Skip to content

Ja, jy is perfek!

May 11, 2011

deur Riaan Lombard

Jy is dalk nie in jou eie of ander se oë perfek nie, maar jy is perfek in God se oë omdat Hy na jou kyk deur die lewe van Sy Seun.

Wanneer iemand waarlik by die Here uitgekom het, is dit onkeerbaar dat mens ‘n verskil in daardie persoon se lewe sal sien. Die rede daarvoor is dat jy ‘n nuwe skepsel word wanneer jy jou hart vir die Here gee – die ou dinge gaan verby en alles word nuut!

Ons almal het God se genade nodig omdat ons almal gesondig het. Nie een van ons is ‘n uitsondering op die reël of het nie God se genade nodig nie. Almal van ons het desperaat ‘n nuwe lewe nodig want daar sal eendag ‘n oordeelsdag wees. ‘n Dag wanneer ons voor God moet staan en rekenskap gee van ons lewe. Ons wat ‘n nuwe lewe in Christus ontvang het deur Hom die Here van ons lewens te maak, hoef nie daardie dag te vrees nie. Omdat ons die sondige natuur waarmee ons gebore was neergelê het, het ons ‘n nuwe natuur uit genade ontvang! Ons is dus vrygespreek van enige oordeel of veroordeling en hoef ons glad nie te vrees nie.

Jesus Christus was volmaak gewees, sonder sonde en sonder gebrek. Hy het ‘n perfekte lewe voor God op aarde kom leef en toe daardie lewe vir ons kom gee deur aan ‘n kruis te sterf sodat ons almal deel kan hê aan die beloning. Jesus was ‘n gewone mens net soos ek en jy – maar tog was Hy sonder sonde. Jesus Christus het Sy lewe vir jou neergelê omdat Hy geweet het dat jy nie God sou kon behaag sonder Hom nie. Hy het ook Sy lewe neergelê vir die ou wat langs jou bly en die ou by die werk van wie jy niks hou nie.

Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sou gaan nie, maar die ewige lewe sal hê! Hierdie dood waarvan Hy ons gered het, is die ewige dood wat geen einde het nie en wat ook die ewige hel is. Elke liewe mens wat ooit bestaan het, het die geleentheid om die ewige lewe te bekom wat deur Christus beskikbaar gestel is. Geen mens is uitgesluit van die redding en die genade van God nie. Enige mens wat gló en met sy tong bely dat Jesus die seun van God is, sal gered word.

Een mens het die sonde in die wêreld ingebring – sy naam was Adam. En toe het een mens die genade in die wêreld ingebring en Sy naam is Jesus Christus. Met ander woorde een mens het sonde in die wêreld ingebring en deur een offer het God dit wat die een mens verkeerd gedoen het in almal se lewens kom herstel.

Volgens Hebreërs 10:14 het Jesus, deur Homself te offer, almal vervolmaak wat in Hom glo. Hierdie skrif sê eintlik dat Jesus se volmaakte offer het jou volmaak gemaak. Jy is dalk nie perfek in jou eie oë nie, jy is dalk nie perfek in ander mense se oë nie, maar jy is perfek in God se oë omdat Hy na jou kyk deur die lewe van Sy Seun. Jy is perfek vir God . . . jou geloof in Christus het jou perfek gemaak!

Dis vreemd hoe ‘n mens se uitkyk op die lewe verander wanneer jy nie meer mense probeer tevrede stel nie, maar vir God. Jou lewensuitkyk gaan nog meer verander wanneer jy agterkom dat daar nie veel is wat jy kan doen om God tevrede te stel nie, want nie eers jou beste werke is goed genoeg nie. Jy stel wel God tevrede deur jou geloof te beoefen want die Bybel sê dat geloof behaag God. Jy beoefen jou geloof deur God se Woord met jou hele hart aan te neem en jou lewe daarvolgens in te rig.

Jy sal al hoe meer besef dat dit nie so moeilik is om ʼn perfekte lewe te leef nie, want perfeksie leef klaar in jou. As jy op ‘n plek in jou lewe gekom het waar jy besef het dat jy ‘n verlosser nodig het en jy het reeds Jesus in jou hart ingenooi, dan het jy in daardie selfde oomblik perfeksie in jou lewe ingenooi. Hierdie perfeksie wil-wil in jou lewe manifesteer, maar die probleem is ons verstaan nie altyd hoe dit werk nie. Die wêreld is vinnig om ons op al ons tekortkominge te wys en ons te laat voel dat ons nooit perfek sal wees nie. Mense vergeet ook nie sommer nie en hulle sal altyd jou verlede teen jou gebruik en jou herinner aan die persoon wie jy eens was voordat jy tot geloof in Christus gekom het. Dan is dit partykeer moeilik om te onthou dat dit mense is wat ons so behandel en nie God nie.

Jy is nie perfek omdat jy alles 100% reg doen nie, want ons almal maak nog foute. Maar, wanneer God na jou kyk, sien Hy die lewe van Jesus in jou. Jesus, wat sonder sonde is, lééf in jou. Jy het toegang tot daardie lewe omdat jy deel geword het van Sy natuur. Dis amper te goed om waar te wees! Maar dis die waarheid – in jou is ʼn lewe sonder sonde.

Wat Jesus aan die kruis gedoen het vir jou en my is die perfekte teëgif vir die effek van sonde in ons lewens. Maar wat behels hierdie nuwe lewe wat ons in Christus ontvang het? ‘n Deel van die antwoord lê in Jesaja 53:4 wat sê dat Hy ons krankhede op Hom geneem het, en ons smarte vir ons gedra het. Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, en ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom en deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

Hierdie vers som die redes op hoekom Jesus vir ons aan die kruis gesterf het. Hy het in die eerste plek ons krankhede op Hom geneem. Hy het al ons fisiese siektes op Hom geneem – enige siekte of liggaamlike gebrek waaraan jy kan dink het Hy op Hom geneem.

Tweedens het Hy al die dinge wat ons emosioneel seergemaak het, kom dra. Van die diepste seer binne in jou omdat jy dalk nooit die nodige liefde van jou pa gekry het wat jy nodig gehad het nie, tot die seer wat aan jou kom vreet het toe jy en jou man geskei het. Selfs die intense seer toe jou kind gesterf het, het Hy op Hom geneem. Hy het aan die kruis kom voorsiening maak vir al daardie seer!

Jesus moes seerkry om jou te verlos van jou seerkry – of dit nou emosioneel of fisies is. Jesus het geweet dat Hy aarde toe kom met een doel – om wreed aan ‘n kruis te sterf. Daarom het Hy in die Tuin van Getsemane gebid dat die lydingsbeker by Hom verbygaan sal gaan en het Hy bloed begin sweet. Hy het geweet watse pyn, lyding en vernedering vir Hom wag – maar tog toe Hy dit opweeg teen die verlossing wat dit vir my en jou sou bring, het Hy by Sy keuse volstaan. Hy het gekies om deur daardie intense marteling, stres, angs, beklemming en benoudheid te gaan want Hy wou jou ‘n uitweg gee om vry te kom van alles wat besig is om jou te vernietig. Jesus het nie verdien om so gemartel te word nie. Hy was onskuldig, vlekkeloos en sonder enige skuld of sonde. Maar die prys vir die mensdom se sondes moes vergeld word en Hy sou eerder dat Hy die prys betaal as wat jy die prys betaal. Dit wat aan Hom gedoen was, was wat na die mensdom gemik was. Jesus was die enigste mens wat die gewig van die hele mensdom se sonde, skuld en siekte kon dra. Hy was die enigste een wie se lewe reg was voor God. Hy was die enigste een wat vir ons vandag die ewige lewe kon bring.

Nie een van ons kan bekostig om voor God te staan met ons ou lewe nie. Jy moet voor God gaan staan as ‘n nuwe skepsel in Christus. Jesus het ‘n gruwel dood aan die kruis gesterf om jou die kans te gee om jou lewe reg te maak. Moenie uitstel tot môre nie, môre kan dalk te laat wees. Moet ook nie wag totdat jy voel jy goed genoeg is om God se genade te ontvang nie. Moenie eers self jou eie lewe probeer uitsorteer voor jy na God toe gaan met jou ou, vuil lewe nie. ‘n Nuwe lewe in Christus is nou, vandag, op hierdie oomblik tot jou beskikking. Al wat jy hoef te doen om dit te kry is om te sê: “Ja, Jesus!” || M

No comments yet

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: