Skip to content

Stappe tot entrepreneurskap

December 6, 2010

Stappe tot entrepreneurskapdeur Timothy Kieswetter

Iemand het my eendag gevra wat die rede vir my sukses in besigheid is. Ek het ‘n rukkie daaroor gedink en geantwoord: “Ek is dom genoeg om God te glo as Hy met my praat.” Ek dink nie te veel oor dinge nie, ek oor analiseer nie dinge nie, die lewe is baie eenvoudig vir my. As ‘n deur oopgaan, stap ek in. As ‘n deur toegaan, stop ek. As jy wakker is, sal jy die deure sien wat oopgaan.

Dis ook wat ‘n entrepreneur is. Dis iemand wat wakker is. Iemand wat ‘n geleentheid raaksien, dit ondersoek en inspring. Ek het ‘n bordspeletjie ontwikkel genaamd, WoordWakker. Dis presies die twee sleutels wat jy nodig het om geleenthede raak te sien wat God vir jou gee. Die eerste sleutel is “Woord”. Dit beteken om tyd in die Woord te spandeer, om ‘n verhouding met God te hê. Dit beteken om Sy stem te leer ken sodat jy sal weet of ‘n oop deur van Hom af is of nie. Die tweede sleutel is “wakker”. Baie mense is vas aan die slaap.

As ek praat van ‘n entrepreneur verwys ek nie na die hoof van ‘n maatskappy nie. Mense dink omdat hulle ‘n gewone 9-5 werk het, is hulle nie ‘n entrepreneur nie. As jy die beginsels van entrepreneurskap toepas, kan jy ‘n entrepreneur wees terwyl jy op skool is, of terwyl jy vir Telkom werk. Entrepreneurskap is nie ‘n beroep nie, dis ‘n mindset. Entrepreneurskap is ‘n manier van dink en ‘n manier van lewe.

Ek is baie opgewonde oor Suid-Afrika. Dis dié plek om te wees. Die gesamentlike ekonomiese groei van die hele Afrika was verlede jaar 80 persent. Amerika en Europa het ‘n ekonomiese groei tussen 18-30 persent getoon. Suid-Afrika het nog nie sy ‘ ceiling ‘ bereik nie. Ek het na ‘n onderhoud gekyk met die persoon wat novelty t-shirts begin het. Sy besigheid is oor ‘n miljoen werd. Dis nou nadat hy al sy skuld afbetaal het. In die onderhoud het hulle hom gevra wat hy dink van al die jongmense wat Suid-Afrika verlaat om oorsee te gaan werk en sy antwoord was vir my baie hartseer. Sy antwoord was: “Ek is bly, want dis minder kompetisie vir my.” Dis goed vir sy besigheid, maar dis nie goed vir Suid-Afrika nie.

Entrepreneurskap is ‘n bediening. Dit gaan nie net oor jouself nie, maar oor die groter doel. Entrepreneurskap is om die gemeenskap op te hef. Christelike entrepreneurskap gaan daaroor om God se koninkryk uit te brei.

Ons almal ken die verhaal van Josef. Hy was jonk en het groot drome gehad wat hom konstant in die moeilikheid laat beland het. Josef het van ‘n jong ouderdom af besef dat hy vir groter dinge bestem is. Hy het groter gedroom as wat sy ouers, vriende en broers vir hom voorgeskryf het. Josef se broers was so jaloers op hom, dat hulle hom wou doodmaak. Jy sien, as God vir jou ‘n plan het, sal Hy jou beskerm. Hy sal alles ten goede laat meewerk vir diegene wat Hom liefhet. Al wat ons hoef te doen om seker te maak dat alles vir ons ten goede meewerk, is om Hom lief te hê. God sê dat as jy Hom liefhet sal jy Hom gehoorsaam.

Josef se broers het hom aan slawehandelaars verkoop en vir sy pa vertel dat hy dood is. Josef word toe later weer aan Pótifar verkoop. As gevolg van Josef het God Pótifar se hele huis geseën. Pótifar se vrou het vir Josef probeer verlei, en toe sy dit nie kon reg kry nie, het sy by haar man gaan klik en Josef is in die tronk gegooi. Jy sou dink dat Josef teen hierdie tyd redelik kwaad vir God was. Daar het niks gekom van al sy drome en passies nie. Eers beland hy in ‘n put en toe beland hy in die tronk. Josef moes gedink het: “Wat gaan aan?!” Meeste van ons sou teen daardie tyd al moed opgegee het. Miskien sou ons gesê het: “My drome is nie die moeite werd om te volg nie.”

Josef het nie gaan lê nie. As jy die beginsels van entrepreneurskap toepas, is jy net so suksesvol buite in die veld as in die tronk. Hoe kan ek dit sê? Na ‘n paar maande in die tronk, stel hulle Josef aan as die hoofgevangene. Josef het nie gaan lê nie. Dis ‘n eienskap van ‘n entrepreneur.

In die tronk lê hy toe Farao se bakker en se skinker se drome uit, en hy pleit by die skinker om tog sy saak by Farao te pleit. Maar die skinker het van hom vergeet. As jy jou hoop in mense gaan plaas, gaan hulle jou teleurstel. Maar as jy dit in God plaas, sal Hy jou nooit teleurstel nie. Na twee jaar het die skinker van Josef onthou toe Farao ‘n droom gehad het wat moes uitgelê word. Josef het Farao se drome uitgelê, en aan God die eer gegee vir die vermoë om dit te doen. Farao het toe vir Josef as tweede in bevel van die land Egipte aangestel.

Toe Josef se broers na Egipte toe gaan om kos te koop het hulle hom nie erken nie. As Josef enigsins iets anders as ‘n entrepreneur was, sou hy sy broers weg gejaag het. Maar entrepreneurskap gaan daaroor om die mense om jou te help. Josef het sy pa en sy hele familie na Egipte laat kom om daar te woon. Josef en Farao is toe later dood en die troonopvolger was nie so goedgesind teenoor die Israeliete soos die vorige Farao nie. Die nuwe Farao het die Israeliete as ‘n bedreiging gesien en hulle as slawe begin gebruik. Die Israeliete het vir 430 jaar in Egipte as slawe gewerk.

Daar is dertien eienskappe van mense wat in Egipte gebore is. En ook dertien stappe na entrepreneurskap wat iemand kan volg om uit Egipte te kom en in die beloofde land in te gaan. In hierdie geval stel Egipte selfsugtigheid voor. Om net genoeg vir jouself bymekaar te maak, op ander mense te trap en ander mense in die rug te steek, net sodat jy goed kan lyk.

Eienskap 1: Besef jy is in slawerny gebore

Die Israeliete was in Egipte, in slawerny gebore. Hulle het nie ‘n keuse gehad nie. Die vorige generasie is geleer dat jy gaan skool toe, kry matriek, gaan universiteit toe, kry ‘n graad en gaan werk vir dieselfde maatskappy of vir die staat vir veertig jaar. Alles het oor job security gegaan. Maar, tye het verander. Ons kan nie meer vandag net op ons kwalifikasies staat maak om ‘n werk te kry nie. As jy nie begin om soos ‘n entrepreneur te dink nie, gaan jy dit nie in Suid-Afrika maak nie. Volgens die woordeboek is ‘n entrepreneur iemand wat na ‘n situasie kyk en dan ‘n alternatief vind.

Jy kan nie kies waar jy gebore word nie. Maar jy kan kies om wakker te word. Ek is nie teen tersiêre opleiding nie. Entrepreneurskap is die vermoë om ‘n deur raak te sien, en tersiêre opleiding bied jou die tools om die werk te kan doen.

Stap 2: Besef jy is besig om iemand anders se piramiedes te bou

Een van die tekens dat jy in slawerny gebore is, is dat jy iemand anders se piramiedes bou. Jy werk en jy swoeg en jy sweet om ander mense se drome en visies te laat realiseer. Daar is nie tyd vir jou eie drome of jou eie visie nie. Jy werk jou hele lewe lank om iemand anders ryk te maak. Dink jy die Farao het vir die Israeliete erkenning gegee vir al die werk wat hulle moes doen? Hy het die hele wêreld uitgenooi na die sphinx se openingsaand behalwe die Israeliete.

Stap 3: Besef jy gaan nie hier groei nie

Die Egiptenaars het geweet wat om vir hulle slawe te gee om hulle daar te hou. Sekuriteit. Daar is baie meer sekuriteit in Egipte as in die woestyn. Jy het nie geloof nodig om in Egipte te bly nie. Jy het geloof nodig om na die beloofde land te trek. Dis maklik om deur die lewe te gaan en die maklike uitweg te vat. Maar, dit gaan nie noodwendig die beste opbrengs lewer nie. Ons het geloof nodig om na die beloofde land te trek. Sonder geloof kan ons nie God behaag nie. So jy gaan die stap van geloof moet neem.

In Egipte is die kos en die blyplek verseker – dis maklik daar. Gaan jy groei in slawerny? Not a chance! As jy lank genoeg in Egipte bly gaan Farao al jou drome en begeertes doodmaak. Want, hy weet as jy agterkom dat jy nie gemaak is om sy drome te vervul nie, maar jou eie, gaan jy die skuif maak en hy is nie veel werd sonder jou nie. God het ‘n droom in jou hart geplaas, jaag dit na!

Stap 4: Begin droom van ‘n vry land

Jy het nou net Braveheart gekyk en dit het jou geïnspireer. Jy wil nie meer net vir jouself lewe nie maar wil die gemeenskap ook ophef. Eendag ry ek verby ‘n skool in ‘n plakkerskap en sien hoe gehawend en vervalle die gebou is. Ek het bedroef geword en vir die Here gesê: “Here, gee my die finansiële vermoë sodat ek vir elke plakkerskamp ‘n ordentlike skool kan bou sodat ons die toekoms van hierdie nasie positief kan beïnvloed.” Watter drome en passies brand in jou hart? Dalk is al waaraan jy kan dink die Ferrari wat jy eendag wil ry. Ek wil ook ‘n Ferrari ry. Dit sal baie nice wees! Maar dis nie wat in my hart brand nie! Wat brand in my hart? Om te sien hoe mense se lewens verbeter. En as ek my Ferrari moet prysgee om dit te laat gebeur, doen ek dit met ‘n smile.

Stap 5: Kry vir jou ‘n mentor

Kry iemand wat al die pad gestap het. Kry vir jou iemand wat die woestyn ken. Wat het die Israeliete gedoen? Hulle het vir Moses gekry. Moses was veertig jaar in die woestyn voordat hy die Israeliete se leier was. Moses was ‘n mentor in opleiding. Te veel van ons luister na mense wat ook net ‘n droom het, maar nog nooit die pad gestap het nie.

Die probleem om baie geld te hê, is dat almal weet dat jy baie geld het. Almal wil hulle besigheidsidees met jou deel want hulle soek investors . Ek kry gereeld uitnodigings om na voorleggings van nuwe besigheidsidees te luister. Daar is baie groot praters daar buite. Mense wat kan belowe, maar wat nie kan deliver nie.

Party van ons is mentors in opleiding. Jy sit dalk in die woestyn en jy dink: “Here, wat gaan aan, ek het soveel om te gee. Niks wat ek probeer werk nie.” Ek wil vir jou sê, hou moed. Jy is heel waarskynlik besig met opleiding. Jy moet leer hoe om in moeilike omstandighede te oorleef, want oor ‘n paar jaar gaan daar miljoene mense wees wat afhanklik gaan wees van jou kennis van die woestyn.

Stap 6: Wag vir die regte tyd

God plaas dalk ‘n droom in jou hart dat jy ‘n groot sakeman gaan wees. Nou is jy nog op skool en jy besluit om na jou hoof toe te gaan, jy vertel hom van jou droom, en dat jy voel dat skool jou net terughou. Dit gaan jou niks in die sak bring nie. Moenie God se tydsberekening vergeet nie.

Dan is daar mense wat klaar geswot het en die Here sê vir jou: “Die tyd is nou!” Dan lyk dit skielik vir jou te veel en jy besluit om eerder terug te sit en te kyk wat volgende gebeur. Moenie een van die twee doen nie, moenie vooruit hardloop nie en moenie traag wees as God gepraat het nie. Wag vir die regte tyd.

Die Israeliete moes wag tot ná die tien plae Egipte getref het, voordat hulle getrek het. Hoekom moes hulle wag tot na die tiende plaag? Kon hulle nie maar al na die eerste plaag die skuif gemaak het nie? As jy die volgende stap ken, sal jy weet hoekom hulle moes wag.

Stap 7: Trek met al die besittings

Exodus 12:35 – En die kinders van Israel het gehandel volgens die woord van Moses: hulle het van die Egiptenaars silwergoed en goue goed en klere geëis; en die Here het aan die volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars, en dié het hulle versoek ingewillig. So het hulle dan die Egiptenaars berowe.

Israel het Egipte met al die Egiptenare se besittings verlaat. Hoe cool is dit! Na die tiende plaag het Moses vir die Israeliete gesê: “Gaan na die Egiptenaar wat oor jou aangestel is, en vra hom vir al sy silwer, goud en al sy klere.” Na die tiende plaag was die Egiptenare so moedeloos dat hulle tot enigiets ingestem het. Die Egiptenare het gesê: “Loop! Ek wil julle nooit weer sien nie. Die lewe is te kort daarvoor!”

Jy wil ‘n entrepreneur wees en jou eie baas wees. Dis great. Maar dis nie noodwendig waar jy hoef te begin nie. Gaan werk vir iemand. Gaan leer hoe ‘n besigheid werk. Dis nie maklik om ‘n besigheid te bestuur nie. Daar is baie goed wat jy moet weet. Gaan leer by iemand. Die probleem is nie om in Egipte te werk nie, want die dag wanneer jy daar uitstap neem jy al die kennis, ondervinding en hopelik al die kliente saam met jou.

Stap 8: Verander jou uitkyk

Na drie dae in die woestyn is die Israeliete se kos en water klaar, en wil hulle terug Egipte toe. Die rede hoekom die meeste start-up besighede vou is omdat hulle terug draai Egipte toe sodra die kos en water opraak. Hulle het nog steeds die mentality van ‘n slaaf. Wat is die houding van ‘n slaaf: “Ek hoef net te doen wat van my verwag word en iemand anders sal my salaris betaal. Iemand anders sal vir my kos en blyplek gee.” ‘n Entrepreneur kan nie bekostig en wag dat iemand anders vir hulle sorg nie. In die entrepreneurswêreld is daar nie ‘n mamma en ‘n pappa wat vir jou uitkyk nie. Jý is die mamma en die pappa wat vir ander uitkyk.

Stap 9: Volg jou eie drome

Toe die Israeliete agterkom dat al hulle voorraad op is, gaan kla hulle by Moses. Die Israeliete was vry, maar hulle het steeds ‘n slaafmentaliteit gehad. Van die hele volk van Israel, behalwe Kaleb en Joshua, het net Moses die beloofde land gesien, alhoewel hy self nie ingegaan het nie. Die res van die volk het Kanaän nie gesien nie, en nog minder dit bewoon. Die Israeliete het Moses gevolg sonder om sy visie te deel. As jy jou passies volg sal jy die beloofde land sien, en jy en jou nageslag sal dit bewoon.

Stap 10: As jy in God se wil is, sal Hy voorsien

Daar is ‘n tussen-periode tussen Egipte en Kanaän, genaam Woestyn . Daar is nie baie riviere in ‘n woestyn nie, anders sou dit nie ‘n woestyn gewees het nie. In veertig jaar se tyd groei ‘n mens fisies nogal baie. Wat dink jy het die Israeliete gedoen toe hulle skoene en klere te klein vir hulle geword het? Die Bybel sê dat hulle skoene en klere saam met hulle gegroei het! Hy het elke dag vir hulle manna voorsien, Hy het vir hulle water uit ‘n rots voorsien.

Stap 11: Eer God vir jou sukses

Na ‘n rukkie in die woestyn raak die Israeliete voorbarig en hulle bou ‘n goue kalf en hulle aanbid dit as dié god wat hulle uit Egipte gelei het. Hoe dom kan jy kry? Sonde is dom. Sonde maak jou dom.

Die Israeliete het voor daardie goue kalf gebuig en in die hoek van hulle oog, kon hulle steeds die wolk- en die vuurkolom sien. Hulle het geweet hulle sukses was te danke aan God alleen en nie aan enige ander god nie. Nog steeds het hulle gekies om ‘n afgod te eer.

Pasop dat jy nie die verkeerde mense eer vir jou sukses nie. Moenie dat jou sukses jou hoogmoedig maak nie. Moenie van jouself ‘n goue kalf maak en jouself eer vir jou sukses nie.

Stap 12: Lê vir jou kinders ‘n goeie fondasie

Slegs die nageslag het in die beloofde land ingegaan. Slawe is kortsigtig. Hulle wil net deur die dag kom. Entrepreneurs dink langtermyn. Moses het sekerlik gedink het: “Ek doen hierdie vir my nageslag.” En dit het hom aan die gang gehou.

Watter fondasie lê jy vir jou kinders? Ek het ‘n wonderlike pa. Hy het vir my die fondasie vir sukses gelê. As gevolg van hom, hoef ek nie heel onder te begin het nie. Almal begin by trappie nommer een. Maar nie almal se leer is op ‘n fondasie gebou nie. Ek het ook maar by trappie nommer een begin, maar die verskil is dat my leer het reeds op ‘n fondasie gestaan, in plaas van in ‘n gat. Party kinders moet nog eers uit ‘n gat klim voordat hulle by die fondasie kan kom. Ek is baie dankbaar vir die geleenthede wat my pa vir my moontlik gemaak het.

Moses het sy nageslag laat begin in ‘n land van melk en heuning. Waar gaan jy jou nageslag laat begin?

Stap 13: Moenie als op een slag wil hê nie

Alhoewel die Israeliete in Kanaän ingegaan het, was daar steeds stede wat hulle moes oorwin het. Hulle het nie net ingestap en het nie gesê: “ Cheers Almakiete, Gibeoniete en Hebusiete.” Die Bybel sê dat die Here het nie dadelik die hele land vir die Israeliete gegee nie, want die Israeliete was nie genoeg om die hele land te bewerk nie.

Jy mag dalk geroep wees om ook ‘n hele “beloofde land” in te neem maar, voordat jy nie in staat is om die hele land op een slag te hanteer nie, gaan God dit stukkie vir stukkie vir jou gee. Die sleutel om in Kanaän ‘n sukses te maak is om daagliks vir die Here te vra om jou strategie te gee hoe jy elke deeltjie van jou beloofde land in besit moet neem. Vra die Here: “Hoe oorwin ek vir Jerigo? Hoe oorwin ek vir Ai?”

Alhoewel Kanaän die land van melk en heuning is, kan jy nie op jou bas langs die rivier gaan sit nie. Sukses klop nooit aan ‘n lui man se deur nie.

Maak nie saak waar jy jouself nou in die lewe bevind nie, al wat jy nodig het om jou doel in die lewe te bereik is ‘n entrepreneurskapgees. Ek sê nie jy moet jou eie besigheid begin nie. Neem hierdie beginsels, pas dit toe in jou lewe, en jy sal sien hoe die eksodus in jou lewe begin!

No comments yet

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: