Skip to content

Kom uit die tronk

October 21, 2010

Kom uit die tronk – deur Ds Dirkie van der Spuy

Baie mense is van opinie dat ons land se kultuur verander het. Geweld en misdaad het deel van ons kultuur geword. Almal van ons praat elke dag oor die misdaad in die land. Ons almal sukkel op ‘n stadium om nie negatief en depressief daaroor te raak nie. Mense voel onveilig.

Gevolge vir misdadigers

Misdaad raak ons almal baie diep. Maar dis nie net die onskuldige mense wat die gevolge van misdaad dra nie, misdadigers self dra ook die gevolge.

Misdadigers het verskei redes hoekom hulle by misdaad betrokke geraak het. Party pleeg misdaad omdat armoede hulle daartoe dryf. Ander pleeg misdaad omdat hulle dwelmverslawing hulle daartoe dryf. Dit maak nie saak wat die verskoning is nie, dit bly teen God se gebod om misdaad te pleeg. Die Tien Gebooie sê jy mag nie steel nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie valse getuienis lewer nie. Die Bybel sê eer jou vader en jou moeder sodat jy lank mag lewe. Ons moet in liefde leef teenoor ander mense. As die Bybel sê dat iets teen God se wil is, is dit sonde.

Wanneer ‘n mens gesondig het, maak dit nie saak wat jou verskoning is nie. Dit maak nie saak of jy uitgevang is of nie, jy staan skuldig voor God. Vervloek is die mens wat nie alles doen wat in die wet staan nie. God se opinie oor sonde het nie verander nie. Ja, Hy het die sondaar lief, maar Hy haat sonde. Daarom staan daar dat die oordeel van God op sonde rus. Daarom is daar tronke wat misdadigers gevangenis hou. Hulle word met kettings en slotte geboei.

Maar weet jy wat? Dis baie erger om deur God geboei te word. Om eendag in die hel geboei te wees is veel erger as enige aardse tronk. Die loon van die sonde is dood. Ons moet besef dat mense wat sondig, sal gestraf word. Daarom het sonde baie slegte gevolge vir die misdadigers. As gevolg van hulle misdaad, staan hulle skuldig voor God. As misdadigers nie hulle saak voor God gaan reg maak nie, gaan hulle hul straf nie in ‘n mensgemaakte tronk uitdien nie, maar in die ewige hel.

Gevolge vir slagoffers

Wanneer ‘n mens met slagoffers praat, stem hulle almal saam dat hulle woedend is omdat misdadigers hulle privaatheid kom betree het. Hulle raak kwaad omdat misdadigers nie respek het vir ander mense se besittings en lewens nie. Hulle koester wrokke oor die lyding wat die misdaad tot gevolg gehad het.

Wat sê God se Woord hieroor?

Matteus 6:9 – Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.

Die slegste ding wat met slagoffers kan gebeur, is om self geboei te raak as gevolg van haat en onvergewensgesindheid. Die gevaar bestaan dat die slagoffer op die ouend ook in die tronk gaan sit. Ek praat nie nou van fisiese tronk en fisiese boeie nie, maar ‘n geestelike tronk en geestelike boeie. Daar is mense in ons land wat gebind word deur haat, bitterheid en onvergewensgesindheid. Die manier hoe hulle reageer het op ander se sonde, het veroorsaak dat hulle ook sondig.

God sê dat onvergewensgesindheid sonde is. Daarom staan slagoffers net so skuldig voor God as die misdadigers, vanweë die bitterheid in hul harte. Elke keer wanneer jy aan die misdaadvoorval dink, is dit nog ‘n slukkie gif wat jy drink wat jou gees en jou gemoed al hoe meer en meer vergiftig.

Die Onse Vader leer ons om te bid dat dit op die aarde sal wees soos wat dit in die hemel is. Dat die volmaaktheid van die hemel sal deurbreek na die aarde. Laat God se wil sal geskied soos in die hemel so ook op die aarde. Dat mense volgens God se wil sal begin lewe.

Die Onse Vader leer ons ook om vry te spreek. Jesus het aan die kruis gebid: “Vader vergeef hulle want hul weet nie wat hul doen nie.” Die Onse Vader leer ons om te bid, “Vader vergewe my .” Net soos wat ek elke dag moet bid vir my daaglikse brood, moet ek elke dag bid dat my hart skoon sal wees. Dat ek nie vir sonde sal plek maak nie, dat die duiwel nie ‘n vashou plek in my lewe sal kry nie. En daarmee saam moet ek bid: “Vergewe my sonde, soos ek ook die vergewe wat teenoor my gesondig het.”

Hou aan om te vergeef

Verstaan jy hoekom dit so belangrik is dat ons sal kies om te sê: “Here ek wil vry kom uit die tronk.” Die enigste manier hoe ons gaan vrykom is deur vergifnis. Deur mense vry te spreek wat ons verontreg het. Die Bybel sê dat wraak ons nie toe kom nie. Daarom roep die Here ons om mense vry te spreek wat ons te na gekom en verontreg het. Dit kom ons nie toe om te vergeld nie. God sal eendag regverdig oordeel. Ons moet net sorg dat ons harte skoon is en dat daar vrede in ons harte is. Daarom het Jesus gesê dat ons sewentig maal sewe keer moet vergewe. Ons moet elke dag besluit om te vergewe. Ons moet oor en oor die persoon wat ons te na gekom het vergewe, wanneer ons aan hom/haar dink. Elke keer wanneer ons die nuus kyk of die koerant lees wil ons weer begin kwaad raak en haat, en dan moet ons sorg dat ons weer opnuut vergewe. Sewentig maal sewe.

Ons moet elke dag kies om op nuut te vergewe as ons weer gekonfronteer word met flitse uit die verlede. Om te vergewe is ‘n keuse en nie ‘n begeerte nie. Jy gaan nooit lus raak om te vergewe nie. Jy gaan nooit by ‘n punt in jou lewe kom wat jy net een oggend wakker word en lus sal wees om mense ‘n bietjie vry te spreek nie. Jy gaan elke keer teen jou ou natuur moet kies. Jou ou natuur wil vergeld. Dis nie jou taak om te vergeld nie, dis God se taak. Jou taak is om te vergewe, om te doen wat God van jou vra. Ons harte moet nie vol wraak, haat en onvergewensgesindheid wees nie. Dit moet vol vergifnis liefde en vrede wees sodat ons die boodskap van verlossing van sonde in hierdie wêreld kan verkondig sodat mense tot bekering kan kom.

As mense se harte nie gaan verander nie, gaan niks in hierdie land verander nie. Ek en jy moet begin deur ons eie hart te verander. Maak seker dat jou eie hart skoon is, dat jy vrykom in jou eie binneste. Dat jy die kettings wat daar is los sal kry. Dat jy dit wat te swaar vir jou is om te dra na die Kruis toe sal neem en dit daar sal neerlê. Dis ‘n opdrag. Ons gaan moet kies en bly kies om vry te spreek en te vergewe.

Die enigste manier om vry te kom, om uit die tronk te kom is om te vergewe. As jy Jesus wil volg, is dit die pad. Jesus was verontreg en vals beskuldig. Hulle het Hom aangerand en aan ‘n kruis gehang. Jesus het geweet hoe dit voel om gespoeg, geslaan en gevloek te word. En terwyl Hy sterwend aan die kruis hang, bid Hy: “Vergeef hulle.”

Jy kan vandag ‘n keuse maak om te vergewe, want Jesus het aan die kruis ‘n keuse gemaak om te vergewe. Hy was nie lus om te vergewe nie. Hy het eerder gevoel om die hemelse magte op te roep. Maar in die moeilikste oomblik roep Hy vir genade en vergifnis vir mense wat teen Hom gesondig het. Jesus het nie in Sy hart plek gemaak vir haat en woede nie.

Jy verdien nie om vergewe te word nie, nogtans vergewe God jou. Jy het die ewige straf verdien, nogtans het jy genade by God gevind. Hoe kan jy dan wil oordeel en vergeld? Daar is vergifnis vir elkeen wat sy sonde na Jesus toe bring. Jesus wat vir jou gesterf het, het ook uit die dood uit opgestaan.

As jy God se vergifnis vir jou sonde verstaan, sal jy dié vergewe wat teen jou gesondig het. God wil nie hê dat jou gees, siel en liggaam deur onvergewensgesindheid vergiftig moet word nie. Daarom wil Hy hê dat jy moet vryspreek. Dis nie altyd maklik om te vergewe nie. Maar, daar is baie mense wat dit regkry, omdat God ons die krag gee.

Dis die antwoord vir Suid-Afrika. Ons moet weer met mekaar begin praat oor die vergifnis van sonde. Dat ons na mense sal uitreik en sal bid vir hul vergifnis en redding. Dat ons sal begin om in ons eie harte met God reg te maak. Is jy bereid om die Onse Vader te bid? Om te sê: “Vergeef my my skulde, soos ek ook my skuldenaars vergewe.”

Hy het vir al jou sonde aan die kruis gesterf. Hy kan en wil jou skoonmaak en vrymaak. Hy wil jou help om ontslae te raak van onvergewensgesindheid. Hy wil jou help om ander vry te spreek. Elke keer wanneer seer en haat by jou opkom, kyk na die Kruis en kyk vorentoe. As jy begeer om uit die tronk te kom, bid die volgende gebed:

“Vader, ek het ander veroordeel, maar was blind vir my eie sonde. Ek bely dat ek sonde het, ek vra, vergewe my in Jesus Naam. Help my om ook ander vry te spreek. Ek lê die onreg by die Kruis neer. Vergewe my my onvergewensgesindheid en vul my met U vrede en liefde. In Jesus Naam. Amen.”

 

No comments yet

Leave a comment