Skip to content

Maak jou reg vir ‘n verrassing . . .

December 8, 2010

Maak jou reg
vir ‘n verrassing . . .

– deur Gary Kieswetter

God wil jou weer in Sy goedheid laat glo!

Het jy al ʼn toets geslaag wat jy gedink het jy beslis sou druip? Daar is min dinge in die lewe so lekker as om verras te word met ʼn goeie uitslag wanneer jy ʼn negatiewe een verwag het! Partykeer in ons geestelike lewens verwag ons ook van God die negatiewe in plaas van die goeie. Die waarheid is dat God daarop uit is om jou aangenaam met Sy goedertierenheid, barmhartigheid en genade te verras!

God wil hê dat dit met jou moet goedgaan en dat jy Sy guns elke oomblik van elke dag sal ervaar. Die duiwel loop rond soos ʼn brullende leeu, en partykeer verwag ons dat hy ons sal verslind – maar dan word ons skielik aangenaam verras deur ʼn Woord van God wat ons in staat stel om die vyand te oorwin. In jou gees verwag jy ʼn donker vallei en dan ontdek jy dat God vir jou ʼn tafel voor jou vyand se aangesig voorberei het. Hoe wonderlik is God nie! God nooi jou uit om net die beste van Hom te verwag; God sê in Sy Woord dat net goedheid en guns jou sal volg al die dae van jou lewe.

Onthou jy hoe jy as kind altyd lucky packets gekoop het en met groot verwagting dit oopgeskeur het? ʼn Verrassing is gewoonlik iets wat jy nie verdien nie. Hoe minder jy dit verwag, hoe lekkerder is dit om verras te word. Maar, die lewe kan ook vol onaangename verrassings wees. Jy is dalk al vir jare gelukkig getroud en dan kom jy agter dat jou eggenoot deurtrek is van die kanker en dat die dokters niks meer vir hom kan doen nie.

Sulke onverwagse dinge het die vermoë om ons uit te mergel en ons te beroof van die belofte dat God vir ons ʼn hoopvolle toekoms het. Maar gedurende hierdie tyd wil die Here die geleentheid gebruik om jou aangenaam te verras! Kyk maar net na die verhaal van Abraham – hy en sy vrou was stokoud gewees toe die Here hul kom verras het met die belofte van ʼn erfgenaam.

Die Woord sê in Genesis 24:1 – En Abraham was oud en ver op sy dae, en die HERE het Abraham in alles geseën. Abraham was in elke liewe ding geseën gewees! Hoekom is ons partykeer so verbaas as die Here ons wil seën? Die Bybel sê tog vir ons in Deuteronomium 28:1 dat as ons sorgvuldig na die stem van die Here luister, sal die seëninge ons inhaal… Jy is nie veronderstel om verbaas te wees as die Here jou dán seën nie – jy moet dit eintlik verwag omdat Hy dit reeds aan jou beloof het. Dank God dat Sy goedheid, guns, barmhartigheid en genade vinniger as jou geloof en verwagting is! God wil jou met Sy guns verbysteek!

Wat ek ook vir jou wil sê, is dat jy minder dinge sal oorkom wanneer jy oortuig is van God se liefde en beskerming vir jou. Party mense het so ʼn negatiewe verwagting van God, dat hulle nie kan glo wanneer Hy aan hulle guns wil bewys nie. Jy kan vir hulle hoeveel skrifte in die Bybel wys waar die Here Sy goedheid en guns bevestig en nogtans kan hulle nie glo dat dit ook vir hulle waar is nie. God het jou ook in gedagte gehad toe Hy daardie beloftes gemaak het. Jy is nie uitgesluit van enige van die seëninge wat die Here vir Sy kinders belowe het nie. Die Bybel is persoonlik aan jou geadresseer!

Toe die tyd aanbreek dat Isak moet vrou vat, het Abraham sy dienskneg afgevaardig om vir hom ʼn godvresende vrou te kry. Die dienskneg het ingestem en het met tien volgelaaide kamele die pad aangedurf opsoek na die regte vrou vir Isak. Die dienskneg het tot God gebid en vir Hom gevra om hom te lei en vir hom die regte meisie uit te wys. Die dienskneg het ʼn gunstige antwoord van die Here verwag en was oop vir God se leiding.

Jy kan nie die heeltyd net die slegste van die lewe verwag en dan dink dat ʼn gelukkie jou iewers sal tref nie. Party mense is so neerslagtig, hulle het nie eers die vermoë om God meer in die oë te kyk en iets goeds van Hom te verwag nie. Die Bybel sê dat jy jou oë na die Here moet ophef en met verwagting na Sy hulp moet uitsien. God wil jou in die oë kyk en jou weer in Sy goedheid laat glo!

Terwyl Abraham se dienskneg nog besig was om God te vra om hom te help kies, het die Here reeds sy gebed beantwoord. Die Here het sommer sy gebed met spoedpos beantwoord want nog voor hy kon “Amen” sê, het Rebekka reeds aangestap gekom! Die Bybel sê in Jesaja 65:24 – En voordat hulle roep, sal Ek antwoord; terwyl hulle nog spreek, verhoor Ek. Wanneer jy ʼn positiewe ingesteldheid teenoor die Here het, dan antwoord Hy jou nog terwyl jy bid. Dit behoort jou te motiveer om met vrymoedigheid met die Here te praat en te verwag dat Hy jou altyd sal antwoord. Jy kan eintlik al jou gebede afsluit met die woorde, “byvoorbaat dankie”!

Daardie dienskneg was aangenaam verras deur God se bereidheid om spoedig Sy wil aan hom bekend te maak. Gebed is God se idee en nie die mens sin nie. Die Here het nie hoofsaaklik gebed ingestel sodat jy kan kry waarvoor jy vra nie, maar sodat jy kan doen wat Hy sê.

Die dienskneg het dadelik geweet dat Rebekka die regte een is! Sy het nie besef dat sy die antwoord op die dienskneg se gebed was nie. Sy het nie geweet dat al die geskenke eintlik vir haar bedoel was nie. God was besig om haar te seën, sonder dat sy dit geweet het. Sy het die kamele laat drink by die put sonder om vergoeding daarvoor te verwag omdat dit nie vir haar ekstra moeite was om ander uit te help nie. Daardie dag het sy niks buiten die normale gedoen nie; dit was deel van haar daaglikse werk om na die put toe te gaan en water te skep.

Het jy geweet dat werk nie ʼn vloek is nie, maar dat dit een van die seëninge in die tuin van Eden was? Na die sondeval was werk nie meer ʼn seën nie, en het dit ʼn vloek geword. Maar as jy in Christus is, is die vloek verby en kan jy weer werk met ʼn glimlag. Is jou werk vir jou moeite? God wil die moeite uit jou werk neem. Hy wil nie hê jy moet swoeg en sweet sonder dat jy enige genot daaruit put nie. Dit gaan nie oor hoeveel moeite jy in jou werk sit nie, maar hoe getrou jy is om te doen wat God jou gevra het om te doen. Wanneer jy iets uit gehoorsaamheid doen, dan haal die Here die moeite uit die werk uit. Dit beteken nie dat jy nie meer hoef te werk nie, maar wel dat sukses makliker kom.

Geniet jy dit om te bid, of is dit vir jou moeite en doen jy dit net elke dan en wan omdat jy skuldig voel? Wanneer jy bid sonder moeite, sal jy agterkom dat die Here jou keer op keer aangenaam verras en eerste met jou begin praat. Partykeer maak die Here my vroeg in die oggend wakker vir ʼn praaitjie! Ek wil nog slaap, dan wil Hy al geselsies aanknoop!

As jy met God praat, wees net eerlik oor jou gevoelens en praat sommer reguit met Hom. Jy kan nie die Here beïndruk met formele woorde en voorafgeleerde rympies nie. Daar is nie genoeg skape op hierdie aarde om wol oor Sy oë te trek nie! God is alwetend, alsiende en almagtig – Hy weet wanneer jy reguit uit jou hart met Hom praat en wanneer jy net besig is om jou eie gewete te sus.

Die verassings wat God vir jou ingedagte het, oortref al jou begeertes, behoeftes en verwagtinge. God is by magte om meer te doen as wat jy ooit sal kan hoop of droom! God se seëninge staan in ʼn tou om by jou uit te kom. Partykeer is die Here meer gretig om ons te seën as wat ons gretig is om dit te ontvang! God vind genot daarin om jou blydskap en vrede volkome te herstel. God vind genot daarin om jou lot ten goede te verander!

Ek het net een begeerte in hierdie lewe en dit is om ʼn glimlag op my God se gesig te plaas. My begeerte is nie om bekend en beroemd te wees en ʼn kerk van my eie te hê nie. My begeerte is om God te gehoorsaam! As ek alles in my vermoë sal doen om God te behaag, sal ek en die mense rondom my ook daaruit voordeel trek.

Daar is soveel van ons Afrikaners wat nie met vrymoedigheid na God toe kan gaan nie, omdat ons oortuig is dat Hy nog die hoenders in vir ons is oor wat ons laas alles gesondig het. Ons het partykeer die verwagting dat die Here nog ons sondes teen ons gaan hou en dat Hy net wag dat jy op die toneel sal verskyn sodat Hy jou kan bykom. Het jy al gesien hoe tree ʼn hond op wanneer jy met hom geraas het en dan vyf minute later weer terugroep? Binne ʼn sekonde vergeet daai hond dat jy vir hom kwaad was en hom by die huis uitgeboender het! Sy stert swaai alle kante toe en hy kom aangehardloop met die verwagting dat jy hom vergewe het en dat jy ʼn smulhappie gereed het!

ʼn Hond het die vermoë om dadelik sy jammer-houding te los wanneer jy hom terugroep nadat hy raas gekry het. Hoe kan ons dan nog die houding teenoor God hê dat Hy ons skade wil aanrig? Ons wat Sy geliefde kinders is; ons wat Sy oogappel is; ons vir wie Hy gesterf het. . . As ons hemelse Vader, dissiplineer God ons wel in liefde, maar Hy verwag nie dat ons in ʼn hoekie moet gaan wegkruip en te bang wees om Hom weer in die oë te kyk nie. Hy wil hê dat jy weer na Hom toe sal terugkom met ʼn glinster in jou oë en die spreekwoordelike swaai in jou stert en net die beste van Hom sal verwag.

Miskien het jy iets in jou verlede gedoen waarvoor jy jouself haat. Dalk is dit iets ernstig gewees soos ʼn aborsie of egbreek. Maar, omdat jy nie jouself kan vergewe nie, dink jy ook dat God jou nie kan vergewe nie. Jy gaan nie meer kerk toe nie, jy gebruik nie nagmaal nie en jy bid ook nie meer nie want jy is oortuig dat die oomblik wat jy na die Here toe gaan, gaan Hy jou oordeel en jou straf.

Jy is oortuig dat die Here jou afgeskryf het en dat Hy elke dag dink aan daardie verskriklike ding wat jy gedoen het! Dis ʼn leuen! Daar is geen sonde wat jy kon gepleeg het wat die Here jou nie voor sal vergewe nie. Daar is reeds voorsiening gemaak vir al jou sondes die dag toe Christus vir jou aan die kruis gesterf het!

Het iemand jou al op ʼn uitstappie geneem sonder om vir jou te sê wat om te verwag of waarheen julle gaan? Jy kom daar aan sonder enige verwagting en tot jou verbasing, het jou vriende vir jou ʼn verrassingspartytjie gereël! Het jy die opgewondenheid en die plesier in die mense se oë gesien? Het jy gesien hoe hulle dit geniet het om jou te verras?

God wil dieselfde vir ons doen. Dis asof al die engele in die hemel jou in die troonkamer wil inlei en uitroep, “verrassing!” Jy verwag dalk dat God jou gaan straf – maar Hy wil jou eintlik seën. Jy verwag dat God jou gaan oordeel, maar Hy wil jou eintlik vryspreek!

Rebekka het ingestem om reeds al die volgende dag saam met Abraham se dienskneg te gaan om vir Isak ʼn vrou te wees. Haar familie het by haar gesmeek om tog ʼn paar dae te neem voor sy gaan, maar Rebekka was gretig om dadelik die pad te begin stap wat die Here aan haar gewys het. Partykeer is ons traag om gehoorsaam te wees wanneer die Here met ons praat. Ons wil net gou nog vir oulaas dit en dat doen; ons wil net nog vir oulaas ons verlekker in ons sondes voor ons begin doen wat reg is.

Rebekka het sekerlik ook daarna verlang om met iemand so reg na aan haar hart te trou. God het ook die begeerte in haar hart gesien en haar tegemoet gekom. Hy het nie net vir haar ʼn gewone man gegee nie, maar een wat al haar verwagtinge oortref het! As mens verder lees in Genesis dan sien ons dat Rebekka ook Isak se verwagtinge oortref het! Hulle het mekaar een kyk gegee en geweet dat hulle vir mekaar bestem was.

Ek glo ook dat dit nie altyd maanskyn en rose was vir die twee nie; Isak en Rebekka het vir twintig jaar gesukkel om kinders te kry. Rebekka was onvrugbaar en kon nie Isak se begeerte vir ʼn erfgenaam vervul nie. Maar, Isak het verbete vasgeklou aan die belofte wat die Here aan sy voorvaders gemaak het dat hulle ʼn magtige nasie sou wees. Isak en Rebekka het bly hoop en bly glo dat God hulle met ʼn baba-seuntjie sou verras! God het hulle omtrent verras want nie lank nadat Isak vir Rebekka ingetree het, was daar twee babatjies binne-in haar!

Isak en Rebekka het mekaar ontmoet en het deur dik en dun bymekaar gestaan sonder om te skei. Hulle huwelik het twintig jaar se onvrugbaarheid oorleef. Toe Rebekka te moeg was om meer te hoop, het Isak namens haar gehoop. Toe Rebekka nie meer kon bid nie, het Isak namens haar gebid.

Wanneer God jou verras in jou besigheid of jou huwelik, is dit altyd vêr bo wat jy voor gehoop of gebid het! Dis tyd dat ons Afrikaners weer ons kop sal optel en God reguit in die oë sal kyk. Nie in angs en bewing nie, maar met ʼn hoopvolle verwagting dat Hy net die beste vir ons ingedagte het.

God verlang dat ons weer ons kop sal oplig vanaf ons neerslagtigheid, armoedigheid en teleurstellings. Dis weer tyd om te doen soos wat ons altyd in die weermag gedoen het – trek die boude en die maag in, maak die rug reguit en stoot jou bors uit en tel jou kop op! Daar is ʼn skrif wat sê dat as jy saam met God wandel, sal Hy jou weer ʼn lus vir die lewe gee.

Ons moet ophou om verskoning te vra vir ons taal, kultuur en ons geloof. God is nie klaar met die Afrikaner nie en Hy is ook nie klaar met Suid-Afrika nie! Verwag elke dag ʼn verassing van jou God!

No comments yet

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: