Skip to content

Geestelike gawes

December 6, 2010

Geestelike gawes – deur Ds Jimi le Roux

Om geestelike gawes te ontvang en te gebruik is nie ‘n moeilike ding nie – dit is baie maklik en natuurlik!

Wat beteken dit om Geesvervuld te wees? “Geesvervulling” is om bewustelik en gereeld beheer aan die Gees van God oor te gee en onder Sy invloed te wees. Wanneer die Heilige Gees in beheer van jou lewe is, word die vrug van die gees in jou lewe sigbaar. Jou lewe word dan gekenmerk deur liefde, vrede, diensbaarheid, nederigheid en selfdissipline. In die Woord word die term egter ook gebruik om te verwys na ‘n besonderse ervaring met die Heilige Gees of te wel ‘n kragontmoeting.

Ons lees veral in Handelinge dat die dissipels besonderse ervarings met die Heilige Gees gehad het. Die ervarings is uiteenlopend van aard; soms het mense vir mekaar die hande opgelê en gebid, ander kere het dit net spontaan gebeur. Die gevolg van so ‘n kragontmoeting is ook uiteenlopend. Sommige het in geestelike tale begin spreek en ander het weer geprofeteer of hul getuienis met medegelowiges gedeel.

Sulke kragontmoetings is vir seker ook vir ons bedoel! Dit is belangrik om te onthou dat hulle ervarings in ‘n sekere leefwêreld en kultuurkonteks afgespeel het. Ons moet wel ons eie leefwêreld en konteks in ag neem, maar dit is ook vir ons beskore om in piek-ervarings die Here te ontmoet en Sy teenwoordigheid te beleef. Wees eenvoudig waar die Here werk, en gee jouself oor aan Sy Gees om te doen wat Hy wil. Geniet die teenwoordigheid van die Here en aanbid Hom openhartig. Wanneer ons intens bewus word van God se teenwoordigheid, kan mens soms emosioneel raak wat heel natuurlik en te verwagte is.

Omdat daar ‘n verskeidenheid van geestelike gawes is, is elkeen se verhouding en ervaring met die Here anders. Ons lees daarvan in
1 Korintiërs 12:4 – Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here; en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk.

Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is. Want aan die een word deur die Gees ‘n woord van wysheid gegee, en aan die ander ‘n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; aan ‘n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; aan ‘n ander werkinge van kragte, aan ‘n ander profesie, aan ‘n ander onderskeiding van die geeste, aan ‘n ander allerhande tale, aan ‘n ander uitleg van tale. Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.

Dis belangrik om te weet dat alhoewel daar verskillende gawes is, is dit een God wat alles in almal werk. Daarom kan ons nie verwag dat almal dieselfde ervarings sal hê nie. God werk individueel met elkeen deur Sy verskeidenheid van werke… Mense is uniek by God! Moet ook nie die fout maak om soos iemand anders te probeer wees nie. God werk met jou op ‘n totaal unieke wyse! Wees geduldig en wees tevrede met die wyse waarop die Here met jou werk.

Elkeen van ons het gawes van die Heilige Gees ontvang om ander te bedien. Ons kan drie soorte gawes onderskei naamlik, bonatuurlike gawes, natuurlike gawes en ampte. Ons lees van bonatuurlike gawes in 1 Timoteus 4:14 – Verwaarloos nie die genadegawe wat in jou is nie, wat jou gegee is deur die profesie met die handoplegging van die ouderlinge. Hierdie gawes lê nie natuurlik in ons nie, maar die Heilige Gees skenk ons die vermoë in ons eie gees om te kan profeteer, geeste te onderskei, gesond te maak, in tale te bid en dit uit te lê. Daar bestaan verskeie bonatuurlike gawes soos uiteengesit in 1 Korintiërs 12 en kan soos volg opgesom word:
Spreek-gawes – tale, uitleg van tale en profesie
Openbaringsgawes – wysheid, kennis en onderskeiding van geeste
Krag-gawes – geloof, gesondmaking en kragte

Enige gelowige kan hierdie gawes ontvang. In Handelinge het die dissipels dikwels na ‘n kragontmoeting met die Gees die buitengewone krag van die Gees beleef. Dit kan vandag nog gebeur! Maar, hierdie gawes word ook, soos met alles van die Gees, op ‘n baie individuele en persoonlike manier meegedeel. Ons moet wegwyk van ‘n eenvoudige resep af. Dikwels is daar ‘n spesiale ervaring met God, maar dit is nie ‘n moet nie. Soms moet iemand eers vir jou die hande oplê voordat jy die gawes ontvang en ander kere gebeur dit vanself.

Daar is wel altyd die geleentheid om jou geloof te beoefen. ‘n Gawe raak baiekeer eers aktief in ons wanneer ons dit oefen, aanwakker en gebruik.

Natuurlike gawes is talente wat in mense se lewens teenwoordig is. God salf ons egter en dan gebruik die Heilige Gees hierdie gawes op ‘n besonderse manier om mekaar te bedien. Dit is dus ook geestelike gawes alhoewel dit van nature in ons is. Die volgende is voorbeelde van geestelike gawes en word beskryf in Romeine 12:6 – En ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is: is dit profesie, na die maat van die geloof; of bediening, in die werk van bediening; of wie leer, in die lering; of wie vermaan, in die vermaning; wie uitdeel, in opregtheid; wie ‘n voorganger is, met ywer; wie barmhartigheid bewys, met blymoedigheid.

Die natuurlike gawes is die gewone manier waarop almal die Here kan dien, want almal het hierdie gawes!
Laastens kry ons ampte soos wat uiteengesit word in Efesiërs 4:11 – En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus. Uit sekere leierskap-gawes ontwikkel ampte of poste in die gemeente. Die beroepe wat daaruit vloei is apostels – die mense wat gestuur word om ‘n spesifieke werk vir die Here te doen; profete – diegene wat God se wil bekend maak; evangeliste – die wat die evangelie verkondig; herders – die wat die gemeente bymekaar hou en bedien en leraars – die wat die gemeente leer.

Dit is baie belangrik om te onthou dat ons gawes moet verskil. Ons gawes is soos ledemate van ‘n liggaam – elkeen het sy eie doel en funksie. Elke keer wanneer daar van gawes in die Bybel gepraat word, word daar in dieselfde asem van die liggaam van Christus gepraat. Jou gawe of vermoë is jou plek in die Liggaam van Christus; as ons nie verskil nie, kan ons nie behoorlik funksioneer nie!
Daar waar ons gawes en vermoë is, is ons passie ook – want dit is wat ons goed kan doen en ook graag wil doen. Dit is ook ons roeping! Is dit nie wonderlik dat dit wat die Here van ons vra, ook dit is wat ons graag vir Hom wil doen nie! As ons ons gawes inspan en gebruik, kom ons op die plek van ons bediening. Dan kom ons uit by die ideale plek waar ons dit geniet om vir die Here iets te doen, en dan kan die Heilige Gees deur ons vloei.

Om geestelike gawes te ontvang en te gebruik, is nie ‘n moeilike ding nie – dit is baie maklik en natuurlik! Jy het nie nodig om jouself in te span nie, maar moet slegs die Gees toelaat om deur jou te vloei!

No comments yet

Leave a comment