Skip to content

Wees Jesus vir mekaar

December 6, 2010

Wees Jesus vir mekaar – deur Rhona Kieswetter

Ons is deel van iets groters as net onsself

Almal van ons is so geneig om die hele tyd op ons eie lewens en probleme te fokus. Veral as ons omstandighede so verskriklik erg is, dat ons vlees ons amper dwing om aanhoudend daaraan te dink. Maar, dikwels help dit juis om in jou gebrokenheid na ander uit te reik en om hulle te help om deur hulle swaarkry te kom. Dit gee vir ? mens betekenis te midde van jou swaarkry.

Ons vergeet soms dat ons die liggaam van Christus is. Wanneer die kleintoontjie seerkry kla en kerm hy so baie oor sy pyn dat hy nie eers agterkom dat die vingers in die deur beland het en ook pynlik is nie! Wat sou jy gedoen het as dit jou vingers was? Sal jou tone dan sê: “Nee wat, julle wil mos alewig dink julle is bo ons, kry vir julle!” Nee, jou hele liggaam reageer! Jou ander hand gryp gou vas, jou oë bepaal die skade, jou stembande roep uit en jou voete hardloop vinnig om hulp te kry. Só wil God hê moet ons reageer as iemand in die liggaam van Christus seerkry of swaarkry. Moenie dink: “Wel, ons is miskien van dieselfde liggaam, maar ons is beslis verskillende seksies!”

Terwyl ek siek was, het mense voor my God gedank dat hulle nie deurgaan wat ek deurgegaan het nie! Natuurlik mag hulle dankbaar wees daaroor, maar dit beteken nie ons kan onsself heeltemal afsny van diegene wat swak in sekere areas is nie.

Kyk wat sê Romeine 15 – En op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie. Want elkeen van ons moet die naaste behaag met die oog op wat goed is tot stigting.

Nou dink jy dalk dat dit jou uitsluit aangesien jy ook swakheid beleef. Tog is daar ander areas in jou lewe waarin jy reeds gegroei het en sterk is. Dalk is jy ? goeie bidder of iemand wat ‘n goeie bemoediger is. Selfs jou sonnige glimlag en geaardheid kan wondere verrig vir iemand wat swaarkry!

Ek dink veral aan Job wat sekerlik die een is wat die swaarste van ons almal gekry het. Tog is hy vir ons so ? voorbeeld! Hy was bereid om vir sy vriende te bid terwyl hy eintlik die een was wat gebed nodig gehad het.

Hoe kan God jou gebruik?

Tydens my tyd in die woestyn, het ek besef dat God mense om my opgerig het wat Jesus vir my was. Sommige was Sy stem, sommige Sy ore en sommige Sy arms. So het Hy my altyd vertroos en bemoedig deur Sy liggaam. Konsentreer op jou sterk areas en gebruik dit om die liggaam van Christus te bemoedig. Op dié manier seën jy ander en jy voel diensbaar en vervuld, want jy weet die Heilige Gees vloei deur jou. Daar is niks so lekker, as om deur God gebruik te word nie.

Dalk is jy ? goeie luisteraar. Weet jy hoe skaars is sulke mense? Soms het jy nie advies, ? woord of ? preek nodig nie, maar iemand wat net aandagtig kan luister. Op die manier verwoord jy jou probleem teenoor iemand anders en in die proses van uitpak, kom jy dikwels self op die antwoord af. Maar as niemand die moeite gedoen het om te luister nie, hoe kan dit gebeur?

Ek het ? vriendin gehad wat ek nog nooit ontmoet het nie. Haar naam is Claudie Muller. Sy het vir jare vir my elke dag twee tot vier sms’e gestuur. Nooit het sy gekla oor haar eie dinge nie, slegs my bemoedig en gedra in tye wat ek in donker dieptes was. Ek was dikwels in trane, alleen en in pyn. Dan sal ek skielik ? sms van haar ontvang en weer glimlag omdat ek weet dat daar iemand is wat aan my dink.

Ek kan nie in woorde beskryf hoeveel keer die Here haar gebruik het nie! Elke keer wat sy my ge-sms het, het ek God se liefde ervaar omdat ek geweet het daar is iemand wat omgee. Dit het nie eers gegaan oor wat sy vir my gestuur het nie. Wat getel het was dat sy dáár was vir my. Sy is baie onlangs oorlede sonder dat ek eers geweet het dat sy siek was.

Dit is vir my ? perfekte voorbeeld van iemand wat onselfsugtig God se hart uitgestort het na ? deel van die liggaam wat dit nodig gehad het. Om iemand te bemoedig voel dalk vir jou nie soos ? groot bediening nie, maar in God se oë bedien jy Hom. Bemoediging is dikwels vir die persoon aan die ontvangkant ? lewensaar.

Eenheid dra ? boodskap uit

Jesus se gebed aan Sy Vader in Johannes 17 was dat ons een sal wees soos wat Hy en die Vader een is. Op die manier sal die wêreld in Hom kan glo omdat hulle die liefde van die Vader sigbaar sal kan sien. Wanneer ons een is met die liggaam van Christus, mekaar help, optel, aanspoor en dra, is ons eintlik besig om te evangeliseer sonder om direk te getuig. So sal die wêreld bewus raak van die Vader se liefde vir hulle.

In die Boodskap lees ons in 1 Petrus 4 – Daarom moet julle julle talente gebruik om ander te help… As iemand ? ander persoon help wat hulp nodig het, moet hy dit doen uit die krag wat God vir hom sal gee. Op die manier sal almal God se grootheid kan sien en sal Hy die eer vir alles kry.

Vra God elke dag hoe jy Hom kan seën deur een van Sy kinders te help. Kom ons raak meer betrokke by mekaar tot eer van Sy Naam!

Ek kry baie navrae oor waar om glyconutrients, die produk wat God gebruik het om my te genees van fibromyalgie, te kry. Dit is beskikbaar deur my, kontak my gerus by rhona@grootisutrou.co.za of 012-5481828 vir meer inligting.

No comments yet

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: