Skip to content

Die Israeliete bou die Tabernakel

March 15, 2011

God wou ʼn plek hê waar Hy die Israeliete van aangesig tot aangesig kon ontmoet. Dit sou nie net ʼn gewone tempel gewees het nie, maar ʼn aardse replika van die hemelse tabernakel.

Nadat die Israeliete die Tien Gebooie ontvang het, het God hulle baie spesifieke instruksies vir die bou van die tabernakel gegee. Die volk moes “vir My ’n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon” (Eks. 25:8). Die tabernakel was ʼn woonplek wat aan God se teenwoordigheid gewy sou wees. Die Here het verklaar dat Israel geheilig sal word wanneer Hy hulle by die deur van die tent van ontmoeting ontmoet: “Daar sal Ek die Israeliete ontmoet en daar sal hulle geheilig word deur My magtige teenwoordigheid” (Eks. 29:43).Eerstens het God die instruksies vir die ark gegee: ʼn houtkis wat ongeveer drie en ʼn drie-kwart voet lank en twee en ʼn kwart voet hoog en wyd sou wees. Dit was die simbool van God se teenwoordigheid, die plek waar Hy Moses sou ontmoet en met hom praat. Binne die ark sou die getuienis van die verbond kom wat God vir Moses sou gee. Die versoendeksel was net so lank en breed soos die ark en ʼn simbool van God se troon.

Op die dag van Verootmoediging sou die priester bloed voor en op die versoendeksel sprinkel (Lev. 16:14). Volgens tradisie is die bloed in die vorm van ʼn kruis gesprinkel. Hierdeur het God versoening vir Sy volk bewerk. Twee goue gerubs moes bo-op die ark se deksel, weerskante van die versoendeksel, kom. Gerubs is hemelse wesens wat waghou oor God se troon, engele met die doel om te “beskut” (Eseg. 28:14 )

Volgende het God die spesifikasies vir die tafel van die toonbrode gegee. Die suiwer goue tafel met die brode sou dien as verteenwoordiging van God as die Israeliete se voorsiener van voedsel. Die toonbrood sou dien as ʼn tipe Christus, die Brood van die Lewe. Die toonbrood moes “altyd daar voor My in My teenwoordigheid wees” (Eks.25:30).

Die goue kandelaar moes ses arms hê wat uit die stam vertak, drie aan elke kant. Die kandelaar dien as ʼn simbool van God as die lig wat die Israeliete tydens die uittog uit Egipte gelei het. Dit is ook ʼn tipe van Christus. God het ook gesê: “Beveel die Israeliete om vir jou besonder suiwer olyfolie vir die lampe te bring sodat die lig voortdurend kan brand” (Eks.27:20). Die lampe moes van die aand tot die môre brand – ʼn voorskrif wat “vir altyd geld vir die hele Israel” (Eks. 27:21). Die olie was simbolies van die Heilige Gees. Die instruksies vir die tabernakel neem die hele Eksodus 26 in beslag. Die hoogtepunt van hierdie struktuur is die Allerheiligste, die area agter die voorhangsel. Die voorhangsel sou die Heilige van die Allerheiligste skei. Die brandofferaltaar is ʼn tipe kruis waar Jesus Christus Homself sou offer as ʼn heilige offer ter wille van alle sondaars. Die brandoffer is as ʼn maaltyd voorberei en aan God voorgesit as ʼn simbool van die mens se beste opbrengs om deur God gebruik te word soos Hy wil.

Die tabernakel moes ook ʼn voorhof hê. Dit sou ʼn groot, opelug area vir offers wees. Al die toebehore van die voorhof sou van brons gemaak wees. Hoe nader die items aan die Allerheiligste was, hoe meer waardevol was die metaal waarvan dit gemaak was. Dit simboliseer die noodsaaklikheid daarvan (in die Ou Verbond) dat die een wat God ten volle genader het, “suiwer” moes wees. God het ook vir Moses instruksies gegee aangaande die priesters se klere. Aäron en sy seuns is aangestel as die priesters. Die kwaliteit en standaard vir hierdie kledingstukke was hoog. Die klere sou die priesters se outoriteit bevestig. God het vir Moses gesê: “Maak vir jou broer Aäron gewyde klere wat waardig en mooi is” (Eks. 28:2). Wanneer Aäron die heiligdom binnegaan, moes hy “die name van die stamme van Israel in die borssak op sy bors dra om My, die Here, altyd aan hulle te herinner” (Eks.28:29).

As die hoë priester, was Aäron Israel se hoof verteenwoordiger by God. Hy sou ook God by die volk verteenwoordig. Die skouerkleed was ʼn uitvoerige vierstuk waarmee Aäron simbolies Israel op sy skouers in God se teenwoordigheid sou indra. Die mantel wat saam met die skouerkleed gedra word, is onder die skouerkleed en borsplaat gedra om Aäron te herinner aan God se nabyheid. “Verder moet jy ʼn plaat van suiwer goud maak en daarop graveer, soos op ʼn seëlsteen uitgesny word: “heilig aan die Here” of “aan die Here gewy”. Hierdie frase spreek van die toewyding en leefstyl van die hoë priester en Israel as gevolg van God se uitverkiesing.

Die priesters moes ook linnebroeke dra om hul naaktheid te bedek. Die linne was simbolies van geregtigheid. Ontblote geslagsdele was ʼn algemene verskynsel in die Kanaäniete se aanbidding. Aäron en sy seuns moes gewy word om hulle te heilig vir die priesterlike amp. Die rituele reinigings het die uiterlike van die persoon skoongemaak. Dit was ʼn voorganger van die Nuwe Testamentiese doop. Aäron is ook met olie gesalf, wat op sy kop uitgegiet is (Eks. 29:7). ʼn Bul is geoffer as ʼn sondeoffer, ook bekend as ʼn skuldoffer. Die bul het letterlik die sondebok geword. Hierdie offer was vir die opsetlike en onopsetlike sondes waarvoor daar geen vergoeding was nie. Die skuldgevoelens vir die sondes is simbolies van die mens na die dier oorgedra deur vir die dier hande op te lê (Eks. 29:10). Die dier is dan geslag en die sonde dus bedek.

ʼn Vuuroffer in die vorm van ʼn ram is ook gedoen as ʼn simbool van die nuwe priesters se toewyding aan God. Die bloed van die ram moes ook aan die priesters se regteroorlel gesmeer word om aan te dui dat hy slegs die Woord van God sou hoor; aan sy regterduim om aan te dui dat hy tereg die priesterlike pligte sou uitvoer; en aan sy regtergroottoon om aan te dui dat hy die pad van geregtigheid sou loop. Eksodus 29:24 en 26 verwys ook na ʼn beweegoffer.

In Eksodus 29:29 word die priesterlike opvolging van Aäron se afstammelinge ingestel. Ter afsluiting moes Aäron en sy seuns “die offer eet waarmee vir hulle versoening gedoen is by hulle wyding en reiniging” (Eks.29:33). Moses moes ook ʼn wierookaltaar bou, wat daaglikse gebed, lofprysing en aanbidding sou simboliseer. Dit sou ook dien as ʼn toonbeeld van Christus as ons Voorbidder. Geen vreemde wierook mag op die altaar gebrand word nie – God gee in Eksodus 30:34 die presiese resep vir die wierook. Die skaarse en duur bestanddele is bewyse dat God tot net die beste geregtig is. Die altaar moes voor die voorhangsel geplaas word. Tussen die altaar en die tent van ontmoeting moes ʼn bronswaskom gesit word vir Aäron en sy seuns om hulle hande en voete in te was. Hierdie waskom sou ʼn voorafskaduwing wees van Jesus Christus wat ons sou skoonwas van die wêreld se onreinhede sodat ons toegang tot God se teenwoordigheid kan hê. As die priesters nie hulself gewas het voor hulle die tent van ontmoeting binnegegaan het nie, sou hulle sterf (Eks. 30:21).

God het vir Moses ʼn resep vir die gewyde salfolie gegee, wat gebruik moes word om die tent van ontmoeting, die ark van die getuienis, die tafel en al sy toebehore, die kandelaar en al sy toebehore, die wierookaltaar, die brandofferaltaar en ook die waskom te salf. God sê toe: “dan sal dit besonder gewyd wees” (Eks. 30:29). Die Ou Vertaling sê: “Elkeen wat aan hulle raak, word heilig”. Hierdie salfolie is ʼn tipe van die Heilige Gees wat die mens voorberei vir sy diensplig en ook deel van die bediening vorm.

No comments yet

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: