Skip to content

My kragprop is getrek!

May 31, 2011

deur Gary Kieswetter

Ek het nie die krag hiervoor nie! – is dit hoe jý voel? Volgens my is hierdie ʼn onbybelse stelling! Hoekom? Want daar is geen situasie in hierdie lewe waarvoor jy nie die nodige krag het nie, want God het alles wat jy nodig het tot jou beskikking gestel. As jy nie hierdie goddelike krag gebruik nie, gaan die lewe jou maklik onder kry.

In Adam het God die mens die mag oor alles in die Tuin gegee, insluitend die listige ou slang. Die enigste rede hoekom Adam daardie mag verloor het, was omdat hy in God se Woord getwyfel het. Die oomblik wat ons God se Woord begin bevraagteken, verloor ons die krag wat daarin vir ons opgesluit is. Jy maak God se Woord kragteloos in jou lewe wanneer jy dit bevraagteken en dit probeer rasionaliseer.

Moet nooit die krag van God se Woord onderskat wanneer jy dit met jou eie geloof gaan meng nie! God is wakker oor Sy Woord om dit sorgvuldig na te kom. As jy God se Woord glo dan sál dit jou krag, energie en hoop gee! Moenie dink dat jy is nou maar só gemaak en só gelaat staan en dat daar geen salf aan jou te smeer is nie!

Toe die vrou wat vir 12 jaar aan bloedvloei gely het aan Jesus se kleed raak, het daar krag uit Hom gevloei. Daar het honderde mense daardie dag aan Jesus gevat en gestamp, maar daar het nie krag uit Hom uitgegaan nie. Hoekom nie? Omdat hulle nie met geloof aan Hom geraak het nie. Geloof is wat die verskil maak. . . sonder geloof is die Woord van God kragteloos in jou lewe. Jy raak God aan elke keer wanneer jy met geloof die Bybel lees en elke keer wanneer jy bid en Sy Naam bely.

Die beste gebed wat jy kan bid, is om Woord te bid. Die beste manier om jou gedagtes te vernuwe, is om die Woord te bedink. God se Woord het die krag en die vermoë om die snelweë van jou denke te verander sodat jou gewoontes en jou gedrag sal verander.

God het elke ster opgetel en dit in sy wentelbaan gesit. Dink jy nie dat God kan ook jou lewe optel en dit in die wentelbaan van Sy wil sit nie?

Jy moet wíl glo. Die Bybel is nie ʼn wetenskaplike boek vol feite nie, dis ʼn boek van geloof. As jy enige iets uit die Bybel wil tap, dan moet jy dit onwrikbaar gló. Die vyand vrees ʼn Christen wat die krag van God ontsluit deur die Woord te glo. As jy nie die Woord gaan glo nie, dan gaan dit later vir jou voel asof die prop op jou krag getrek is!

Moet ook nooit die blydskap van die Here as ʼn bron van energie onderskat nie! Nehemia 8:11 sê dat die blydskap van die Here jou beskutting is. Jesus sê dat Hy Sy blydskap vir jou gee en niemand kan dit van jou af wegneem nie – maar jy kan dit gaan staan en weggee! Die oorsprong van jou blydskap moet nie omstandighede of lekker tye wees nie – dit moet God wees want dan kan jy dit nooit verloor nie. Jeremia sê dat hy die Woord van die Here geëet het toe hy dit gekry het en die Woord was vir hom vreugde en vrolikheid van hart! Wanneer Jesus sê dat Hy Sy vreugde vir jou gee, dan kom dit in die vorm van Sy Woord. Wanneer jy in die Woord bly en die Woord in jou bly, dan is jy besig om jou innerlike vreugde te herlaai!

As ʼn gelowige is God se uitnemende krag vir jóú beskikbaar. Die krag van God wat in jou woon, is dieselfde krag wat Christus uit die dood uit opgewek het! Hoe kan jy dan nou nog dink dat jy nie krag het nie? God se goddelike krag het jou reeds alles geskenk wat jy nodig het om voluit te lewe en Hom te dien!

One Comment leave one →
  1. Elaine Vermaak permalink
    June 30, 2011 10:57 am

    Ek het vanoggend opgestaan en gevoel “my kragprop is getrek”. Dankie vir die boodskap.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: