Skip to content

Kinders sonder grense

July 4, 2011

– deur Fanie Bolleurs

Agab en Isébel – Het jy enige idéé wie hulle was? Wel, Agab was die koning van Israel en Isébel was sy vrou gewees. Isébel het egter die sê oor koning Agab gehad – sy het presies vir hom gesê wat hy moet en nie moet doen nie. Sy was ook baie goed daarmee om mense en situasies te manipuleer om haar sin te kry.

In 2 Konings 21:21 het die Here besluit om Koning Agab en Isébel om die lewe te bring as gevolg van die sondige lewe wat hulle gelei het én omdat hulle die hele Israel laat sondig het. Die Bybel sê dat Agab het homself verkoop om te doen wat verkeerd is in die oë van die Here, omdat sy vrou Isébel hom verlei het.

My bekommernis is egter dat tieners dieselfde met hul ouers regkry as wat Isébel met Agab reggekry het! Maar, die teenoorgestelde gebeur ook – ek sien hoeveel gevalle waar ouers weer hul tieners manipuleer om te kry wat hulle wil hê.

Ons het al baie gehoor van Isébel en haar manipulasie-tegnieke. Daarom wil ek eerder bietjie fokus op Agab wat stilgebly het as Isébel iets verkeerd gedoen het. Hy het elke keer letterlik anderkant toe gekyk en haar toegelaat om dinge te doen wat hy geweet het verkeerd is in die oë van die Here.

Hoe baiekeer gebeur dit nie dat ons as ouers sien dat ons kinders iets verkeerd doen, maar ons bly stil en laat hulle hul sin kry omdat ons nie duidelike grense vir hulle stel nie?! Daar is chaos in enige huis waar die kinders kan doen wat hulle wil en die ouers kyk maar net die ander pad.

God het nooit in daardie dae bedoel vir enige koning van Israel se vrou om Sy volk te regeer nie. Só ook het God dit nie bedoel vir kinders om hul ouers te beheer en te regeer nie. As ouers se monde gesnoer is oor wat hul kinders verkeerd doen, kan daar nie anders as moeilikheid opduik nie! Ek sien orals hoe tienerseuns en -meisies uitmekaar val omdat ouers hul monde hou. Ons as ouers moet baie duidelike riglyne, grense, reël en regulasies vir ons kinders neerlê en seker maak dat hulle daarby hou.

Ons as ouers moet eendag vir ons kinders se opvoeding verantwoording doen – ons moet voor God kan staan en kan sê dat ons hulle in die weg van die Here grootgemaak het soos wat Hy ons beveel het. Onthou jy vir Eli? – hy het nie sy seuns vasgevat nie en hulle toegelaat om dinge te doen wat God duidelik verbied het. Hy het nie sy plig as pa nagekom nie en die Here het sy amp en sy roeping by hom weggeneem. Die Here neem jou as ouer se rol baie ernstig op!

Kinders is nie veronderstel om die septer in die huis te swaai en die ouers te vertel wat om te doen nie. Solank as wat jou kind in jou huis bly en afhanklik van jou is, moet hy homself onderwerp aan jou gesag. Kinders wat sonder reëls grootword, voel onveilig.

Moedig ook jou kinders aan om deel te neem aan skoolaktiwiteite; maak seker hulle neem deel aan sport- en kultuuraktiwiteite. Dis partykeer maklik vir kinders om by verkeerde dinge betrokke te raak wanneer hulle nie deel is van enige skoolaktiwiteite nie.

Deel van hierdie dissipline is om nie jou 16-jarige seun toe te laat om rekenaarspeletjies te speel met 18-ouderdomsbeperking nie. Dit beteken ook dat jy nie jou 10-jarige dogter toelaat om flieks te kyk met ‘n 13-ouder-domsbeperking nie.

Ouderdomsbeperkings is daar om jou kind te beskerm – jy moet dieselfde doen deur seker te maak jy laat nie goed toe waarvoor hulle nie volwasse genoeg is nie.

Daar is ook goeie redes hoekom kinders onder 18 nie alkohol mag gebruik nie – jy kan self vir jou kind verduidelik wat daardie redes is.

Dis ook belangrik om te weet dat jy nie jou kinders moet verbied om van jou te verskil nie. Jy moet hom die geleentheid gee om sy saak te stel en vir jou te kan sê hoekom hy met jou verskil. Jy moet met hom kan praat en die kwessie op ‘n volwasse manier bespreek sodat hy kan verstaan hóékom jy sekere reëls neergelê het. Om ‘n verhouding met jou kind te hê waar julle oop en eerlik met mekaar kan kommunikeer, het julle nodig om tyd met mekaar te spandeer. Hoe gereeld gaan jy saam met jou dogter vir ‘n koffie of gesels jy bietjie met jou seun om te hoor wat is die goed wat in sý lewe tel? Jou kinders het nodig om kwaliteit én kwantiteit tyd saam met jou te spandeer om eerlik met jou te kan praat oor dinge wat in hulle lewe saakmaak.

God het jou nie as ouer geroep om cool te wees nie; Hy het jou geroep om jou kinders in Sy wil groot te maak.

Kinders wat sonder grense grootword,voel onseker oor hulleself. Dis jý wat die grense moet vaslê en seker maak dat jou kinders dit nakom. Wanneer jy gesonde riglyne en grense vasstel, kan jy jarelange vriendskap met jou kinders hê wanneer hulle eendag uit die huis is en hul eie kinders het. Jy maak nie jou kinders groot net vir nóú nie, jy maak jou kinders groot vir die toekoms wanneer hulle getroud is en self ook kinders het.

Hier is ‘n paar eienskappe van iemand wat nie toelaat dat iemand anders hom mislei om die verkeerde ding te doen nie:
Hy is lief vir die Here met sy hele hart
Hy kan staan vir dit wat hy glo rég is
Hy weet dat hy het wat dit vat om te wees wie God wil hê hy moet wees
Hy kan sy hart bewerk en bewaak
Hy kan ‘n mentor wees vir ander jongmense
Hy laat ‘n nalatenskap agter
Hy is ‘n gemeenskapsleier
Hy vat verantwoordelikheid vir sy keuses
Hy weet hoe om sy kinders op te voed in die weë van die Here

Jy is dalk ‘n enkel ouer en jy weet nie altyd hoe om dissipline toe te pas of die grense te stel nie. Die Here het vir jou ‘n dubbele salwing gegee om jou kinders in Sy weë op te rig. Dit is traumaties vir jou kinders om in ‘n gebroke gesin groot te word, maar moenie daarvoor probeer opmaak deur dissipline en grense van hulle te ontneem nie. Hulle het júís die sekerheid nodig wat dissipline en grense gee.

Dalk moet jy jou kinders inroep en vir hulle sê dat daar sekere reëls is wat van nóú af geld – verduidelik ook vir hulle hóékom jy die reëls neerlê. Laat hulle besef dat die reëls daar is om hulle te beskerm omdat jy hulle liefhet. Bid en vra vir die Here vir Sy leiding as dit kom by jou kinders se opvoeding en hoe jy elkeen van hulle moet hanteer. Elke kind is anders en moet anders gedissiplineer word.

Onthou dat die Here jou kinders aan jou geleen het en dat Hy jou vertrou om hulle groot te maak as mense wat God met ‘n onverdeelde hart sal liefhê!

No comments yet

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: