Skip to content

Wie dink jy is jy?

January 3, 2011

Wie dink jy is jy?
– deur Fanie Bolleurs

Het jy geweet dat jy ʼn siel het? Natuurlik het jy! Maar ek is seker daarvan jy weet nie so lekker wat dit is of wat jy nou juis daarmee moet maak nie. Wel, jou siel bestaan uit jou wil, denke en emosies. Jy kan ook dit baie vereenvoudig en sê dat dit alles is wat in jou brein aangaan.
Jou brein kan hoofsaaklik in drie dele gedeel word, naamlik jou bewussyn, onderbewussyn en jou kreatiewe-onderbewussyn. Jou bewussyn is iets wat geen verduideliking nodig het nie – dis alles wat jy bewustelik doen en dink. Jou onderbewussyn is egter die dinge wat jy dink sonder dat jy daarvan bewus is. Bitter min mense weet egter wat die kreatiewe-onderbewussyn is . . . en dit is waar die groot geheim lê as jy jou lewe wil verander.
Jou kreatiewe-onderbewussyn se funksie is om alles te skep en te kweek wat jy van jouself glo. Die vraag is dus, wat gló jy van jouself? Die volgende vraag wat jy moet vra, is hoekom glo jy wat jy gló? Wel as jy Romeine 10:17 lees, dan kom jy agter dat geloof kom deur die woord en die aanhoor daarvan. Met ander woorde, geloof kom deur wat jy hoor.
Jy het seker al tot vervelens toe gehoor dat jy geloof moet hê, maar jy weet dalk nie so lekker waar om dit te kry nie! Wel, die antwoord is eenvoudig – jy gló wat jy gló omdat jy dit iewers gehoor het. Dit maak nie saak waar jy dit gehoor het nie – dit is irrelevant of jy dit by die skool of by die kerk of by ʼn partytjie gehoor het. Dit maak ook nie saak of wat jy gehoor het waar is nie – die feit van die saak is dat jy dit gehoor het en dat jy dit geglo het!
Kom ons toets gou hierdie beginsel en kyk of dit werk. . . As ek nou vir jou sê om asseblief nie aan ʼn pienk olifant te dink nie – wat is die eerste ding waaraan jy dink? ʼn Pienk olifant natuurlik! Jy kan jouself nie keer nie, maak nie saak hoeveel keer ek vir jou sê om nie daaraan te dink nie. Die beginsel wat ek wil tuis bring is dat wanneer jy iets hoor, vorm dit ʼn prentjie in jou kop en kan jy nie anders as om daaraan te dink nie.
Kom ek gee vir jou nog ʼn voorbeeld. Jy het dalk ʼn boetie wat jou grensloos irriteer. Elke keer as jy hom sien dan sê jy vir hom: “Jy is irriterend pêl, gaan weg!” Ek hoef seker nie vir jou te noem dat dit nie die gewensde effek het nie want hoe meer jy vir hom sê dat hy irriterend is, hoe meer irriterend raak hy. Onthou nou dat die beginsel is dat geloof kom deur dit wat jy hoor. Omdat jou boetie die hele tyd hoor dat hy irriterend is en dit ook nou self glo, skep sy onderbewussyn nog meer irriterende gedrag.
Ek het eenkeer ʼn eksperiment by ʼn skool gedoen om vir die leerders presies te wys hoe kragtig die kreatiewe-onderbewussyn is. Ek het vir vier graad nege seuns gevra om ʼn ander seun in ʼn ander klas te gaan vra of hy okei voel, want hy lyk bietjie bleek. Die seun wat kamstig siek gelyk het, het nie geweet dat ons met ʼn eksperiment besig is nie. Nadat hy vier keer in vier ure gehoor het dat hy siek lyk, het hy begin glo dat hy siek is en kort voor lank het sy kreatiewe-onderbewussyn die gepaste simptome geskep. Nodeloos om te sê, teen tweede pouse was hy reeds in die sieke-kamer!
Die volgende ding wat jy van jou brein moet weet, is dat dit uit neurobane bestaan. ʼn Neurobaan is soos ʼn voet-paadjie in jou brein wat die gang van jou gedagtes bepaal. Hoe meer jy die voetpaadjie stap, hoe meer deurgetrap raak dit en hoe makliker loop jy op die pad. Dit is presiese hoe jou brein werk. Hoe meer jy oor iets dink, hoe makliker dink jy daaraan omdat die voetpaadjie of die neurobaan al hoe meer uitgetrap raak.
Dit neem presies veertig dae vir jou brein om ʼn nuwe neurobaan te skep of ʼn bestaande een af te breek. As jy dus iets nuuts wil aanleer, moet jy dit vir veertig dae lank doen. Dieselfde as jy iets wil afleer – jy moet vir veertig dae lank dit nie doen nie. As jy vir veertig dae lank nie rook nie, rook jy ook nooit weer nie. Ek het vroeër jare dertig sigarette ʼn dag gerook en het op ʼn dag besluit om op te hou. Die eerste dag het ek dertig gerook en die volgende dag net nege-en-twintig. Ek het elke dag een sigaret minder gerook tot die dertigste dag wat ek my laaste sigaret gerook het. Ek het vir veertig dae lank myself van nikotien weerhou en daarna het ek nooit weer aan ʼn sigaret geraak nie.
Ek het ook nie begin rook omdat daar ʼn klier in my liggaam was wat na nikotien gesmag het nie. Ek het begin rook omdat ek gehoor het dat as ek cool wil wees, moet ek rook en ek het dit geglo! Nadat ek begin glo het dat ek cool sal wees as ek rook, het ek begin lus raak vir sigarette. My kreatiewe-bewussyn het net geskep wat ek geglo het!
My pa en my oupa was albei alkoholiste en die dag toe ek my eerste dop vat toe dink ek: “Ek gaan nes my pa eendag wees en dis nie wie ek wil wees nie.” Dis toe dat ek besluit het om nie in hulle voetspore te volg nie en om my gedagtes aangaande myself te verander. As ek aangehou glo het dat ek ook eendag ʼn alkoholis gaan wees, sou ek beslis vandag een gewees het. Die enigste manier om jou toekoms in jou eie hande te neem, is om anders oor jouself te begin dink.
Jy is dalk oortuig dat dit jou swak DNA is wat maak dat jy so met wiskunde sukkel! Maar die kanse is beter dat jy iewers begin glo het dat jy nie slim is nie. Dalk het iemand iets vir jou iets gesê wat jou laat glo het dat jy onnosel is. Elke keer as die periode vir wiskunde aanbreek, begin jou handpalms sweet en jy kry ʼn skielike pyn op jou maag. Eintlik sukkel jy nie met wiskunde omdat jy dom is nie, jy sukkel met wiskunde omdat jy nie weet dat jy eintlik slim genoeg is om dit te kan doen nie!
Jou brein is ʼn fenomenale orgaan, maar daar is een ding wat jou brein nie kan doen nie. Dit kan nie tussen ʼn grap en ʼn feit onderskei nie. Jou brein liasseer alle informasie wat deur jou vyf sintuie opgeneem word – of dit nou die waarheid is of nie. Jou brein het nie ʼn afsonderlike grappie-kassie en feite-kassie nie. Ek kan met jou ʼn grappie maak en vir jou sê dat jy so dom soos grond is en jou brein sal dit as ʼn feit liasseer. As jy die grappie gaan glo, gaan jou kreatiewe-onderbewussyn simptome skep wat by ʼn dom mens pas.
Deur op te hou om leuens oor jouself te glo, en te begin glo wat God van jou sê, kan jy vir jouself die toekoms skep waarvan jy droom. Jou kreatiewe-onderbewussyn staan reg om alles te skep wat jy glo! Nou dat jy al hierdie nuwe inligting het, moet jy by die Here uitkom en Hom vra om vir jou uit te wys as daar dinge is wat jy van jouself glo wat nie waar is nie.
Jy kan jou lewe verander deur jou denke te verander. Om te sondig beteken om jou doel in die lewe te mis. Jy gaan jou doel in die lewe mis as jy die verkeerde dinge aangaande jouself gló en dink. Die Bybel sê nie verniet dat soos wat ʼn mens dink, so is hy nie!
Nou hoe weet jy as jy jou doel in die lewe mis? Eerstens moet jy weet wat jou doel in die lewe is om te weet wanneer jy dit mis. Die belangrikste ding wat jy moet weet is dat jy hoofsaaklik vir God se gebruik geskep is. God het jou vir Hom gemaak! Jy bereik jou doel deur eerstens jou lewe en jou hart vir God te gee. Tweedens moet jy jou sondes bely – onthou nou dat om te sondig beteken om jou doel te mis. Bely dus dat jy God se doel vir jou lewe gemis het en vra Hom om jou elke dag deur Sy Gees te lei, sodat jy elke dag jou doel kan bereik.
Moet nooit vergeet dat die Here weet watter gedagtes Hy aangaande jou koester nie. Dit is gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om jou ʼn hoopvolle toekoms te gee. God het vir jou ʼn droom wat Hy wil hê bewaarheid moet word. Jy hoef nie die hele droom vooraf te weet om dit waar te kan maak nie. Begin net deur elke dag na Sy wil te vra en om alles te glo wie die Bybel sê jy in Christus is!

No comments yet

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: