Skip to content

Gister is verby. Vandag is hier.

May 11, 2011

deur Gary Kieswetter

Jy moet altyd weet wanneer ‘n seisoen in jou lewe tot ‘n einde gekom het en nie daarop aandring om langer te bly as wat bestem is nie.

Elkeen van ons kyk na die lewe op ‘n sekere manier. Party sien die lewe as ‘n klomp toevallige goed wat met hulle gebeur. Ander sien weer die lewe as ‘n plek waar hulle vasgedruk en vasgekeer word. Ander dink weer die lewe is iets wat eers later sal gebeur – hulle moet nou net eers kop bo water probeer hou!

Soos ons die lewe sien, só leef ons. Dit is ook só dat hoe ons die lewe sien, is hoe ons God sien. As jy Hebreërs 12 lees, dan sien jy dat die lewe eintlik ʼn wedloop is . . . of eerder ‘n rat race vir party van ons! Die Hebreërs-skrywer is besig om die gelowiges te bemoedig om anders na die lewe te kyk en ook om anders na God te begin kyk.

As jy na die lewe kyk as ‘n wedloop, moet jy ontslae raak van die dinge wat jou kan verhoed om vorentoe te beweeg en tweedens moet jy vergeet van wat agter jou is. Nou die belangrike punt wat ek wil maak is dat dit baie belangrik is om sekere dinge in jou lewe af te sluit as jy hierdie wedloop suksesvol wil voltooi.

Ongelukkig steek baie van ons in die verlede vas en ons kan sekere dinge net nie laat gaan nie. God sê in Jesaja 43:18 dat ons nie moet dink aan die vorige dinge nie, en nie moet ag slaan op wat vroeër gebeur het nie. Die Here is besig om iets nuuts in ons lewens te doen, maar ons kom dit partykeer nie agter nie omdat ons verbete vasklou aan die dinge wat verby is.

Dis soms moeilik vir ons om die oorgang te maak van die oue na die nuwe. Dis soos wanneer jy klaarmaak met die laerskool en aanbeweeg hoërskool toe. Jy is net mooi gewoond aan hoe dinge en sisteme werk en jy is gemaklik met jouself, vriende en onderwysers – en nou gaan alles verander.

Die keuse is eenvoudig: óf ons klou vas aan die verlede, óf ons begin dinge op ‘n nuwe manier sien en doen. Dis soos om met ‘n gesin te begin en skielik is die dae van laatslaap en tyd vir jouself hê daarmee heen. Daar is ‘n klomp goed waarvoor jy moet koebaai sê as jy in ‘n volgende tydvak van jou lewe wil inbeweeg. Maar as jy dit kan doen, kan jy met sekerheid oorbeweeg na ‘n nuwe lewe waarnatoe God jou uitnooi het.

Ek sien hierdie oorgangsfase amper soos om donkerkamertjie in ‘n vreemde huis te speel. Terwyl die lig aan is, kan jy presies sien waar almal is en hoe die vertrek lyk en waar al die meubels staan. Jy het ‘n duidelike prentjie van wat jy kan verwag as die lig afgaan. Maar wanneer die lig afgeskakel word, moet jy gaan wegkruipplek soek in ‘n donker, lang gang waar alles vreemd en onbekend is. Dit kan ‘n vreesaanjaende belewenis wees as jy tien jaar oud is en nog boonop bang vir die donker is!

Vir ons grootmense is dinge nie juis anders nie, ons is ook bang vir die onbekende. Dis dalk nou nie ‘n fisiese donker gang waar ons wegkruipertjie in speel nie, maar wel ‘n donker gang genaamd, verandering. Dit is daardie tussen-in-stadium waar jy die bekende verlaat en oorbeweeg na die nuwe, en onbekende. Dis die stadium wat dit vir jou voel asof jy tussen die boom en die bas is.

Baiekeer in hierdie tydperk ervaar jy twee sterk emosies – jy is hartseer dat die ou dinge verby is, maar jy is tog opgewonde oor die nuwe dinge wat voor jou lê.

In hierdie oorganstydperk beweeg jy vanaf ‘n plek waar jy alles geken het na ‘n plek waar daar chaos is en waar dinge glad nie meer is soos wat dit voorheen was nie. Dis vir ons almal ‘n baie onsekere tyd; dis ‘n tyd waar jy eintlik glad nie meer in beheer is nie. Baie keer voel dit vir jou of jy net uit hierdie plek wil ontsnap en so vinnig as moontlik na die nuwe fase toe wil aanbeweeg omdat jy die onsekerheid haat.

Maar hierdie oorgangstydperk is eintlik ‘n baie belangrike tydperk in jou lewe. Partykeer plaas die Here jou met opset in hierdie onsekere plek in jou lewe sodat Hy met jou kan werk. Dis die plek waar jy soos ‘n leë bladsy is, en God kan nuwe woorde daar vir jou kom neerskryf.

Dis die donker gang waarin jy staan en al wat jy kan doen is om stil te staan en te luister waarheen Hy jou roep. . . moet jy by die trappe afgaan of moet jy na ‘n ander kamer beweeg. . . ? Die voordeel om deur hierdie spasie te gaan, is dat jy definitief groei gaan ervaar. Jy gaan dinge vanuit ‘n nuwe perspektief sien en jou prioriteite analiseer.

Maar hoe beland jy in hierdie spasie? Hoe kom jy opsetlik in hierdie gang? Daar is verkillende maniere hoe jy jouself in hierdie spasie kan indwing. Party mense gaan bly vir ‘n tydperk ver weg van die samelewing of beskawing. Ander gee weer hul besittings en geld op en gaan soek ‘n diep geestelik ervaring in ‘n vreemde land. Baie mense gaan op pelgrimstogte of neem ‘n Sabbatsjaar om in hierdie spasie in te kom.

Een groep studente wat hulself intentional living noem, het hierdie doelbewuste leefstyl ‘n werklikheid gemaak deur saam in ‘n huis in te trek en iets op te gee wat die lewe vir hom bietjie moeiliker gemaak het. Een het sy kar verkoop en net sy fiets gebruik om te kom waar hy wou wees, die ander een het besluit om net te loop en ‘n ander een het sekere kosse heeltemal opgegee. Hoekom sal iemand so iets wil doen? Mens se eerste gedagtes is dat hulle nie regdenkend is nie. Maar dis glad nie die geval nie, hulle het net agtergekom dat as hulle dit doen, dan plaas hulle hulself doelbewus in ‘n sekere spasie waar God op ‘n dieper manier met hulle kan werk. Partykeer leef ons net te vinnig en moet ons iets doen om die pas bietjie te laat verminder. Party van ons moet die lewe ‘n bietjie stadiger vat! Soms veroorsaak hierdie onsettende pas waarteen ons leef dat ons nie kan hoor wat die Here vir ons wil sê nie. En eers wanneer dit swaar gaan of wanneer jy seer het, dan gaan jy na hierdie plek in tyd waar alles om jou stil is en die Here ‘n spreekbeurt kan kry.

Jy kan dus doelbewus of heel per toeval in hierdie spasie beland. Gedurende jou stilte tyd kan jy bietjie van hierdie ervaring beleef wanneer jy alles vir eers eenkant toe skuif en tyd maak vir die Here om op ‘n dieper manier te werk.

Maar ons kan nie vir ewig in hierdie onsekere plek wees nie. Iewers moet ons uitbeweeg en aanbeweeg na die nuwe tydperk. Dit kan gebeur dat mens vasgevang word in hierdie spasie en nooit daaruit kom nie en dan word dit ‘n tronk wat keer dat jy aanbeweeg in die lewe. Dit gebeur wanneer jy nie wil klaarmaak met die dinge wat nie vir die volgende tydvlak in jou lewe bestem is nie.

As jy vasgevang voel in ‘n sekere area van jou lewe, is dit dalk nodig om ondersoek te gaan instel om te kyk of daar nie dalk iets is waarmee jy al lankal mee moes klaargemaak het, maar nooit het nie. Miskien moet jy klaarmaak met die prentjie wat jy van God het. Miskien klou jy nog vas aan die herinneringe van ‘n verhouding wat jare lank al verby is en dit raak vir jou ‘n tronk waaruit jy nie kan kom nie. Elke keer as jy in ‘n nuwe verhouding wil ingaan, kan jy nie want jy het nog nie emosioneel van daardie persoon en verhouding afgesluit nie.

Miskien moet jy vir party drome waaraan jy vasklou begin koebaai sê. Ek het eens op ‘n tyd ‘n man in sy laat veertigs ontmoet wie se lewensdroom dit was om vir die Springbokke rugby te speel. Hy het sy bes gegee en het net-net nie span gehaal nie. Dit het sy hele lewe lank by hom gespook en hy kon nie oor die feit kom dat hy nooit sy lewens-ideaal gaan bereik nie. Dit het sy hele gemoed beïnvloed en hy het met hierdie verlange in sy hart geloop na ‘n droom wat sy vervaldatum bereik het.

Toe dit duidelik was dat hy nie sy lewensdroom om ‘n Springbokrugbyspeler te word gaan verwesenlik nie, het hy nooit dit afgesluit en aanbeweeg in die lewe nie. Hy was te bang om deur die donker gang na die volgende lewensfase te beweeg. Vir vyf en twintig jaar lank was hy ‘n gevangene van sy onvervulde drome omdat hy dit nie kon laat gaan en sy nuwe lewe met beide hande aangryp nie.
Wat moet jy afsluit? Wat het vir jou ‘n tronk in jou lewe geword? Elkeen van ons word een of ander tyd uitgenooi na ‘n nuwe lewe toe. En jy kan of kies om voluit vorentoe te gaan of vas te klou aan die verlede.

Jy moet altyd weet wanneer ‘n seisoen in jou lewe tot ‘n einde gekom het en nie daarop aandring om langer te bly as wat bestem is nie. Deur aan te dring om langer te bly, mis jy uit op die vreugde en genietinge wat die volgende fase vir jou inhou. Dit is nodig om die herinneringe van ‘n lewe wat verby is te laat gaan. Jy kan jou hele lewe mors deur te wonder hoekom iets gebeur of nie gebeur het nie. Jy kan vir jouself sê dat jy nie ‘n volgende stap in jou lewe sal neem, voordat jy nie antwoorde het hoekom iets, wat eens ‘n pilaar in jou lewens was, in duie gestort het nie.

Niemand van ons kan in die hede en die verlede op eenslag leef nie. Nie eers wanneer ons probeer om te verstaan hoekom sekere goed met ons gebeur het nie. Wat in die verlede is, kan nooit weer terugkeer nie. Ons kan nooit weer kinders of tieners wees wanneer ons eers volwasse is nie. Ons kan nooit weer jonk wees as ons eers oud is nie. Jy herleef dalk dag en nag ‘n verhouding met iemand wat weg is en wat nie van plan is om ooit weer terug te kom nie. Al wat jy kan doen is om te aanvaar dat daardie tyd verby is en dit af te sluit voor jy met ‘n nuwe hoofstuk begin.

Sê vir jouself dat wat verby is, is verby. Herinner jouself dat daar ‘n tyd in jou lewe was wat jy sonder daardie iets of iemand kon leef, en jy kan dit weer doen. Sluit die deur. Maak toe die boek. Maak die huis skoon en vee uit al die stof en die roes. Hou op om te wees wie jy was en verander in wie jy veronderstel is om te wees, selfs al beteken dit dat jy vir ‘n rukkie moet stop en jou vrese in die oë staar.

Onthou dat jy besig is met die wedloop van die lewe en eendag wil jy tog oor die wenstreep hardloop. Jy kan net met vrymoedigheid hierdie wedloop voltooi as jy vergeet het van dit wat agter jou is en jou uitstrek na dit wat voor jou is. As jy by daardie eindstreep kom, gaan jy weer met vrymoedigheid oorstap na die ewige lewe wat voor jou is. Toe Paulus aan die einde van sy lewe gekom het, het hy teruggekyk oor sy lewe en was hy gereed om te sterf.

Hy gebruik die metafoor dat die einde van sy lewe is soos wanneer ‘n boot losgemaak word sodat dit uit die hawe kan beweeg om op die oop see te vaar. Paulus was gereed om dood te gaan omdat hy die wedloop voltooi het en nie in sy verlede vasgehaak het nie. As jy hierdie jaar nog tot sterwe kom, sal dit okei wees? Ja, daar is heel moontlik nog ‘n klomp goed wat jy nog sou wou gedoen het, maar sal dit okei wees?

Die belangrikste ding wat jy van hierdie hele wedloop moet onthou, is dat jy op Jesus moet fokus. Hy is die begin en die voleinder van jou geloof. Wanneer jy jou oë gevestig op Jesus hou, sal jy nie geestelik moeg raak nie, en jy sal die wedloop suksesvol voltooi!

One Comment leave one →
  1. Theuns en Elda Lubbe permalink
    May 11, 2011 9:45 pm

    Dankie my ou Vriend vir Manna. Ons is nie soos die Israeliete nie, ons Lubbes word nie moeg vir die Manna nie. Ek fokus op die nuwe rondte in my lewe.

    Hier uit New Zealand waardeer ons die Woord. Die Woord van God het nou al so ver Oos gegaan as wat moontlik is.

    Dankie dat ons met geloof en vertroue die wedloop kan hardloop, omdat ons weet wat die prys aan die einde is. Ons hou ons oe op Jesus Christus, dit verseker n oorwinnings lewe in New Zealand. Hy is die begin en voleinder van Sy Woord.

    Groete en Seen

    Theuns en Elda (Voorheen uit Heidelberg)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: