Skip to content

Wat staan in die pad van jou drome?

May 11, 2011


deur Dr. Leon Oosthuizen

Dis deursettingsvermoë en volharding wat drome laat waar word

Ek weet nie of jy al die merkwaardige verhaal van Mary Groda gehoor het nie? Dit klink amper asof dit nie waar kan wees nie! Mary het nooit as ‘n kind leer lees en skryf nie. Eksperts het haar as verstandelik vertraag beskryf. Toe sy ‘n tiener was, het mense haar afgemaak as iemand wat nooit enige iets sal bereik nie en is sy verbeteringskool toe gestuur.

Daar was sy uitgedaag om te leer en te groei. Sy het tot sestien uur per dag aan haar studies spandeer en sy het haar hoërskool-diploma met lof verwerf.

Na skool het die ongeluk haar getref – sy het ‘n buite-egtelike kind verwag! Twee jaar later het haar tweede swangerskap ‘n beroerte-aanval veroorsaak wat meegebring het dat sy al haar lees- en skryfvermoëns verloor het. Al haar harde werk was tot niet gemaak! Sy het haarself boonop in ‘n finansiële krisis bevind en die welsyn moes uithelp. Om te kon oorleef, het sy sewe kinders in pleegsorg geneem. Dit was gedurende hierdie tyd dat sy by ‘n kollege begin klasdraf het. Nadat sy sekere studies voltooi het, is sy by die Albany Medical School aanvaar om vir mediese dokter te studeer.

In die lente van 1984 in die Amerikaanse staat Oregon het Mary Groda met haar akademiese toga die verhoog opgestap om haar graad te ontvang! Ek dink nie iemand kon begryp watse absolute gevoel van oorwinning sy op daardie oomblik moes ervaar het nie. Sy het haar doel bereik, al was alles teen haar. Sy het gewaag om die onmoontlike te droom!

Die een eienskap wat Mary bo aan die leer van sukses gebring het was haar deursettingsvermoë. Hoe baiekeer vermaan God se Woord ons nie om aan te hou sonder opgee nie, Hebreërs 12:1 – “…laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.”

Dis deursettingsvermoë en volharding wat drome laat waar word. Die vyand bring hindernisse oor ons pad om te verhoed dat ons drome bewaarheid word. In Suid-Afrika is daar baie sulke struikelblokke naamlik werkloosheid, HIV/VIGS, Uitkomsgebaseerde Onderrig, misdaad, geweld, korrupsie en die lys gaan aan.

Die vraag is: Wat staan in die pad van jóú drome? En kan jy enige iets daaraan doen? Hindernisse vernietig nie net drome nie, maar kan maklik die lewe in ‘n sinlose geploeter verander. En wanneer ons eers ons sin in die lewe verloor het, is ons energie en motivering gewoonlik ook daarmee heen.

Jou deursettingsvermoë lê nie in jou eie vermoë om uit te hou nie want ons almal is swak en maak dikwels foute. Dit lê ook nie by jou familie of vriendskappe nie aangesien mense sterf en vriendskappe dood loop. Jou deursettingsvermoë lê in jou hoop in God . . . Neem maar net vir Josef as voorbeeld. Hy het bly glo dat God vir hom ‘n doel het en dat hy net moet vasbyt en deurdruk.

As Christene het ons nog meer rede om vas te byt en aan te hou omdat ons hoop in Christus se reddingswerk is. Hy het reeds die grootste struikelblok wat daar was oorkom naamlik die ewige dood. Daarom is daar geen hindernis wat te groot is om te oorkom nie; of dit nou iets is wat ons self gedoen het en of dit iets is wat aan ons gedoen is. Ons geloof in Christus is geanker in die feit dat Hy ter wille van ons, deursettingsvermoë gehad het. Soveel só dat Hy met sy eie lewe daarvoor betaal het.

No comments yet

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: