Skip to content

Bly soek na God se wysheid

January 3, 2011

Bly soek na God se wysheid
– deur Riaan Lombard
Ons moet vir God se wysheid in elke situasie vra en afsien van ons eie verduidelikings en ons eie manier van dink en doen
Die Psalmdigter sê dat dit beter is om een dag in die huis van die Here te spandeer as ʼn duisend dae op enige ander plek. Baiekeer lees ʼn mens sulke goed en dan maak dit nie sin nie. Hoe is dit moontlik dat een dag op een plek beter is as ʼn duisend dae op enige ander plek? As mens eerlik daaroor dink dan klink die aanbod nie so goed nie! Daar is darem lekker plekke op die aarde; dink net aan Mauritius of ʼn Griekse eiland . . .
Kom ek verduidelik vir jou wat die Psalmdigter eintlik probeer sê het. Het jy al ontvlugting op ʼn rustige plek gaan soek as die lewe te veel raak? As mens onder baie druk verkeer, is die beste manier om van alles te ontsnap deur tyd in die natuur te spandeer. As jy op die oop vlaktes kom of langs ʼn stroompie water gaan sit, dan begin jy naderhand ontspan en dit voel vir jou asof jy weer jouself kan word. Om een hele dag in die natuur te spandeer en net weer rustiger te word, kan meer vir jou doen as ʼn hele week in ʼn besige stad.
Dit is eintlik wat die Psalmdigter hier vir ons sê – om een dag in die huis van die Here te spandeer sal vir jou meer beteken as ʼn duisend dae op enige ander plek. As jy die vrede en die rustigheid wat jy in die natuur ervaar met ʼn duisend vermenigvuldig, dan kom jy naby aan wat hierdie Psalm uitbeeld.
Onthou dat die huis van die Here nie die vier mure is waar ons op ʼn Sondag bymekaar kom nie. As iemand more met ʼn stootskraper kom en kerkgeboue begin vernietig, gaan die huis van die Here nie vernietig wees nie. Die rede daarvoor is omdat die huis van die Here die gemeenskap van gelowiges is – daar waar twee of meer mense bymekaar kom om te aanbid en God se aangesig soek.
In die huis van die Here, spreek mense die wysheid van God. Volgens 1 Korintiërs 2:6 bestaan hierdie wysheid in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid. Die heersers van hierdie wêreld ken ook nie hierdie wysheid nie, want as hulle dit geken het, sou hulle die Here van die heerlikheid nooit gekruisig het nie.
Wysheid is ʼn fenomenale ding – inteendeel wysheid is een van die dinge waarsonder die mens nie sukses kan behaal nie. Gewoonlik as jy die verkeerde ding gedoen het en al jou verkeerde keuses begin jou van agteraf inhaal, kom jy agter hoe onwys jy opgetree het. Het jy al iets gedoen en aangepak sonder dat jy dit behoorlik deurdink het en dit wys benader het? Ons het ʼn lekker woord in Afrikaans daarvoor – halsoorkop! Die meeste van ons was al goed spyt gewees oor dinge wat ons net halsoorkop gedoen het en dan sit ons later met die gebakte pere!
Dit is nou soos wanneer mens vir Sondag-middag-ete aansit en hopeloos te veel eet. Jy lê weg aan rys, vleis en aartappels en as jy klaar is daarmee dan wag die vlapoeding. As jy sien iemand anders is besig met die tweede opskep, dan skep jy ook nog in. Dit is lekker terwyl jy kou en dis ook nog okei as jy sluk, maar as die kos eers in jou maag is en dinge raak bietjie knap, dan wens jy dat jy eerder matigheid voor oë gehou het!
Paulus sê hier dat ons wysheid onder mekaar moet spreek – wysheid wat van God af is en nie van die wêreld nie. Wysheid is ʼn wonderlike ding, maar wysheid kan ook van die verkeerde bron afkom wat net moeilikheid veroorsaak.
Daar is drie tipe wysheid tot ons beskikking; Goddelike wysheid, menslike wysheid en wêreldse wysheid. Goddelike wysheid is natuurlik die hoogste tipe wysheid wat daar is. God se wysheid sien en weet en verstaan alles. Hy ken die verlede, hede en toekoms en het geen raadgewers nodig nie. Dit is hierdie wysheid wat ons eintlik moet najaag. Ons moet God se wysheid in elke situasie soek. Jakobus sê juis dat as enige iemand wysheid kortkom, moet hy daarna vra en God sal dit vir Hom gee.
Hoe ons ʼn situasie sien en interpreteer en hoe God ʼn situasie sien, is partykeer myle uitmekaar uit. Jy kyk dalk na jou lewe en jy dink dat alles nutteloos is en dat daar niks meer oor is om voor te leef nie. God sien jou lewe en sien ʼn hoopvolle toekoms. Dit is partykeer waar ons die fout maak; ons kyk na ons lewens, situasies en probleme deur ons eie oë en ons sien nie ʼn ding soos wat die Here dit sien nie. Dit is waar menslike wysheid intree. Menslike wysheid bekyk iets uit ʼn logiese aspek uit en ons probeer dinge met ons kop uitredeneer. Ons probeer sin maak van ons omstandighede met ons eie manier van dink.
Ons moet vir God se wysheid in elke situasie vra en afsien van ons eie verduidelikings en ons eie manier van dink en doen. God sê in Jeremia dat Sy gedagtes en weë hoër is as ons gedagtes en weë. Ons moet daarna streef om God se gedagtes met ons gedagtes te versoen. Ons moet Sy gedagtes ons gedagtes maak en Sy weë ons weë.
Dit is ongelukkig só dat die vyand ook wysheid tot ons beskikking stel – die Bybel verwys daarna as wêreldse wysheid. Die vyand is gereed om sy wysheid in enige iemand se oor te fluister wat bereid is om te luister. Die wêreld se wysheid is enige wysheid wat maak dat ons ons eie wil op die voorgrond skuif en van God se wil vir ons lewens afsien. Dis baie maklik om na wêreldse wysheid te luister omdat dit so goed met ons vlees resoneer.

Jou vlees is egter gekant deur geestelike dinge en Goddelike wysheid. Jou vlees hou daarvan om kwaad te raak vir mense en om hulle sleg te sê. Jou vlees hou daarvan om bitter te wees en om daardie wrok te koester. Die vyand span sy wysheid in om jou te oortuig hoe hopeloos jou omstandighede is.
Goddelike wysheid aan die anderkant resoneer weer met ons gees. Salomo sê dat ons hierdie Goddelike wysheid moet najaag soos wat ons ʼn skat najaag. Wanneer ons hierdie wysheid najaag en in ons lewens toepas, sien ons dinge vanuit God se perspektief. Ons het hoop waar ons andersins hopeloos sou wees; ons het krag om weer op te staan waar ons andersins verpletter sou wees.
Ongelukkig versuim baie van ons om God se wysheid te soek. In plaas daarvan dat ons tyd met die Here spandeer om te hoor wat Sy siening omtrent ʼn saak is, google ons ons probleme of bespreek dit by tee-partytjies. Dit help nie om antwoorde op enige ander plek as in die Woord van God te gaan soek nie. Goddelike wysheid gaan altyd vir jou die deurbraak bring waarna jy soek.
Jy gaan ongelukkig ook jouself in baie min omstandighede vind waar die antwoorde vinnig genoeg na jou sin kom. Die geheim is om aan te hou soek na God se wil en Sy wysheid. Partykeer kyk jy na iemand se lewe en jy is verstom oor hoe geseënd en suksesvol daardie persoon is. Dit lyk net of alles altyd vir hulle in plek val. As jy bietjie met daardie persoon gesels, kom jy agter dat hy het aangehou klop en aangehou soek en op die regte tyd gevind. God weet wanneer is die regte tyd vir jou en my om te vind. Baiekeer gee ons op lank voordat die regte tyd aangebreek het. Die vyand weet dat die mens nie daarvan hou om te sukkel nie, en as hy jou kan kry om op te hou soek na God se wysheid, dan het hy die stryd gewen.
Die mense wat opgee, is die mense wat nie ver in die lewe kom nie. Die gesegde sê nie verniet dat aanhouer wen nie. Dis ʼn keuse om aan te hou glo wanneer jou vlees eerder wil tou opgooi. Geen situasie is ooit so erg dat jy kies om op te hou om te glo nie. Die vyand se hoofdoel is om jou te kry om op te hou bid en op te hou om op God se Woord te staan.
Hou aan om te soek; hou aan om te glo en baie belangrik, hou aan om na God se wysheid te soek. Hy sal jou dit op die regte tyd laat vind!

No comments yet

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: