Skip to content

Raak ontslae van daai skuld

November 12, 2010

RAAK ONTSLAE VAN DAAI SKULD! Deur Timothy Kieswetter

Om skuld aan te gaan is iets waarmee ons almal die een of ander tyd mee gekonfronteer word. Party vermy skuld soos pes, en ander kan weer nie genoeg daarvan kry nie. Ek glo nie daar is mense wat verkies om eerder in skuld te lewe nie, maar tog dompel mense hulself daagliks daarin. Is skuld okay?

Nie alle skuld is sleg nie. Slegte skuld is wanneer jy meer skuld as wat jy besit. Om geld op jou huis te skuld is nie slegte skuld nie, want jou huis is meer werd as wat jy op dit skuld. Jou huis is ook ʼn groeiende bate, met ander woorde jou huis word meer werd so met die jare saam. Slegte skuld aan die ander kant is wanneer jy besittings koop wat jy nie eintlik nodig het of kan bekostig nie. Dinge soos ʼn plasma televisie, klere, meubels of selfs ʼn vakansie. Natuurlik het jy ʼn vakansie nodig, maar maak seker dit is een wat jy kan bekostig! Natuurlik wil jy mooi klere hê om aan te trek en op ʼn gemaklike leer-bank sit sodat jy jou plasma televisie beter kan geniet. Maar as jy hierdie tipe goed op skuld koop, is dit die eerste teken dat jy heel moontlik aan skuldverslawing ly.

Hoekom bly mense in skuld vasgevang? Indien jy alreeds in skuld lewe, is die kanse goed dat daar ʼn stryd aan die gang is tussen wie jy nou is en die skuld-vry-jy wat jy eerder wil wees. Dit is nie maklik om elke dag met jou skuld gekonfronteer te word nie. As die stryd lank genoeg aangaan, gee die meeste mense hulle skuld-vrye drome prys. Hulle probeer naderhand nie eers meer van hul skuld ontslae raak nie! Dis asof die droom van ʼn skuldvrye-lewe net te ontoereikend is. Die gaping tussen die huidiglike en die droom is soos die Grand Canyon wat net nie wil kleiner word nie. Dit is genoeg om die meeste van ons soos ʼn mislukking te laat voel. In meeste gevalle is die uiteinde verlate en vergete drome. Dis op die ou end van die dag vir hulle makliker om hulle drome te laat vaar as om iets daadwerkliks aan hulle skuld te doen.

Om in skuld te lewe word vir hulle aanvaarbaar, dit is nou maar net hoe dit is. Hulle is van mening dat dit nie saak maak wat hulle doen nie, hulle sal altyd in skuld leef. Dit maak die lewe dan vir hulle effens makliker want daar is nie meer hierdie groot gaping tussen wie hulle huidiglik is en wie hulle graag wil wees nie. Die konflik word dus mooi netjies uitgeskakel. Om vrede te maak met hulle skuld maak die lewe meer draagbaar.

Om aan skuld verslaaf te wees bly gevaarlik! Jy mag dalk beter oor jouself voel noudat jy met jou skuld vrede gemaak het. In plaas daarvan dat jy ʼn pro-aktiewe plan het om daarvan ontslae te raak, het jy nou ʼn passiewe plan om daarvan te vergeet! Let op watse bose kringloop dit is: Jy koop op skuld en word daagliks gekonfronteer met die gaping tussen jou rooi bankbalans en jou skuldvry-drome. Jy voel soos ʼn mislukking, gee op, maak vrede met jou skuld, voel ʼn bietjie beter en voor jy jou weer kan kry het jy weer die kredietkaart ge-swipe! Sodra jy nog skuld aangegaan het, besef jy dat jy reg was. . . jy sal altyd in skuld lewe. . .

Die probleem met skuld-verslawing, soos enige verslawing, is dat die verslaafde nie van sy verslawing bewus is totdat dit te laat is nie.  Wanneer jy iemand wat aan skuld verslaaf is uitvra daaroor, is hulle antwoord gewoonlik: “Ek wag vir my groot deurbraak, dan kan ek vinnig al my skuld afbetaal.” Skuldverslaafdes verwag ook van ander om hulle uit hul nood te red. Hulle wil nie verantwoordelikheid vir hul eie dade aanvaar nie. Om verantwoordelikheid te aanvaar beteken om al die onnodige items te verkoop en ʼn nuwe begroting uit te werk wat by jou inkomste pas.

Die geld-hiërargie

Die volgende voorstelling maak dit duidelik waar en wanneer jy jou geld kan gebruik.  Hierdie vlakke werk soos trappe, mis een en jou kanse om bo uit te kom is baie skraal. Dit is ook ʼn goeie manier om uit te vind hoe verantwoordelik jy is wanneer dit by geld kom. Skuld-verslaafdes is gewoonlik diegene wat genoeg geld verdien om op  die vlak van Oorvloed te lewe,  maar lewe op die Bankrot of Oorlewing vlak.

 

 

Afhanklike : Ons almal begin as afhanklikes.  Ons is afhanklik van ons ouers om vir ons kos, klere en verblyf te gee. Ons is ook emosioneel, finansieel, liggaamlik en geestelik afhanklik van ander mense. In kort, jy bly en eet nog verniet!

Prakties :

  • Maak planne om ʼn inkomste te begin verdien.

Wat jy mag koop :

  • Pasop om nie misbruik te maak van dié wat vir jou sorg nie. Moenie al jou geld op  onbenullighede uitgee nie.
  • Jy moet die grootste deel van jou inkomste spandeer aan huur, kos of om te spaar.
  • Kinders kan verniet by hulle ouers bly solank as wat hulle studeer. Werkende kinders moet vir huur en kos betaal.

 

Bankrot: Soos wat ons groot word voel ons die belangrikheid om ons eie weg te baan. En ons aanvaar verantwoordelikheid vir ons eie lewens. Nou moet ek eers verduidelik dat die vlak (bankrotskap) is nie dieselfde vir almal nie. Nie almal van ons het dieselfde opvoeding ontvang nie. Toe ons nog afhanklikes was, was ons nie almal in dieselfde bevoorregte posisie nie. Toe jy ʼn afhanklike was, was die fondasie van jou lewe gelê.  Dit kan egter nie as ʼn verskoning gebruik word nie, maar dit speel vir seker ʼn rol in hoe vinnig jy jou eie drome gaan bereik. Daarom is dit so belangrik dat ouers ʼn stabiele fondasie vir hul kinders sal lê. My pa het altyd gesê dat sy grootste begeerte is dat sy kinders sal begin waar hy opgehou het. So elke persoon se beginpunt van bankrotskap sal verskil. Bankrotskap is wanneer jy vir die eerste keer verantwoordelik vir jouself neem.

In kort, jou uitgawes is meer as jou inkomste.

Prakties :

  • Vind uit hoekom jou uitgawes meer as jou inkomste is.
  • Is dit as gevolg van te veel uitgawes? Sny alles!
  • Is dit as gevolg van te klein salaris? Soek vir ʼn beter werk!
  • Is dit as gevolg van ʼn onbeplande krisis? Moenie stres nie. Dit was buite jou beheer en dit is slegs tydelik. Hou moed, jou bankbalans sal weer regkom!

Wat jy mag koop :

  • Huur
  • Kos

Oorlewing: Op hierdie vlak is jy besig om vir jou en jou gesin te voorsien. Daar is nie ekstra geld vir luukshede nie, maar dit maak nie regtig vir jou saak nie. Die ding wat vir jou die belangrikste is, is jou familie, vriende en kolegas. Dit is gewoonlik tydens hierdie tyd wat ons hegte bande met vriende en familie smee. Een van die redes is omdat almal gelyk is. Almal oorleef. Niemand is jaloers op die ander persoon se finansies nie, want aan die einde van die maand het hulle ook niks oor nie. Dis gewoonlik só dat hoe minder die geld is, hoe sterker is die bande met familie en vriende.  In kort, dis wanneer jou uitgawes gelykstaande aan jou inkomste is.

Prakties :

  • Baie mense stagneer op hierdie vlak. Pasop daarvoor!
  • Hoe lank is jy al op hierdie vlak?

Wat jy mag koop :

  • Water en ligte
  • Telefoon
  • Petrol
  • Motor
  • Alles wat direk verband hou met wat jy nodig het om jou volgende salaris te verdien.
  • Enige iets anders is op hierdie stadium ʼn luuksheid en moet nie gekoop word nie.

Spaar: Hierdie vlak is om jou risiko’s beter te bestuur. Dit is nou wanneer jy begin dink aan versekering, polisse, mediese fonds, ensovoorts. Alhoewel jy nie een van die bogenoemde dinge nodig het om jou volgende salaris te verdien nie, gaan dit verhoed dat jy nie van voor af hoef te begin wanneer jy ʼn finansiële storm tegemoet kom nie.

Kortliks, jy bestuur jou risiko’s.

Prakties :

  • Maak ʼn lys van die risiko’s wat jy graag beter wil bestuur. Byvoorbeeld jou kar- en huisversekering, medies, aftree-polis, ensovoorts. Rangskik hulle in volgorde van belangrikheid.
  • Nadat jy alles op jou risiko lysie geskryf het, begin met jou kontant-fonds.
  • Jou kontant-fonds is wat jy gaan gebruik vir enige ander onvoorsiene uitgawes of vir  toekomstige beleggings.
  • Begin om eers net 5% van jou inkomste te spaar en vermeerder dit tot 10% so vinnig as moontlik.

Wat jy mag koop :

  • Versekering (motor en huis)
  • Polisse (aftree-annuïteite)
  • Medies
  • Opbou van jou kontant-fonds

Oorvloed: Nadat jy al jou noodsaaklikhede  betaal het, gespaar het en jou tiende betaal het, het jy nog geld oor. Hoera! Ek het met rede nou eers ʼn tiende genoem. Teen hierdie tyd moet jy al ʼn tiende van jou inkomste vir die Here gee. Daarmee bedoel ek nie dat jy eers op hierdie vlak moet begin nie. Dit is ʼn saak tussen jou en jou Skepper wanneer jy begin om jou tiende te gee, maar hoe vroeër hoe beter!

Dit is met dié oorvloed geld waarmee jy jou drome kan laat bewaarheid. Kry daardie plasma TV, koop vir jou vrou daardie juwele, gaan op daardie oorsese vakansie. Koop die jet-ski. Die oorvloed van jou begroting is joune om te doen en te koop net wat jy wil, gaan geniet dit. Kortliks, dis wanneer jy geld oor het nadat jy al jou verpligtinge nagekom het.

Prakties :

  • Pasop om nie te veel te koop sodat jy weer na ʼn vorige vlak toe terugval nie.
  • Gebruik slegs jou oorvloed geld.
  • Dis baie maklik om weer terug te val van hier af.

Wat jy mag koop :

  • Enige iets wat jou hart begeer
  • Solank dit uit jou oorvloed geld is
  • Moenie jou kontant-fonds leeg maak nie. Dit is nie vir luukshede nie, maar vir vêrdere beleggings.

 

Beleggings: Nadat jy nou al vir ʼn geruime tyd jou oorvloed geld op jouself spandeer het, kom jy agter dat daar nog steeds ʼn leemte in jou binneste is. ʼn Behoefte wat geen materiële speelding kan  vervul nie. Diensbaarheid aan ander! Het jy al daaraan gedink om iemand finansieel te help wat jou nie kan terug betaal nie? Dit is ʼn wonderlike gevoel!  Gaan lees gerus weer die gelykenis van die goeie Samaritaan. Kortliks, jy wend jou geld aan om ander te help.

Prakties :

  • Jy mag nou van jou kontant-fonds gebruik maak om vêrdere beleggings te maak.
  • Jy belê in ander: Jou nageslag, jou werkers, jou familie ensovoorts.
  • Hierdie is die lekkerste vlak om op te lewe, want jy is in ʼn posisie om jou geld vir goed te gebruik en te sien hoe jy die mense se lewens rondom jou beïnvloed.

Wat jy mag koop :

  • Erfstukke (groeiend bates)
  • Eiendom
  • Besighede
  • Borgskappe (om kinders deur skool en universiteit te help)

 

No comments yet

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: