Skip to content

Hou bene, hou!

January 3, 2011

Hou bene, hou!
– deur Gary Kieswetter
As jy die wedloop van Christenskap met volharding wil hardloop, moet jy van elke las en elke sonde ontslae raak, anders gaan jy geestelik moeg raak en uitsak.
Die pad van geloof wat jy besig is om te stap, is ʼn wedloop wat jy moet voltooi. Amper alles in die lewe is ʼn wedloop wat jy moet klaarmaak. Christenskap ook iets is wat jy begin en ook moet klaarmaak. Paulus sê in Hebreërs 12:1 dat ons elke las en elke sonde in ons lewens moet afskud, anders gaan ons dit nie maak nie.
Let op dat dit nie altyd net sonde is wat jou vooruitgang stuit nie, partykeer is ʼn las die oorsaak hoekom jy so moeilik aan hierdie wedloop hardloop. ʼn Las en ʼn sonde is nie noodwendig dieselfde ding nie. ʼn Las kan ʼn goeie ding wees, maar dit kan veroorsaak dat jy hierdie wedloop nie met gemak kan klaarmaak nie.
Dit is vir my altyd interessant om die Olimpiese Spele te kyk wanneer dit tyd is vir die 100m wedloop. Al die atlete neem hulle plekke in en maak gereed om weg te spring. Hulle het vir vier jaar lank intense voorbereiding gedoen om in daardie blokke te sak. Net een verkeerde wegspring kan maak dat hulle gediskwalifiseer word om verder deel te neem. Mens sien baiekeer hoe atlete deur ongedissiplineerdheid en nalatigheid toelaat dat hulle gediskwalifiseer word van ʼn wedloop waarvoor hulle jare lank geoefen het. Elkeen van ons is besig om die wedloop van geloof te hardloop en ons moenie toelaat dat ongedissiplineerdheid en nalatigheid maak dat ons gediskwalifiseer word nie.
Die beste voorbeeld van iemand in die Bybel wat permanent aan die hardloop was, was Dawid. Hy het al vanaf ʼn vroeë ouderdom vir sy lewe begin hardloop. God het vir Samuel opdrag gegee om vir Dawid as die nuwe koning van Israel te gaan salf. Op daardie stadium was Saul nog koning gewees, maar as gevolg van sy ongehoorsaamheid het God die salwing van hom ontneem en was dit tyd vir ʼn nuwe koning gewees.
Samuel het by Isai se huis opgedaag, gereed om een van sy seuns as die nuwe koning van Israel te salf. Isai het al sy seuns in ʼn ry laat staan sodat Samuel hulle kon bekyk. Almal was daar . . . behalwe Dawid – hy was besig om skape in die veld op te pas. Dawid se pa het hom nie eers waardig genoeg geag om hom ook in hierdie lyn te laat staan nie. Sy pa het nie enige potensiaal in hom gesien nie! Dit wys jou net hoe groot verskil daar is wanneer mense na jou kyk en wanneer God na jou kyk! Die mens kyk, maar God kyk én sien.
Daar staan sewe van Isai se agt seuns gereed om die wedloop as koning van Israel te begin. Samuel het een vir een elk van die manne deurgekyk gereed om die ramshoring vol olie op een van hulle se koppe uit te giet. Maar teen die einde van die ry het God nog steeds nie enige van die mans uitgewys as die een wat gesalf moet word nie. As vandag se tegnologie in daardie dae beskikbaar was, sou Samuel net daar en dan die adres ge-google het om seker te maak dat hy wel by die regte huis was!
God moet vir Samuel gefluister het dat dit nie die einde van die ry is nie – die lyn eindig eers in die veld onder ʼn boom . . . Samuel het weer vir Isai gevra of hy nog seuns het en hy het erken dat daar nog een oor is. Isai moes dit vreemd gevind het dat Samuel nie in een van sy ander seuns die eienskappe van ʼn koning raak gesien het nie. Wat sou die kanse wees dat Samuel die regte eienskappe in Dawid, wat nog ʼn bogsnuiter was, sou sien?! Die mense wat ons miskyk, is baiekeer die mense wat God in die oog het. God kyk nie na dieselfde goed as wat mense na kyk nie. God kyk nie soos ons mense na die uiterlike nie, maar na die innerlike.
Isai het vir Dawid laat roep en die oomblik toe Samuel hom sien, het hy geweet dat dit die een is wat hy moet salf. In Isai se oë was Dawid reeds gediskwalifiseer omdat hy geen potensiaal in hom gesien het nie. Maar, God sien nie net in Dawid ʼn toekomstige koning nie, hy sien in hom ʼn man na Sy eie hart! Samuel het vir Dawid gesalf en van daardie oomblik af, het die krag van die Here oor Dawid vaardig geword. Dawid was nog steeds ʼn laitie gewees; hy het nie in sentimeters gerek nie en hy het ook nie ʼn paar kilogram spiere bygekry nie! Uiterlik het dit nie gelyk asof daar enige iets aan Dawid verander het nie. Die enigste verskil was dat God se salwing op hom was en hy het die wedloop van koningskap begin hardloop.
Dawid het aangegaan soos normaalweg en het die volgende dag homself weer in die veld bevind waar hy moes skape oppas. Op ʼn dag, terwyl hy besig was om hierdie wedloop te hardloop, word hy uitgedaag en op die proef gestel. ʼn Honger leeu wat lus was vir ʼn lamsboud daag op die toneel op gereed om sy middagete uit te kies . . . Dawid het dadelik opgespring om die lammetjie teen die leeu te beskerm! As die salwing van God nie op Dawid was nie, sou hy dalk gebid het en gevra het dat die lammetjie geen pyn sou voel nie en dat dit vinnig verby sou wees!
Sê die Bybel nie dat die duiwel rondloop soos ʼn brullende leeu opsoek na iemand om te verslind nie? Meeste Christene hardloop weg van die duiwel in plaas daarvan dat ons hom verjaag! Ons vergeet partykeer dat die Leeu van Juda binne in ons leef en dan hardloop ons skoon in die verkeerde rigting! Die Bybel sê dat ons die duiwel moet weerstaan en dan sal hy van ons vlug. Ons is nie veronderstel om van die vyand te vlug nie – die vyand is veronderstel om van ons te vlug!
ʼn Paar dae later daag daar ʼn volwasse beer op ook lus vir lamsboud! Vir al wat ons weet het die beer dieselfde ou lammetjie gegryp en weggehardloop. Nou as ʼn volgroeide beer op sy agterpote staan, is hy baie groter as ʼn bogsnuiter van 16 jaar oud! Daardie beer kon met een klap Dawid se ruggraat van hom verwyder het! Dawid het nie op hom laat wag nie en het die beer agterna gesit . . .
Die dag het ook aangebreek dat Dawid se broers weermag toe gegaan het. Dawid het natuurlik nie gekwalifiseer nie en moes agterbly en na die skape kyk. Isai het vir Dawid na sy broers gestuur om te hoor hoe dit met hulle gaan en ook om vir hulle kos te neem. Dawid is daar weg met 16kilogram se kos vir sy boers. Kan jy jou voorstel hoe swaar hy daaraan moes dra? Dawid moet 16 kilogram se laste op sy skouers neem en hardloop. Toe Dawid by die offisier van die menasie aankom, het hy al die kos net daar gelos. Hy het inderwaarheid gedoen wat Hebreërs beveel het en van al sy laste ontslae geraak!
Nadat Dawid al die kos afgepak het, het hy na die voor linies van die oorlog laat spaander. Hy het nie lekker rustig gedraf om nog die uitsig te geniet nie. Nee! Hy het volspoed daar weggetrek en so vinnig soos wat hy kon gehardloop! Hoekom kon hy skielik so vinnig hardloop? Omdat hy van al sy laste ontslae geraak het! Daar was nou nie meer iets wat sy spoed kon breek nie.
Dawid het daar aangekom net om te hoor hoe Goliat die Israelse weermag uitdaag om ʼn man te stuur om teen hom te veg. Indien Goliat sou verloor, sou al die Filistyne die Israeliete se slawe word en vice versa. Uit ʼn weermag van honderde duisende soldate, was daar nie een Israeliet wat kans gesien het om teen Goliat te veg nie.
Dawid het begin ondersoek instel oor wat die man kry wat daardie reus op sy plek sou sit. Let op dat alhoewel nie sy pa of sy broers hom as ʼn man gesien het nie – het hy homself as ʼn man beskou. Die rede daarvoor is omdat Dawid homself gesien het soos wat God hom gesien het. Toe God Dawid gevind het, het hy ʼn man gevind – nie ʼn laitie nie!
Die vergoeding vir die man wat Goliat sou doodmaak was eerstens die voorreg om met die koning se dogter te trou. Dawid het die geleentheid gesien om binne ʼn oomblik van Meneer Niemand in Meneer Iemand te verander! Niemand is in God se oë ʼn niemand nie. Wanneer jy in Christus is, is jy ʼn koningskind en is dit meer as wat enige iemand ooit kan wees. Dawid het die potensiaal gesien om van ʼn skaapwagter na die koning se skoonseun bevorder te word. Tweedens sou hy met geskenke oorlaai word en derdens sou hy vir die res van sy lewe van belasting vrygeskeld word. Dit alleen is genoeg rede vir enige iemand om ʼn reus aan te vat!
Mens sou dink dat Dawid se broers bly sou wees om hom te sien. Maar die teenoorgestelde het gebeur, hulle het hom verneder en verkleineer. Hulle het hom vertel watse niksnut hy is en dat hy moet teruggaan plaas toe waar hy hoort. En raai wat? Dawid gooi al daai laste af! Moenie die las dra van die naamplakkers wat ander mense op jou plak nie. Hulle beledigings het soos water vanaf ʼn eend se rug gerol en hy het gekies om nie van homself te glo wat hulle van hom gesê het nie. Dawid se broers het hom as ʼn moeilikheidmaker gesien en hy het homself as ʼn man van God gesien. Jy gaan slegs die wedloop voltooi as jy leer om die laste wat ander mense op jou laai, dadelik af te skud.
Saul het te hore gekom van hierdie man wat bereid was om vir Goliat aan te vat. Dis vir my verstommend dat wanneer jy jouself begin sien soos wat God jou sien – dan begin mense jou raaksien. Die eerste ding wat Saul moes gedink het toe hy Dawid het gesien het was: “Ag my moeder!” Saul het Dawid op en af gekyk en vir hom gesê dat hy nog pure kind is. In gewone Afrikaans, hy is nog nat agter die ore!
Saul het sy hele wapenrusting vir Dawid laat aantrek met die hoop dat dit in sy guns sou tel en hom ʼn beter kans op oorwinning sou gee. Saul se wapenrusting was die beste in die hele Israel omdat hy die belangrikste persoon was. Hy was die koning en moes so bes moontlik beskerm wees want as die koning sneuwel, dan val die moed en die veggees van die hele weermag. Hierdie was dus die beste mensgemaakte beskutting wat Dawid voor kon vra! Dawid het dadelik onderskei dat hierdie wapenrusting net ʼn las is – al het dit logies sin gemaak dat hy so bes moontlik beskerm moet wees.
Dawid het al die laste wat sy broers en Saul op hom gelê het, afgelê en net die dinge opgetel wat God hom beveel het om op te tel – ʼn staf, ʼn slingervel en vyf klippies. Dis al – niks meer nie en niks minder nie en dit is al wat hy nodig gehad het om Goliat mee te dood te maak. Watse laste dra jy met jou saam? Met watter skuldgevoel sit jy al was dit nie jou skuld nie? Voel jy verantwoordelik vir goed wat buite jou beheer is? Voel jy skaam oor iets wat met jou gebeur het wat jy nie kon keer nie? Hierdie is die laste wat Hebreërs na verwys . . . hierdie is die dinge wat maak dat jy geestelik gaan uitsak en nie die wedloop met volharding kan voltooi nie.
Jy moet ontslae raak van al hierdie laste want dit gaan jou verhoed om voluit te hardloop. Jy moet volstoom kan hardloop na die linies van die geestelike geveg waarin ons almal ons bevind. Partykeer voel dit vir jou asof die lewe een groot geveg is. Dis ʼn geveg om jou huwelik aan die gang te hou; dis ʼn geveg om jou kinders groot te kry; dis ʼn geveg om jou werk te behou. Die Bybel sê nie verniet dat ons die goeie stryd van geloof moet stry nie!
Dawid het met die salwing van God op sy lewe gehardloop. Die salwing van God is Sy vermoë in jou lewe. God se las is lig en dit sal nie jou spoed breek nie en dit sal jou ook nie pootjie nie! Dit gaan jou ook nie moeg maak nie. Jesus het ʼn ope uitnodiging gerig aan almal wat moeg en oorlaai is om Sy juk op hulle te neem omdat Sy juk sag is en Sy las lig is.
Partykeer veroorsaak die laste wat ons met ons saamdra dat ons nie hierdie wedloop van geloof met volharding kan hardloop nie. Het jy al gevoel hoe swaar kan ʼn skuldgevoel raak? Het jy al gevoel hoe moeg kan jy raak deur die hele tyd sondebewus te lewe? Selfs ʼn swak selfbeeld en onvergifnis kan jou uitasem laat en maak dat jy nie enigsins verder wil hardloop nie. Dis nie maklik om die wedloop te hardloop met sulke laste op jou skouers nie. Dit maak jou moeg, put jou uit en maak dat jy geestelik uitsak.
Maar, wanneer jy Jesus se las op jou neem dan hardloop jy met gemak. Jy staan ook nie terug wanneer daar beproewinge oor jou pad kom nie omdat jy weet dat die salwing wat op jou rus, maak dat jy enige iets wat in jou pad staan, kan oorkom!
Jou geloof in Christus sal maak dat jy die wedloop suksesvol sal voltooi. Maar dan moet jy glo en nie vrees nie. Vrees sê dat die wedloop wat voor jou lê te veeleisend is en dat jy dit nooit sal voltooi nie. Jy moet die wedloop met geloof aanpak deur jou oë op Jesus te vestig wat die Leidsman en die Voleinder van die geloof is.
Die sukses van jou wedloop hang alles af van die goed wat jy met jou saamdra. As Dawid Goliat probeer doodmaak het met 16 kilogram kos, ʼn loodswaar wapenrusting en homself nog jammer gekry het omdat sy pa nie enige potensiaal in hom gesien het nie – sou hy nie die geveg gewen het nie.
Jy kan nie die wedloop van die lewe met angs, depressiwiteit en benoudheid aanpak nie. Jy moet die wedloop met ʼn huppel in jou stap en met blydskap aanpak. Gun jouself ʼn breek en geniet vir ʼn slag die lewe!

No comments yet

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: