Skip to content

Die Onvervalsde melk van die Woord

October 24, 2012

ʼn Paar jaar gelede het ek by ʼn gemeente in Hendrina bedien en terwyl ek daar was, hoor ek hoe ʼn paar boere onder mekaar praat. Die een boer het ʼn baie groot melkboerdery gehad en sy melkkoeie het die hoogste gehalte melk in terme van kwaliteit en kwantiteit gelewer. Hy het een spesifieke koei gehad wat vir maande die hoogste melkproduksie in die land gehad het. Geen ander koei het naby haar gekom nie – almal het oor haar gepraat en wou haar hê!

Een aand word al die koeie soos gewoonlik in die stal ingejaag en dié spesifieke koei was steeks. Een van die arbeiders het sy geduld verloor en haar met ʼn graaf – tussen die enkel en die knie – tot op die been geslaan. Vir die volgende paar weke het die melkproduksie van daardie koei met 30 persent geval. Die melkboer het verduidelik dat melkkoeie so vatbaar vir stres is, dat enige ongerymdheid melkproduksie negatief kan beïnvloed. Ek dink dis waar die Afrikaanse gesegde vandaan kom wat sê jy’t jou melk weggeskrik!

En ek wonder by myself hoeveel Christene het ʼn hou gekry – hetsy deur siekte, teleurstelling of werkloosheid – wat skokgolwe deur hul siel gestuur het en wat die produktiwiteit van hul geestelike lewens gekniehalter het. Ek weet dat toe ons land van regering verander het, het die hele nasie omtrent hul melk weggeskrik!

Met die onlangse ekonomiese resessie, het mense wat ʼn afgod van hul geld gemaak het, ook behoorlik hul melk weggeskrik! Elke keer as die markte val of as daar nog ʼn finansiële ramp of tragedie kom, word hulle onkant betrap en skielik het hulle niks om aan vas te hou en niks om op te staan nie.

Terwyl die boere so ondermekaar praat, het ek ook gehoor hoe een vertel van sy eksperiment om sy koeie se dieet te verander. Skielik het hul melkproduksie geval omdat daar iets anders op die spyskaart was as waaraan hulle gewoond was. Ek het toe by myself gedink dat dieselfde ding met ons Christene gebeur in terme van ons geestelike spys. Daar is vandag soveel boeke op die rak wat handel oor ervarings en belewenisse dat baie Christene glad nie meer dit nodig ag om die Woord van God te lees nie. As jy die geestelike kos wat jy inkry gaan verflou, gaan dit jou geestelike lewe negatief beïnvloed. Ja, al daardie boeke is goed om te lees en dit versterk jou gees en jou siel, maar jy kan dit nie met die Woord van God vervang nie. Daar is nie een boek wat oor die Bybel handel wat dieselfde salwing as die Bybel self het nie. Die oomblik wat jy van jou Bybel-dieet afgaan en jy begin net mense se opinies volg, gaan jy binne ʼn kort tydjie probleme optel. Jy gaan agterkom die voedingswaarde is nie dieselfde nie.

Het jy geweet dat beide mans en vrouens melkkliere het? Dis hoekom ʼn man ook sy melk kan wegskrik! Wanneer ʼn vrou swanger is, word daardie hormoon afgeskei en begin sy melk produseer om gereed te maak vir die babatjie wat op pad is. Geen ander melk-namaaksel is so goed vir ʼn baba soos borsmelk nie. ʼn Baba wat borsmelk drink, lyk sommer soos ʼn pokkel! Geen baba op kunsmatige melk kan soveel vet-voue hê nie! In daardie melk is alles wat daardie kind nodig het om te groei en sterk te word. Al die nodige voedingstowwe en antibiotiese waardes wat hy nodig het, word in sy ma se melk aangetref. Die melk versterk ook sy immuunstelsel om hom teen siektes, virusse en bakterieë te beskerm.

Maar nie net het ʼn man en ʼn vrou ʼn melkklier nie, maar God het ook ʼn melkklier. Hoe kan ek sό iets sê? Maak dit nie ʼn bespotting van God nie? Glad nie. Dit is simbolies van Sy voorsiening. Een van God se name is El-Shaddai – die almagtige God wat meer as genoeg is. In die oorspronklike Hebreeuse-taal beteken hierdie naam veel-borstig. El-Shaddai is dus die almagtige, veel-borstige, voorsienende God wat ryklik in al jou behoeftesvoorsien.

Die Bybel sê vir ons in 1 Johannes dat Jesus na Sy eie mense toe gekom het, en Sy eie mense het Hom nie aanvaar nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het en in Sy Naam glo, het Hy die mag gegee om kinders van God genoem te word. As die Heilige Gees jou oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel en jy aanvaar God as jou verlosser, word jy uit God gebore. Van daardie oomblik af wat jy geestelike weergebore is en ʼn nuwe baba in die gees is, het jy toegang tot El-Shaddai. Die eerste ding wat ʼn kind van God kort as hy wedergebore word, is geestelike melk.

1 Petrus 1:23 sê dat ons uit onverganklike saad gebore is; ons is uit die Woord van God gebore wat tot in alle ewigheid bly. Petrus gaan dan verder aan om te sê dat soos wat ʼn pasgebore baba smag na melk, moet ons smag na suiwer geestelike melk sodat ons kan opgroei en die saligheid verkry. Die ou vertaling sê dat ons moet sterk verlang na die onvervalsde melk van die Woord.

Jy hoef geen baba te oortuig dat hy melk nodig het nie. Selfs as jy na die natuur kyk, sal jy sien dat enige soogdier wat gebore word, dadelik van sy ma begin drink. Ons as Christene moet weer begin hunker na die onvervalsde melk van die Woord! Ons moet weer daarna begin smag! As jy nog geestelik jonk is help dit nie jy probeer al hierdie diep, geestelike goed te verteer nie. Hou by die eenvoudige beginsels van die Woord. Vergeet vir eers om Openbaring of Daniël se profesieë te verstaan en sin daarvan te maak! Geen baba val weg met ʼn stuk steak as sy eerste maaltyd nie!

Dis hoekom sommige Christene nooit ordentlik geestelik ontwikkel nie. Al waaroor hulle praat is die wederkoms en allerhande ander teologiese aspekte wat eintlik niks met hulle geestelike groei te doen het nie. Hou jou besig met die boustene van jou geloof – mediteer op God se voorsiening, barmhartigheid, genade en beskerming. Moenie probeer om geestelik baie meer vooruit te wees as wat jy kan hanteer nie. God het nog nooit enige kerk besoek omdat hulle vreeslike diep openbarings of teologie aangehang het nie. God kom jou besoek wanneer jy honger en dors na Hom en nie omdat jy slim in jou kop is nie. God het nog nooit in die geskiedenis van die wêreld ʼn kerk besoek omdat hulle doktrine reg was nie, maar omdat hulle Sy koninkryk en Sy geregtigheid gesoek het. Voed jouself geestelik met die basiese beginsels van die Woord. Hou gereeld nagmaal – eet Sy vlees en drink Sy bloed.

In Eksodus 3 sê God dat Hy die Israeliete se hulpgeroep gehoor het, en dat Hy hulle uit Egipte sal verlos en hulle laat trek na ʼn land wat oorloop van melk en heuning. Egipte was simbolies van slawerny, sonde en smart. God sê dat Hy hulle sal vrymaak van al hierdie dinge wat hulle vashou en onderkry en Hy sal hulle neem na ʼn plek waar die goeie dinge oorvloedig sal wees. Is dit nie opmerklik dat die Here juis melk en heuning gebruik as simbole vir Sy voorsiening nie? Melk en heuning is die twee dinge wat baie in gemeen het met God se Woord . . .

Hoeveel keer beskryf Dawid nie God se Woord as soeter as heuning nie? Dis opmerklik dat heuning die enigste voedsel is wat nooit kan bederf of sleg raak nie. Dit is die enigste voedsel wat nie ʼn vervaldatum het nie. Geen mens het nodig om preserveermiddels in heuning te sit nie. Netso het geen mens nodig om enige iets by God se Woord te voeg nie!

Ja heuning kan versuiker, maar as jy dit in warm water sit, word dit net weer so vars soos die dag wat die bye dit gemaak het. Wanneer jy ou verse in die Bybel lees en jy is aan die brand vir die Here, sal Hy al daardie ou verse weer soos heuning laat vloei! Het jy geweet dat heuning antibiotiese- en antiseptiese waardes het? Heuning bring genesing. God se Woord bring genesing!
Wat vir my so merkwaardig is, is dat God nie vir die Israeliete gesê het dat Hy hulle omstandighede in Egipte sal verander nie. Nee, Hy het hulle uit Egipte na ʼn heeltemal ander land geneem. Jy moet uit sonde en dood geneem word en in die genade van God begin inbeweeg. Die Bybel sê dat God jou oorgebring het van die koninkryk van die donker na die koninkryk van die lig toe.

Twaalf verspieders is gestuur om hierdie land van melk en heuning te gaan bekyk. Elk van die twaalf stamme van Israel het iemand spesiaal uitgekies om te kyk of dit werklik so is. Al twaalf het teruggekom en gesê dat dit waar is – die land is tot oorlopens toe vrugbaar en alles is presies net soos wat die Here belowe het. Tien van die twaalf verspieders het gesê: “Ja, maar . . .” Elke keer as jy die woordjie “maar” by God se Woord voeg, besoedel jy die heuning en jy maak dit suur. Die Bybel sê dat elke belofte in die Woord van God ja en amen is.

Net Kaleb en Joshua het kans gesien vir die reuse wat hulle in die anderkant ingewag het. Hulle het so gesmag na die melk en heuning dat die reuse hulle nie kon afskrik nie! Hierdie land was ʼn geskenk gewees – God het dit vir hulle gegee omdat hulle Sy kinders was. Maar, hulle moes Hom in alle opsigte gehoorsaam. Die Here sê dat die mens wie gehoorsaam is van die goeie van die land sal eet.

Ons moet die Woord van God eet omdat dit ons geestelik sterk sal maak om kans te sien vir die reuse in ons lewens. As jy nie goed geëet het wanneer jy in ʼn geveg betrokke raak nie, is jou kans op oorwinning maar skraal. Een van die redes hoekom ons as Christene nie meer geestelik oorlog kan voer nie, is omdat ons uitgehonger is vir die melk van God se Woord. Jy moet sterk wees voordat jy gaan veg. Ja die Here het jou die oorwinning belowe, maar jy moet veg met alles wat in jou is.

Onthou dat ons geestelike land van melk en heuning is daar doer ver in die hemel nie; dis nou hier op aarde. Jy gaan geen tekortkominge in die hemel hê nie. Daar gaan niks wees waarvoor jy moet veg nie. Daar is nie siekte, sonde, dood of enige iets slegs nie.

Psalm 34 sê dat ons moet smaak en sien dat God goed is. Die nuwe vertaling sê dat ons moet kom ondervind en self sien hoe goed God is. My begeerte vandag is dat jy weer ʼn smaak vir God se Woord sal ontwikkel; dat jy weer na Sy Woord sal honger en dors. Baiekeer dink ons dat God nie meer met ons praat nie. Dis nie waar nie! Maak net die Bybel oop en begin lees en Hy sal met jou praat! God kan nie met jou praat as jy te besig is om die Bybel te lees nie. Mediteer op God se Woord terwyl jy in die kar ry; bid terwyl jy in die ry by die supermark staan.

Die Here weet ook dat ons nie altyd net op melk kan bly nie, maar dat ons geestelik moet grootword en die vaste spys van Sy Woord moet eet. Ons moet ons geestelike melktande ontgroei sodat ons al dieper en dieper in die waarheid van God se Woord kan delf. Paulus spreek die gemeente aan in Korintiërs en sê vir hulle dat hy met hulle moet praat asof hulle wêreldlinge is omdat daar so baie twis en jaloesie onder hulle is. Dit is dinge wat maak dat ons nooit God se Woord kan verteer nie en sal ons uitgehongerde babas in die gees bly. Twis en jaloesie maak God se Woord in jou hart dood.

Wanneer ons traag is om te leer, sal ons nooit geestelik volwasse raak nie. Mense is traag om te leer wanneer hulle nie meer ʼn aptyt vir die waarheid het nie. Jy raak opgestop en jy dink dat niemand jou iets kan leer nie. Jy het al uitgepluis hoe werk alles presies en jy weet ook tot sommer wanneer die wederkoms is!

Om ʼn Christen te wees gaan nie daaroor om slim te wees nie, maar om die wysheid van God te hê. God kan niks doen met ʼn Christen wat nie ʼn leersame gees het nie. Party van ons was al veronderstel om ander in die eerste beginsels van God se Woord op te lei, maar ons self sukkel nog om dit te verwerk. Ons het vir jare geglo dat die predikant alles weet en ons maar net leke is. Ons almal moet tot die volle gestalte van God kom. Ons moet almal soos Christus doen en praat; ons kan nie vir altyd klein babatjies bly nie, maar moet opgroei en seuns van God word!

No comments yet

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: