Skip to content

Niks verander die roep van God op jou lewe nie!

March 15, 2011

Die Here sê dat Hy weet watter gedagtes Hy aangaande jou dink, gedagtes van voorspoed en nie van teenspoed nie; gedagtes van vrede en nie van onheil nie om vir jou ʼn hoopvolle toekoms te gee.

Hoe weet jy die dinge wat jy weet? Ons lewe ons lewens volgens die kennis wat ons so deur die jare opgebou het. Elke ding wat jy in hierdie lewe doen, doen jy omdat jy ʼn sekere kennis oor die saak het. Iemand het vir jou gesê dat mens maak sus en só . . . en daarom maak jy maar sus en só. Vandag wil ek jou uitdaag en vra of daardie kennis waarvolgens jy jou lewe leef, op die Woord van God gebaseer is?
Adam en Eva het elke middag saam met die Here in die Tuin gaan wandel en vir Hom vertel wat hulle alles die dag gedoen het. Dit was nie ʼn religieuse afspraak nie, dit was ʼn groep vriende wat saam gaan stap het en mekaar se geselskap geniet het. Hulle kon nie wag om Hom te sien nie; hulle kon nie wag om in Sy teenwoordigheid te wees nie!

My begeerte is dat jou verhouding met die Here van so ʼn aard sal wees dat jy graag tyd in jou dag sal maak om kwaliteit tyd saam met Hom te spandeer. Elke dag, so net voor sononder, gaan stap ek so bietjie rondom my huis om die dag saam met die Here af te sluit. Jy hoef nie vasgevang te word in die reël dat jy moet in die oggend tyd saam met die Here spandeer want anders gaan jy die bus mis nie. Jy kan in die middag of in die aand as jy by die huis kom om die blok gaan stap of iewers in jou tuin onder ʼn boom gaan sit en bietjie met die Here gesels. Dís die plek waar ek glo ons almal se verhouding met die Here moet wees.

Voor die sondeval was dit glad nie vir Adam en Eva ʼn probleem om naak rond te loop nie omdat hulle nie geweet het dat hulle naak is nie. Maar in die volgende hoofstuk het hulle hulself met vyeblare bedek en vir die Here weggekruip sodat Hy hulle nie sal kry nie en die Here het vir hulle gevra: “Wie het julle te kenne gegee dat julle naak is?” Die klem hier is ‘wie’. Wie het vir hulle gesê dat hulle naak is? Natuurlik was dit die slang wat vir hulle die verkeerde inligting gevoer het en hulle het dit heelhartig geglo.

Daar is vandag nog mense wat vir die Here wegkruip omdat hulle skaam is vir die sonde in hul lewens. Miskien is jy een van hulle . . . Jy kruip weg en wil nie regtig veel met die Here iets te doen hê nie . . . jy gaan kerk toe en bid so nou en dan om jou gewete te sus, maar jy het ʼn godsdienstige verhouding met die Here. Jy sien nie elke dag daarna uit om saam met Hom tyd te spandeer en jou hele lewe aan Hom te wy nie. Is jou verhouding met die Here op die plek waar dit moet wees, of kruip jy ook vir Hom weg omdat jy nie eintlik wil hê dat Hy jou moet sien soos wat jy is nie?

Ons glo partykeer so baie leuens oor onsself omdat ons na die verkeerde dinge en die verkeerde mense luister. Jy glo dalk ʼn klomp onwaarhede oor jouself omdat iemand eenkeer iets in onkunde gesê het en jy dit geglo het. En jy leef jou lewe asof dit die reine waarheid is! As jy vandag glo dat jy nie goed genoeg is nie, wil ek vir jou vra, wie het vir jou gesê dat jy nie goed genoeg is nie?

Ek het eendag vir ʼn skoolseun gevra wie het vir hom gesê dat hy nie kan wiskunde doen nie? Hy het dalk eenkeer met wiskunde gesukkel en daar was niemand wat dit vir hom reg kon verduidelik nie en hy het self dalk die afleiding gemaak dat hy nie daartoe in staat is nie. Dalk het ʼn onderwyser of ʼn ouer of vriende hom te kenne gegee dat hy te dom is vir wiskunde. Vir al wat hy weet is die Here se plan vir sy lewe dat hy eendag ʼn ingenieur sal wees, maar hy vat nou wieletjie-wiskunde omdat hy ʼn leuen oor homself glo. Daar is niks in hierdie lewe – goed of sleg – wat die roeping van God op jou lewe kan verander nie. Geen mens se opinie kan God se opinie oorskry nie.

Ek het ʼn spraakprobleem gehad toe ek op skool was en almal het vir my gesê dat ek nooit ʼn predikant sal kan word nie. Gelukkig het ek hulle nie geglo nie! Gelukkig het ek geweet dat mense se opinie oor my nie God se roeping op my lewe verander nie!

Wie het vir jou te kenne gegee dat jy nie dit of dat kan doen nie? Dis belangrik om te weet wat die Here se opinie van jou is. Dis belangrik om te weet wat Hy te kenne gegee het sodat jy kan weet as iemand vir jou iets sê wat nie God se opinie ondersteun nie. God het ook ʼn opinie oor jou – en Sy opinie is die waarheid. Die Here sê dat Hy weet watter gedagtes Hy aangaande jou dink, gedagtes van voorspoed en nie van teenspoed nie; gedagtes van vrede en nie van onheil nie om vir jou ʼn hoopvolle toekoms te gee. Dis die vers wat ek teen my spieël geplak het toe mense vir my gesê het dat ek nooit ʼn prediker sal kan word nie! Ek het gekies om nie die opinie van mense te glo nie, maar die opinie van my God!

Mense het dalk goed vir jou gesê wat gemaak het dat jy ʼn tien meter muur om jou gebou het en nou bly jy maar daar binne. Wel God het vir jou ʼn tien-pond hamer gegee om daai muur af te breek en uit te gaan en die hoopvolle toekoms wat die Here vir jou het in beslag te neem!

Mense het dalk ook al vir jou gesê dat jy nie mooi, slim, maer of ryk genoeg is om die roeping wat op jou lewe is te vervul nie. Jy gaan onvermydelik jou lewe leef volgens die dinge wat jy gehoor het – jy moet net besluit wie jy gaan kies om te glo! Die roeping op jou lewe sal nooit verander nie – al sê mense dat jy nie het wat nodig is om dit te bereik nie. Niemand kan die plan wat God vir jou het, verander nie! Nie die regering, jou ouers, jou werk of die petrolprys nie! As jy verder lees in Jeremia dan sê dit dat as jy die Here aanroep en tot Hom bid, sal Hy na jou luister. As jou na Hom met jou hele hart soek, sal jy Hom vind!

Maar wat is die gedagtes wat die Here oor jou koester? Wel jy kan vir ʼn begin by Psalm 139:14 begin wat sê dat jy vreeslik wonderbaar is . . . en jou siel weet dit al te goed! Die Here het jou kunstig geweeg! Soek na die Here met jou hele hart; soek na die drome wat Hy vir jou droom. Vra die Here vandag om jou te kenne te gee wat Hy vir jou beplan het en wie Hy sê jy is!

No comments yet

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: