan is “die dief”, en hoe langer ons vir hom plek gee, hoe meer gaan hy by ons steel.

2 Korintiërs 2:10Aan wie julle iets vergewe, vergeef ek ook; want wie ek ook vergeef het—as ek iets vergeef het—dit was om julle ontwil voor die aangesig van Christus, sodat ons nie deur die Satan bedrieg sou word nie; want ons is met sy planne nie onbekend nie.

Ons moet nie onbekend met die duiwel se planne wees nie. Tog is daar talle gelowiges wat absoluut weier om enige iets van die duiwel te weet. Dis aanvaarbaar om in sport ons opponent te bestudeer, en meer van hom te wete te kom. Geen land sal sommer in ’n oorlog ingaan sonder om soveel moontlik inligting oor sy vyand te bekom nie. Maar, van ons grootste vyand wil baie mense niks weet nie. Die idee is glad nie om met die duiwel behep te raak nie, maar God wil beslis hê dat jy weet wie jou vyand is, en hoe hy werk.

Mense met weinig of geen kennis van die duiwel se planne, word maklik deur hom om die bos gelei, of bedrieg. Die beste manier om een stap voor die duiwel te bly is om op hoogte te wees met hoe hy werk.

Die plan van Satan teen die kerk

 

Satan is die stigter van alle verdeeldheid. In hierdie konteks dui verdeeldheid op vermindering. Verdeeldheid verminder ons effektiwiteit, produktiwiteit, en uiteindelik ook ons mag.

Matteus 16:18 – En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

 

Die woord ‘gemeente’ wat hier gebruik word is vertaal uit die Griekse woord ekklēsia wat verwys na die kerk. Hierdie is die eerste plek in die Nuwe Testament waar die woord ‘kerk’ voorkom. In dieselfde asem kry die kerk ook sommer een van haar grootste opdragte. Die poorte van die doderyk moet op sy plek gesit word. Die verwysing na die poorte van die doderyk is ook belangrik, want in daardie era was die poorte van enige stad of plek ook die belangrikste plek. Dit was waar al die belangrike en vername mense rondgehang het. Dit was juis vanaf die poorte wat die regering van daardie stad geheers het. So dan is die opdrag van die gemeente (kerk) om die heersers van die doderyk te oorwin.

 

Jesus sê self dat daar aanhoudend oorlog gaan wees tussen die kerk en satan se koninkryk. Die goeie nuus is dat ons bekragtig is om hulle te oorwin. Die geveg gaan egter nie deur individue gewen word nie, maar deur die kerk van Jesus Christus. Die apostel Paulus vergelyk die kerk met ’n liggaam in 1 Korintiërs, waar hy ons ook daarop wys dat elke liggaam opgemaak word uit verskillende dele. Geen liggaam kan ordentlik funksioneer as die verskillende lede nie saamwerk nie. Dit help nie veel as daar slegs individue of enkele gemeentes is wat die vyand probeer weerstaan nie. Dit is wanneer ons saamstaan in eenheid wat ons die vermoë het om die duiwel goed op sy plek te sit.

 

Die Here gebruik my nou al omtrent agt jaar in ’n evangelistiese bediening waar ek met baie verskillende gemeentes, en denominasies te doen kry. Die een ding wat my gou getref het is die enorme gebrek aan eenheid. Baie predikante sukkel met divisie en verdeeldheid in hulle eie gemeentes, en dan het baie gemeentes onderlangs ook nie juis ooghare vir mekaar nie.

 

Lewe of dood?

 

Spreke 18:21 sê dat lewe en dood in die mag van die tong is. God verwag eenheid van Sy kinders. Daar gaan nooit eenheid kom as ons aanhou om teen mekaar te praat nie. Party mense voel dit is hulle roeping om wyd en suid bedieninge en kerke af te breek, selfs van die kansel af. Elke keer wat iemand dit doen maak hulle hulself seer, sowel as die res van ons, want dit bring verdeeldheid. Moenie toelaat dat mense na jou toe kom met stories oor iemand of ’n gemeente om hulle af te breek nie. Elke greintjie divisie maak my en jou swakker, en die duiwel sterker!

 

Die vrug van eenheid

Om werklik te verstaan waarom die duiwel so konsentreer op divisie in die kerk, moet ons gaan kyk wat God oor die gevolge van eenheid sê.

Psalm 133:1 – How good and pleasant it is when brothers live together in unity! It is like precious oil poured on the head, running down on the beard, running down on Aaron’s beard, down upon the collar of his robes. It is as if the dew of Hermon were falling on Mount Zion. For there the Lord bestows his blessing, even life forevermore.

Dit is moontlik om ’n lekker en genotvolle lewe te hê. Daar is egter ’n voorwaarde daaraan gekoppel. God wil eenheid in jou lewe sien. Waar daar eenheid is, word die salwing van die Heilige Gees oor gelowiges losgemaak. Sonder daardie salwing kom niemand vêr nie. Die salwing begin by die hoof, ek sou dit vergelyk met predikante, pastore ens, en in die familie is dit ma en pa. Alle predikante, pastore en geestelike leiers het die enorme taak om jou en my lewe te help rig aan die hand van die Woord. ’n Gesalfde man of vrou hoor by God. Hulle wysheid word deur die Heilige Gees geïnspireer. Die salwing gaan egter nie net op hulle rus nie, dit loop af na die baard en skouers (leierskap) en uiteindelik tot by die voete. Dus bring eenheid God se salwing oor almal van ons. Die salwing bekragtig gelowiges om hulle vyand te oorwin!

Berg Hermon is ’n unieke berg in die middel van die woestyn en tog een van die mooiste areas in die wêreld. Daar is ’n oorvloed van plantegroei en diere. As gevolg van die hoogte van die berg is die top dwarsdeur die jaar met sneeu bedek. Sneeu gee water, en die woestyn moet toegee. Eenheid laat God toe om in jou lewe te werk op wonderbaarlike wyses om elke dor area in ’n vrugbare een te verander. Eenheid laat ons toe om te leef in God se seën. Waar daar eenheid is, sal God die ewige lewe skenk! Mense wat verlore is moet gered word, jy en ek kan dit nie doen nie. Maar eenheid maak God se salwing vir verlossing los!

Johannes 17:20Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.

As hierdie artikel tot jou gespreek het, en jy besef die Here praat ook met jou, vra vir Jesus om ook vir jou ʼn passie te gee vir eenheid, soos wat Hy ʼn passie daarvoor het!


No comments yet

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: