Skip to content

Raak ontslae van jou bagasie

January 3, 2011

Raak ontslae van jou bagasie
– deur Gary Kieswetter
Wat is die dinge waarmee jy in die nag worstel? Party mense dra ʼn oornagtas vol skuldgevoelens, ander dra ʼn tas van bitterheid en ander weer ʼn handsak vol teleurstellings!
Raak ontslae van jou bagasie, want as jy dit nie doen nie, gaan jou bagasie van jou ontslae raak! Dis baie moeilik vir iemand om van onnodige emosionele bagasie ontslae te raak as hy in die eerste plek nie wil erken dat hy enige het nie. Die feit van die saak is dat almal van ons met oortollige emosionele bagasie rondloop.
Drie weke na bevrugtig is dit reeds moontlik vir ʼn fetus om sy ma se positiewe en negatiewe emosies aan te voel. Daardie fetus kan aanvoel as die ma hom in die eerste plek nie wou gehad het nie! Dit is vir my hartseer wanneer ma’s hul kinders verwyt wanneer hulle op ongewensde tye swanger geraak het – asof die babatjie die een was wat die datum van die vryery bepaal het! Geen mens op hierdie aarde het self gekies waar en wanneer om gebore te word. Dit het maar net gebeur . . . en toe jy weer sien, was jy reeds hier!
Dalk het jy ook in die baarmoeder reeds verwerping ervaar en sit jy met die emosionele skade. Jou ma het jou dalk verwyt omdat jou aankoms haar verhoed het om haar jeug te geniet of haar graad klaar te maak. Dit is totaal onregverdig van ouers om kinders vir hul eie foute te verwyt en hulle dan met emosionele bagasie te oorlaai wat hulle kwaliteit van lewe beïnvloed.
Daar is baie mense in hierdie lewe, wat al in hul veertigs en vyftigs is, en nog steeds nie hul skeppingsdoel bereik het nie omdat hulle gebore is met onnodige bagasie. God het nie vir enige een van ons bestem om met emosionele bagasie gebore te word nie. Almal van ons gaan aan genoeg dinge in die lewe blootgestel word wat bagasie kan veroorsaak!
As mens kyk na die dinge waarmee tieners vandag gekonfronteer word, is dit soveel meer as die dinge waarmee tieners vyftig jaar terug mee gebombardeer was. Ons as ouers was nie onder dieselfde hoeveelheid groepsdruk waaronder tieners vandag is nie. Baie van ons kinders is volwassenes in kinder-liggame. Baie van ons kinders se reinheid en onskuld was reeds op dertien jarige ouderdom van hulle onteem. Julle Afrikaners het ʼn mooi gesegde wat sê, vroeg ryp, vroeg vrot! Jy kan sommer op ʼn kind se gesig sien as hy al deur grootmensdinge op ʼn vroeë ouderdom is.
Wanneer ons die dag by trou kom, neem ons al daardie bagasie saam met ons in die huwelik in. Ons sê altyd dat die man die vrou oor die drumpel dra. Vandag kan ʼn bruidegom nie eers meer sy vrou opgetel kry om oor die drumpel te dra nie omdat sy soveel emosionele bagasie het! Sy bring saam met haar al die bagasie van haar vorige mislukte verhoudings, haar seer en haar teleurstellings. Die man het dan ook nog ʼn hele paar tasse vol van sy eie om saam te dra! Geen wonder hulle maak dit nie eers tot by die voordeur nie!
Veronderstel jy het ʼn sak oor jou skouer en ʼn tas in elke hand en dan moet jy nog probeer om iemand anders wat ook ʼn klomp bagasie het, op te tel. Dit gaan net een groot spektakel afgee! Dis hoekom baie huwelike nie uitwerk nie – daar is net te veel bagasie wat verhoed dat twee mense bymekaar kan uitkom.
Hoe weet jy wanneer jy onbewustelik emosionele bagasie saam met jou dra? Wel as daar ʼn situasie is waaraan jy konstant dink en sukkel om te verwerk, is dit ʼn duidelike aanduiding. Wanneer jy aan die situasie dink of iemand bring dit weer op, dan ervaar jy weer al daardie emosionele opwelling en is jy sommer weer van vooraf depressief en angstig.
Wat is die dinge waarmee jy in die nag worstel? Party mense dra ʼn oornagtas vol skuldgevoelens, ander dra ʼn tas van bitterheid en ander weer ʼn handsak vol teleurstellings! Party mense dra sommer ʼn sportsak vol verwerping! Ander sleep weer tasse vol haat, afguns, swak selfbeeld en onsekerheid agter hulle aan.
Het jy al gesien dat vandag se tasse baie meer pakplek as tasse van twintig jaar terug het? Twintig jaar terug was die spasie wat jy gesien het die spasie wat jy gekry het. Vandag se tasse is vol versteekte kompartemente en ekstra bêreplek. Dit is sommer ʼn paar tasse binne in ʼn tas! Daar is so baie ekstra sakkies en houertjies dat jy skoon vergeet wat jy als ingepak het!
Baiekeer het die seer van ons verlede net ʼn roof oorgekry wat elke keer weer oopgekrap word nog voordat dit gesond kon word. Dit is vir my hartseer om te sien hoe daar kort-kort rowe in Christene se lewens afgekrap word. As jy aanhoudend ʼn roof afkrap, dan kan die seerplek infeksie kry en septies raak.
Die doel van ʼn rofie is om ʼn beskermlagie te bied totdat die seerplek genees is. ʼn Roof is veronderstel om vanself af te val. As dit afgekrap word, beteken dit dat die seerplek nog nie genees het nie. Voor ʼn roof afval, begin dit gewoonlik vir ʼn vale te juk! Maar, as dit eers afgeval het, kan jy maar weet dat die wond nie weer oopgekrap kan word nie, al dra jy ʼn letsel na die tyd.
Voordat jy ooit met God kan eerlik wees, moet jy met jouself eerlik kan wees. Jy kan nie net onverwerkte emosies los en dink dat dinge vanself sal regkom nie. Mens sien dit baiekeer as iemand deur ʼn moeilike tyd gaan en nie wil aandag of erkenning gee aan die emosies wat hulle beleef nie. As jy vir hulle wil bid, laat hulle dit nie toe nie omdat hulle in hul oë okei is en ten alle koste ontken dat daar ʼn probleem is.
Party mense wil net nie van hulle bagasie ontslae raak nie! Het jy al ooit iemand probeer help wat verbitterd is? Jy probeer agter die kap van die byl kom, maar hulle wil jou net met die byl kap! Het jy ondervind hoe moeilik dit is om ondankbare mense te probeer help? Dis jou eie verantwoordelikheid om ontslae te raak van bagasie. God gaan dit nie namens jou doen nie – jy moet daarvan werk maak. Jy moet daarvan wíl ontslae raak!
Wanneer ek reis, merk ek altyd my bagasie met my naam, straatadres en volledige kontakbesonderhede sodat my bagasie my weer kan vind indien ek dit dalk sou verloor. Met ander woorde, ek maak my bagasie persoonlik! Ons doen presies dieselfde met ons emosionele bagasie – ons maak dit so persoonlik dat die dag as ons dit sou verloor, dan vind dit ons! As jy jou naam en adres op jou bagasie sit, gaan jy nooit daarvan ontslae kan raak nie.
Het jy al gesien hoe mense op ʼn lughawe tekere gaan as hulle sonder hul bagasie by hul bestemming aankom? Jy klim omtrent oor die toonbank om die lugwaardin by te kom . . . jy praat in tale wat geen uitleg nodig het nie! Jy raak ontsteld oor ʼn verlore tandeborsel met hare wat alle kante toe staan en in elk geval nooit ʼn tand bykom nie! Niemand kan eers daai tandeborsel gebruik nie, want niemand anders se tande groei in daardie rigting nie! Dit is eintlik vir jou tande ʼn seën dat jou tandeborsel verlore geraak het . . . maar, jy neem dit so ernstig op omdat dit jou persoonlike besitting is wat van jou ontneem is.
Ja, jy het bagasie nodig, maar dit is nie die essensie van jou lewe nie. Die punt wat ek wil maak is dat jy raak so ontsteld wanneer jy jou bagasie verloor, dat jy van al jou maniere vergeet. Jy vergeet wat belangrik in die lewe is en raak ontsteld oor dinge wat jy verloor het wat nie jou lewe kan versterk of verryk nie. Wanneer jy iets persoonlik verloor, is jy altyd ontsteld omdat jou menswees te nagekom is.
Baie mense hou so baie van die bagasie wat hulle met hul saamdra, dat daar nie ʼn manier is dat hulle ooit daarvan ontslae sal raak nie. Dit het vir hulle op ʼn vreemde manier ʼn lewensmaat geword. Party mense krepeer in hul verdriet, maar hulle wil nie daarvan ontslae raak nie want hulle gaan die aandag, empatie en simpatie te veel mis!
Hou op om te praat van jóú depressie en jóú siekte. Dis g’n jou probleem nie! Dit is die vyand se twak wat hy aan jou probeer afsmeer. God stuur nooit dié tipe van dinge oor jou pad nie – Hy gebruik dit wel tot jou voordeel want Romeine sê dat God alles ten goede laat meewerk vir diegene wat Hom liefhet. God is nooit die bron van enige iets wat sleg is nie.
Het jy al agtergekom dat as mans reis, is hulle bagasie altyd minder as die toelaatbare gewig? As vrouens reis moet hulle altyd inbetaal! Dieselfde met oortollige emosionele bagasie – dit gaan jou net ekstra tyd, geld en energie kos. Baie van die goed wat jy saam met jou neem, gaan jy in elk geval nie gebruik nie, maar jy pak dit in net vir ingeval jy dit dalk nodig sou kry . . . In die middel van die somer pak jy jou winterjas in net vir ingeval daar dalk ʼn sneeustorm is!
Ons doen dieselfde met ons negatiewe emosies. Ons pak ons ongewensde gevoelens in net vir ingeval ons dalk alleen voel en iets soek om ons geselskap te hou. Ons pak ons haat en bitterheid in net vir ingeval ons weer daardie persoon wat ons so te nagekom het, raak loop. Weet jy wat? Die persoon wat jy so haat slaap lekker elke aand – dit is net jy wat rondrol in die nag. Hy eet lekker en jy is die een wat stik. Daardie persoon het nie ʼn saak met jou haat en bitterheid nie, hy gaan aan met sy lewe en jy sit met die gemors.
Om onnodige bagasie saam met jou te dra, is ʼn vermorsing van geld, tyd en energie en bevoordeel niemand nie. Die Here het geen pryse vir iemand wat ekstra bagasie saam met hom rondsleep nie . . . daar is nie eers troospryse nie! Inteendeel, jy beroof jouself van die prys wat vir jou bestem was.
Die vyand wil emosionele bagasie op jou laai met die doel om jou vooruitgang in die lewe te stuit en jou van jou blydskap te beroof. Bagasie klou ook nie aan jou vas nie . . . jy moet self daai tas optel anders gaan dit net daar bly staan. Moenie die bagasie wat die vyand voor jou voete kom plak, optel en jou naam en adres daarop sit nie.
Wanneer jy vanaf Suid-Afrika met ʼn aansluitingsvlug na ʼn buitelandse bestemming vlieg, kan jy jou bagasie direk stuur sodat dit reeds vir jou wag wanneer jy daar aankom. Wanneer jy nie wil vergewe of van jou negatiewe emosies ontslae raak nie, is dit so goed jy stuur jou bagasie vooruit!
Die engelse praat van baggage maar al wat dit eintlik is, is garbage in a bag. Onvergewensgesindheid, haat en bitterheid is niks anders as vuilgoed nie. Een maal per week sit ons al ons vuilgoed in ʼn drom en los dit op die sypaadjie vir die vullisverwyderaars om dit ashoop toe te neem. Weet jy dat geen munisipaliteit in jou huis in kom en al die vuilgoed vir jou bymekaar maak nie? Dit is jou verantwoordelikheid om te sorg dat dit in die vullisdrom kom waar dit hoort.
Net soos wat jy elke maand vooruit betaal sodat die munisipaliteit jou vullis kom verwyder, so het Jesus Christus klaar betaal sodat jy van al jou vuilheid, sonde en emosionele bagasie ontslae kan raak. Maar, jy is verantwoordelik om die gemors in jou lewe skoon te maak en dit na die Kruis te neem.
Het jy al gesien dat as een iemand sy sypaadjie skoonmaak en die bossies uit trek, dan volg die ander bure kort op sy hakke? Wanneer een persoon begin om sy lewe skoon te maak, dan sien die ander mense gou-gou die rommel in hul eie lewens ook raak. Ons kan partykeer so maklik gewoond raak aan die vullis en die onkruid rondom ons dat ons dit nie meer raaksien nie. Net omdat jy dit nie meer raaksien nie, beteken dit nie dat dit nie meer daar is nie en jy kan maar aanhou om dit te ignoreer nie. Party van ons sien nie meer ons haat, bitterheid en onvergewensgesindheid raak nie omdat ons dit al vir soveel jare ignoreer.
Nadat die vullisverwyderaars die asblikke kom leeg maak het, neem hulle dit na ʼn vullis-terrein waar dit vernietig word. Kan jy jou voorstel dat iemand die volgende week vullis-terrein toe gaan om weer sy ou rommel tussen al die ander gemors te gaan uitsnuffel?! Niemand gaan soek hulle ou vrot vis en piesangskille op vullishope om dit weer te gebruik nie. Nogtans is dit wat ons in ons geestelike lewens doen. Ons gee al ons gemors vir die Here net om dit weer te gaan haal wanneer ons die persoon teëkom wat ons seergemaak het!
As jy jou haat, selfverwyt, self-bejammering en jaloesie in die sak van belydenis sit en dit op die sypaadjie van goddelike berou plaas, moet jy dit nie weer op die ashoop gaan soek nie. Spreuke 28:13 sê dat die mens wat sy sondes bely en dit laat staan, sal genade vind. God neem jou sondes weg, gooi dit oor Sy skouer en Hy dink nooit weer daaraan nie! Hoekom wil jy dan agter God se rug alles weer gaan opraap?!
Paulus sê dat hy vergeet van alles wat agter hom is en strek hom uit na dit wat voor hom is. Die vyand gaan altyd weer probeer om jou bagasie aan jou terug te besorg. As jy jou sondes bely, is God regverdig en getrou om jou sondes en al jou ongeregtighede te vergewe en nooit weer daaraan te dink nie. As God nie eers meer daaraan dink nie, wie is jy om nog steeds daaroor te tob?
Jou verantwoordelikheid is om elke las af te lê en dit by die Kruis te gaan neersit en Hy sal daarvan ontslae raak. Raak ontslae van jou bagasie man! Jy kan nie die wedloop wat voor jou lê met oorgawe hardloop solank as wat jy daarop aandring om aan jou oortollige bagasie vas te klou nie!
Jou bagasie gaan maak dat jy uit die wedloop van geloof gaan uitsak want iewers gaan dit vir jou te swaar raak om te dra. Hou jou oë gevestig op Jesus wat die begin en die einde van jou geloof is. Dan sal jy nie geestelik moeg raak en uitsak nie!

No comments yet

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: